Dis tyd dat koeëlvaste klere in die mode raak

Deel op

skoppensboer

deur Skoppensboer

[followbutton username=’skoppensbo3r’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

In die VSA, wat reeds oor ‘n allamintige moordsyfer beskik, sterf drie keer soveel mense in motorongelukke as wat vermoor word. Suid-Afrika is natuurlik die wêreld se kampioenland wat geweldsmisdaad betref, daarom word meer mense jaarliks vermoor as wat in motorongelukke omkom.

Skoppensboer dra nogal getrou sy sitplekgordel. Die meeste moderne motors gaan in elk geval elektronies aan’t gil as jy wegtrek sonder om jou sitplekgordel vas te maak. Die vraag is nou: indien dit so belangrik is om ‘n sitplekgordel aan te sit, ingeval jy in ‘n botsing betrokke raak, is dit nie nóg belangriker om jou teen moord of ‘n skietery te beskerm nie?

Blykbaar is daar ongeveer driehonderd misdaadsindikate in die land bedrywig en die Tsjeg met onderwêreldse bande, Radovan Krejcir, was onlangs in die nuus vanweë koeëls wat vlieg, bomme wat afgaan en dergelike meer. DIs natuurlik ‘n ope vraag of die ANC self nie eintlik ‘n misdaadsindikaat is nie, gegewe die groot bedrae geld wat die party op allerlei duistere maniere vanuit die staat na die party of sy amptenare kanaliseer. Met die sterk Zoeloe-invloed deesdae, is hulle nie meer die “Xhosa Nostra” nie, maar steeds “kamerade wat sake doen”.

Op straat, op plase, in winkelsentrums en in ons huise, word ons egter blootgestel aan die die Wilde-Weste-kultuur van die ruwe Suid-Afrika. By tye in die negentiende eeu, veral aan die Oosgrens, het dir ewe woes gegaan en het boere blykbaar gewapen gaan ploeg. Hulle kon te eniger tyd aangeval word.

Die mense wat die beste in die ruwe Suid-Afrika aangepas het, is oudpolisie- en weermagmense wat gewoond daaraan was om ‘n dienspistool saam te dra en dit steeds doen. Die gewone lid van die publiek beskou egter nog nie koeëlvaste klere en ‘n 9-millimeter onder sy arrmholte as noodsaaklike mode-items nie.

Het dit nie hoog tyd geraak dat ons so ‘n mode skep nie? Met dié dat dit so gevaarlik buite is, gaan Skoppensboer nie eintlik saans veel uit nie en verkies tuisvermaak, soos fliek op die rekenaar. Hoewel die meeste Hollywood-akteurs ten gunste van strenger wapenbeheer in die VSA is, synde polities liberaal, speel vele van hulle in films wat in die ou dae ‘n skop-skiet-en-donder genoem is. Iewers het Skoppensboer gelees dat die VSA oor ‘n honderd miljoen wapens in privaatbesit beskik en dis nie eens naastenby so gevaarlik daar soos in Suid-Afrika nie!

Abby in die TV-reeks Charlie's Angels met 'n Heckler & Koch MP5
Abby in die TV-reeks Charlie’s Angels met ‘n Heckler & Koch MP5. Foto: Internet Movie Firearms Database

Met al die byderwetse pistole, handkarabyne, jag- en sluipskuttergewere wat in flieks vertoon word, is daar iets soos die Internet Movie Firearms Database waar ‘n mens jou gunstelingheld of -heldin se wapens in nadere besonderhede kan gaan beskou. Dis seker die invloed van feminisme, maar daar is deesdae amper meer vroulike geheime agente wat sommer tien mans tegelyk met ‘n paar houe en skoppe uit die pad kan veeg en dan ‘n klein oorloggie met ‘n Heckler & Koch MP5 in elke hand teen ‘n spul skurke kan voer. Daar’s nou vir jou ‘n handelsmerk om oor te kwyl: Heckler & Koch.

