Motlanthe se Chinese ere-graad moet wag

Deel op

linkokwingDie departement van internasionale betrekkinge het versoek dat ’n eerbetoon aan adjunkpres. Petrus Kgalema Motlanthe tydelik teruggetrek word.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, het gesê dié besluit is geneem omdat interne en diplomatieke konsultasies nie betyds afgehandel is nie.

“Dit is verkeerd om te beweer dat die eerbetoon teruggetrek is. Dit is slegs uitgestel sodat die nodige konsultasies gedoen kan word. Almal wat deur die uitstel geraak is, is in kennis gestel.”

Die Burger het Saterdag berig Motlanthe is woedend nadat ’n ere-professoraat wat hy verlede maand op ’n ampsbesoek aan Beijing by ’n universiteit daar sou ontvang het, deur die Suid-Afrikaners van die hand gewys is. Pres. Jacob Zuma is hiervoor die skuld gegee.

Pres. Jacob Zuma het verlede jaar ‘n ere-professoraat in internasionale betrekkinge van ‘n universiteit in Beijing ontvang. Hy het ook in Augustus vandeesjaar ‘n ere-doktersgraad van Limkokwing-universiteit ontvang.

Zuma het die Chinese regering toe bedank omdat hulle die rol erken wat leiers van opkomende ekonomieë speel in die gesprekvoering oor wêreldkwessies.

Hy het toe gesê die eer wat hom te beurt geval het is ‘n bewys van die vertroue wat die Chinese regering in Suid-Afrika se buitelandse beleid het

Thabo Masebe, Motlanthe se woordvoerder, het Maandag gesê hy weet nie of die adjunkpresident ontsteld was oor die besluit om sy besoek aan die universiteit te kanselleer nie.

Bronne in en na aan die Uniegebou het gesê daar was geen amptelike kommunikasie van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking aan Motlanthe se kantoor nie. Hy moes by konsulêre amptenare in Beijing uitvind daar is opdrag gegee dat die eerbewys nie meer ontvang sal word nie.

Die departement en die presidensie het berigte ontken dat Zuma betrokke was by die besluit.

“Die berigte is ongegrond en belaglik,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, in ’n verklaring gesê. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.