Juju skryf eksamen as hofsaak begin

jujuJulius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), kan dalk agter tralies eindig voor die verkiesing.

Juju se hofsaak sal vandag in die Rondgaande Hof in Polokwane begin. Streng veiligheidsmaatreëls sal geld.

Malema en sy vier mede-beskuldigdes word van bedrog, geldwassery en afpersing aangekla. Die voormalige leier van die ANC Jeugliga het na bewering miljoene rande uit korrupsie verdien.

Malema is in September verlede jaar in hegtenis geneem omdat sy Ratanang-familietrust na bewering R4 miljoen van ‘n R52 miljoen-tender gekry het wat die departement van paaie en vervoer in Limpopo in 2011 aan die maatskappy On Point Engineering betaal het.

Die party se provinsiale koördineerder, Josie Butane het saam met duisende Malema-ondersteuners ‘n nagwaak gehou.

Hulle het die ANC-leiers daarvan beskuldig dat hulle staatshulpbronne gebruik in ‘n poging om Malema te vernietig.

Butane sê niks sal egter Malema se leierskap keer nie. ‘n Senior lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Floyd Shivhambu het gedreig dat hulle lede grond sal begin beset as deel van die party se grondhervormingstrategie.

Shivhambu het duisende EFF-lede toegespreek om die EFF se hoofbeleid om grond te onteien sonder vergoeding oor te dra.

Shivhambu het die trae pas van die regering se grondhervormingsprogram gekritiseer. Hy sê hulle sal grond identifiseer en dit wat aan die mense behoort, beset en later bekommer oor die wetlikheid daarvan.

Malema moet Maandagoggend glo eers eksamen skryf as deel van ‘n Unisa-graad voordat hy in die hof sal verskyn.

Die polisie het die strate rondom die hofgebou afgesper en polisielede sal ontplooi wees by verskeie moontlike brandpunte in die stad en in Seshego.

Malema het in Junie in die streekhof gesê die Nasionale Vervolgingsgesag is onbevoeg en die strafregtelike saak teen hom is ‘n politieke sameswering.

Daar is vroeër vanjaar reeds op Malema se luukse huis in Sandton en sy plaas buite Polokwane beslag gelê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.