Regseise van tot R3,7 miljard is teen die Gautengse departement van gesondheid ingedien, het die die DA Sondag gesê.
Dít is die bedrag wat die provinsie se komitee oor openbare rekening verlede week gegee het, het Jack Bloom, DA-koukusleier in Gauteng, in ‘n verklaring gesê.
“Die bedrag het gestyg van R2,7 miljard se regseise teen 31 Maart vanjaar en R1,6 miljard in die 2011/12 boekjaar.
“Die meeste eise is van 1 002 mediese eise en die totale bedrag van dié eise is R3,415 miljard.”
Altesaam 326 siviele eise, wat R265 miljoen beloop, en 159 nooddiens-eise, wat R9,7 miljoen beloop, is ook ingedien.
Die Gautengse departement kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Bloom het gesê die bedrag is kommerwekkend omdat die departement alle hofsake oor mediese nalatigheid die afgelope drie jaar verloor het.
“Die vlaag van eise benadruk die dringendheid om die standaard van gesondheidsorg te verbeter, sodat minder foute begaan word.
“Gehalte-bestuur moet verbeter word, veral in kraamsale, omdat baie eise ingestel is weens babas wat tydens geboorte beseer is.” – Sapa