Ons wit olifant

Groote Kerk, Kaapstad
Groote Kerk, Kaapstad

Deur Johann Theron.

Die Kerk-Staat skeiding word alreeds oor eeue bespreek. Wikipedia wys die “Flushing Remonstrance” van 1657 was ‘n publieke beswaar teen Peter Stuyvesant se Staat van “New Netherland”, wat net een kerk toegelaat het nl. Die NG Kerk. Die gedagte agter een Kerk was onder andere om welsyn te konsolideer. Maar in teenstelling met die een staatsondersteunde kerk het George Washington het al in 1790 die volgende aan ‘n Joodse groepering geskryf: “For happily the Government of the United States, which gives to bigotry no sanction, to persecution no assistance requires only that they who live under its protection should demean themselves as good citizens, in giving it on all occasions their effectual support.” Die implikasie hier is dat meer as een geloof toelaatbaar was solank burgers hulself goed gedra en onderwerp het aan die gesag van die regering.

Meer intellektuele beskouinge was afkomstig van Martin Luther en Thomas Hobbes. Luther was ten gunste van ‘n sekulêre staat terwyl Hobbes ‘n Staatsgeloof ondersteun (soos Engeland se “The Church of England”). Hobbes wys uit dat gelowiges wat nie die Staatvoorskrif aanhang nie as “rabble-rousers” bekend moet staan en vervolg moet word. Washington en Hobbes stem dus ooreen dat mense wat geloof gebruik as kriminele motivering, vervolg kon word.

Die argument raak effens verwarrend as mens agterkom dat Luther en Washington eintlik ook saamstem oor die sekulêre staat. Luther argumenteer dat morele motivering van God afkomstig is terwyl Hobbes dink dit kom vanaf die Staat. Altwee die menere stem egter saam dat sonder hierdie geloofsmotivering almal “rabble-rousers” sal wees. Hulle stem dus altwee vir ‘n Staat-Kerk verhouding in beginsel.

Hierdie verhouding was uniek in die geskiedenis en is moontlik bydraend tot die weghol ekonomiese sukses van die westerse beskawing. Die Kerk-Staat skeiding vereis oorsig wat nie so eenvoudig is nie en opsommend word dit as volg beskryf: “Although both authors do their best to resolve tensions between God and state, their interpretations are fallible to the point where there are suggestions, but no clear bright line between state and religious power; a challenge we have yet to overcome even in contemporary politics.”

In ‘n onlangse artikel op hierdie blad word daar baie duidelik deur die leier van die “Church of England” aangedui dat sy (of dan die Koningin se Kerk), ‘n eksistensiële probleem het. In Suid Afrika is die leierskapsoortuiging ongelukkig nie so duidelik nie.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis is deurspek met hoofsaaklik protestantse geloof waar die eerste NG gemeente al in 1665 onder Jan van Riebeeck gevestig is. ‘n Beskrywing van die NG Kerk word op eenvoudige wyse in Wikipedia as volg uitgespel:

“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (afgekort NG Kerk of NGK) is die oudste Kerk in Suid-Afrika en ‘n lid van die Nederduits Gereformeerde Kerkfamilie, asook die oudste van die Drie Susterkerke. Die NGK het in 2008 1 162 gemeentes gehad in Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe, Zambië, Botswana en Londen geleë. Talle jonger kerke het reeds uit die sendingwerk van die NG Kerk gegroei soos Malawi, Nigerië en Portugal.”

Die NG Kerk se huidige stand onder vandag se kontemporêre politiek, word ewe vriendelik as volg verklaar:

“Weens ‘n algemene afname in die Afrikaner-bevolking van Suid-Afrika en ‘n drasties dalende geboortesyfer, het die lidmaattal van die kerk ook afgeneem van byvoorbeeld sowat 960 000 belydende lidmate en 427 000 dooplidmate in 1990 tot 880 000 belydende lidmate en 248 000 dooplidmate in 2008.”

