Tongaat: Gebou sonder goedkeuring stort ineen

Deel op

tongaat2Paramedici van KZN EMS en privaatambulansdienste, personeel van die SAPD en die brandweer was op die toneel nadat konstruksie van ‘n winkelsentrum ineengestort het.

Pogings om mense wat moontlik steeds vermis word in die puin van die Tongaat-winkelsentrum, noord van Durban, is steeds vanoggend aan die gang.

Een van die werkers het aan die Business Day gesê die beton was nie “hard” nie en daarom het die vloer meegegee.

Hulle het deurnag gewerk op soek na werkers wat dalk nog vasgekeer is. Die derde vlak het ineengestort en op werkers op die tweede vlak geval. Dié vlak het daarna ineengestort.

Lede van die polisie se soek- en reddingseenheid tesame met snuffelhonde soek na oorlewendes.

Oudio-toetse is ook gedoen om reaksie te probeer kry van enige vasgekeerdes. Een persoon is dood en dertig beseer toe die gebou wat onder konstruksie is, ingetuimel het.

Twee mense is kritiek, en een van die pasiënte is na Nkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal deur die KZN EBW lugambulans gebring.

Agt mense is ernstig beseer en 18 het ligte beserings opgedoen. Ander is vervoer na Umhlanga-hospitaal en Tongaatkliniek.

Dit is steeds onduidelik hoeveel werkers op die konstruksieterrein was ten tyde van die ongeluk.

Ondersoek gaan intussen ingestel word na waarom bouwerk voortgegaan het ten spyte van regstappe oor die beweerde verontagsaming van bouregulasies.

Die adjunkburgemeester van Ethekwini, Nomvuzo Shabalala sê die hof is verlede maand genader om bouwerk aan die winkelsentrum te keer. Geen planne vir die bouerk is deur die owerhede goedgekeur nie.

Verkeer is baie druk in die gebied en die mense is gister aangemoedig om weg te bly om noodvoertuie deur te laat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.