Dit is redelik duidelik dat die NG Kerk in Suid-Afrika aanvanklik geen of min groei beperkings gehad het nie, terwyl die gelyktydige regeringsvorme en oriëntasies blootgestel was aan drastiese veranderinge oor ~350 jaar, maw die “Staat” was eintlik meesal afwesig. Daar was natuurlike probleme wat groei beinvloed het soos bv die groei van Europese “liberalisme” wat met die tekort aan opgeleide leraars, gelei het tot die vestiging van die Stellenbosch kweekskool in 1859. Die tweede oponthoud was die Kaapse koloniale grense waartydens konsolidering van die Kolonie and Vrystaatse, Transvaalse en ander gemeentes tydelik teruggehou was. Dit het egter onmiddellik verander na die onafhanklikheidswording in 1961/2. Die derde en meer katastrofiese oponthoud het gekom na 1994, toe Kerkgroei tot ‘n einde gekom het.

In teenstelling dat die NG Kerk so ‘n lang ononderbroke groei en geskiedenis had, het politieke of Staatsgroei heelwat stadiger plaasgevind. Die Nasionale Party is eers in 1914 gestig en die Broederbond in 1918. In altwee gevalle was die NG Kerk ‘n basis vir samewerking. Die Staat-Kerk balans was egter totaal aan die kerk se kant. Die NG Kerk het dus ‘n onmisbare rol vervul in die oortuiging dat Afrikaners voorbestem was om Afrika te help en daarom is daar vandag die sterk suspisie dat die NG Kerk “gevra” het vir apartheid. Met ander woorde – nie net apartheid gemotiveer het nie, maar inderdaad dit versoek het. As gevolg van ‘n onvolwasse politieke stelsel kon die redelike mens argumenteer dat die “jong” politici nie werklik hierdie soort versoek sou kon weerstaan nie.

Die geskiedenis wys verder dat Boererepublieke hulself (ten spyte van hulle “volwasse” geloofsvennote) maar net kortstondig regeer het en selfs die Nasionale Party het slegs onafhanklikheid verseker vir ~33 jaar. Na die 1994 demokratisering het SA se regering egter die Staat-Kerk balans aangepas – maar omdat die ANC in wese Marxisties en Agnosties is, het die skaal te veel geswaai. Daarom is daar weer ‘n geloofsbehoefte vir duidelikheid.

Hierdie duidelikheid kan op die Belhar-platform uitgepluis word deurdat Belhar oënskynlik versoening wil nastreef. Die NG Kerk en ander het al vele male die nie-blankes ens om verskoning gevra, maar nog nooit hulle eie getroue lidmate nie. Die NG kerk staan vandag as ‘n wit olifant wat homself eers weer moet bad en soos in die diereryk is modder die enigste seep.

Dit word algemeen erken dat die hoofstroommedia hou van opspraakwekkende nuus en dit is nie regtig snaaks dat heilige koeie sensasioneel kan wees nie. In die Afrikaanse koerante soos Beeld het die joernalis Neels Jackson al heelwat modder begin gooi. As dit nie gaan oor vroue-dominees nie, dan gaan dit oor homoseksuele toelating, en Belhar verskonings en omarmings, en her-vereniging en trane. Die joernalis Pieter Malan moes homself al in die Hof gaan verdedig waar dit blyk die NG Kerk heelwat fondse beskikbaar het vir litigasie. Sy onlangse artikel in die Rapport “Kerksweer bars oop”, vertel hoe dominees mekaar sommer aanvat op Facebook waar die Bybel Media Hoof Ds Danie Mouton glo ‘n paling in ‘n emmer snot sou wees. Maar wat meer van belang is, is die toetrede van die aktuaris Dr Johann “Tokkie” Ernst wat as die Kerk se “Heinrich Himmler” sou optree.

Hierdie modder is nie naastenby genoeg om die NG Kerk skoon te maak nie. Dit sal net lei tot verdere ontvolking en finansiele verpligtinge. Daar moet dus introspeksie plaasvind waarna die Kerk-Staat skeiding vorentoe herbesin word. Die fokus op gemeentes moet versterk en nie-kern werksverskaffing soos bybelproduksie en internasionale aksies moet versag word. As dit nie gedoen word nie, is die NG Kerk in Suid-Afrika gedoem. En as die Kerk-Staat balans nie herstel word nie, is SA gedoem tot ‘n middelmatige toekoms.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.