Dié Duitse maatskappy maak ook die MP7-handkarabyn wat van hul spesiale 4.5-millimeter-kaliber gebruik maak en wat blykbaar deur beskermende klere kan dring. Dié lyk só:

Heckler & Koch MP7A-masjienpistool. Foto: Heckler & Koch
Heckler & Koch MP7A-masjienpistool. Foto: Heckler & Koch

Skoppensboer moet egter bieg dat, in weerwil van die sjarme en stilering van Heckler & Koch se masjienpistole, Made in Germany en wat nog, daar ‘n Belgiese wapen is wat hy nie sal omgee om in sy Kerskous te hê nie. Dit is Fabrique Nationale se P90 wat ook in ‘n hele paar Amerikaanse TV-reekse en films te siene is en wat deur ongeveer veertig lande as ‘n ligte aanvalsgeweer aanvaar is, veral vir spesmagsoldate. Die P90 neem 50 rondtes wat in ‘n unieke, deursigtige magasyn gehuisves word. As jy dus in jou plaaslike winkelsentrum in ‘n skietgeveg met ‘n bende rowers betrokke raak, hoef jy nie te tel hoeveel skote jy afvuur nie, want jy kan sommer sien hoeveel patrone daar nog oor is. Net die ding vir huis-en-haardbeskerming in Suid-Afrika!

Alex in Nikita (eerste seisoen) met 'n FN P90TR
Alex in Nikita (eerste seisoen) met ‘n FN P90TR. Foto: Internet Movie Firearms Database
Bruce Willis in 'A good day to die hard' (2013) met 'n Beretta 92FS. Foto: Internet Movie Firearms Database
Bruce Willis in ‘A good day to die hard’ (2013) met ‘n Beretta 92FS. Foto: Internet Movie Firearms Database
Hierdie tweekleur-Beretta 92FS kan goed pas by jou tweekleurhemp, of enige ander hemp! Foto: Internet Movie Firearms Database
Hierdie tweekleur-Beretta 92FS kan goed pas by jou tweekleurhemp, of enige ander hemp! Foto: Internet Movie Firearms Database

Afhangend van wat jy buite jou mure te wagte is, is dit natuurlik nie nodig om altyd ‘n outomatiese wapen byderhand te hê nie. In al die flieks en TV-reekse is daar pragtige pistole te siene, waaronder Sig-Sauer, Walther, Glock, Beretta en vele ander. Die klassieke Beretta 92FS kan net die ding wees om onder jou kopkussing mee te slaap. Vir omtrent R200 kan jy aanlyn ‘n skouerholster daarvoor aanskaf wat boonop plek het vir twee ekstra magasyne. As jy regtig moeilikheid op pad Pick ‘n Pay of Checkers toe verwag, kan jy nog agter jou rug ‘n ander magasynhouertjie vasgespe met plek vir ‘n bykomende drie magasyne, Saam met dié in die pistool self, sal jy dan toegerus wees met sestig rondtes wat seker genoeg sal wees om vanagter die hondekosrakke jou man te staan totdat hulp opdaag. Met jou koeëlvaste Kevlar-onderhemp aan, sal jy heel veilig voel en hopelik ‘n paar misdadigers die ewigheid in stuur. Dis selfs moontlik om in jou inkopiesak ‘n Kevlar-helm saam te dra wat jy by die eerste teken van vyandelikhede kan opsit. Motorfietsryers dra immers valhelms oral saam, dus kan ons ewe maklik koeëlvaste helms begin gewild maak. Alles in belang van veiligheid.

Met Malema se EFF wat dreig om plase te begin beset, sal boere en hul gesinne moet sorg dat hulle goed bewapen is met hierdie en ander wapens. Groepe boere behoort saam te werk om verdedigingsplanne voor te berei en natuurlik met tweerigtingradio’s in verbinding te wees. Tweerigtingradio’tjies is deesdae spotgoedkoop en kan by vele elektronikawinkels aangeskaf word.

Pompaksie-haelgewere, jaggewere, handwapens, masjienpistole, dít alles kan handig te pas kom as chaos op die platteland as gevolg van onwettige optrede deur EFF-lede met rooi barette uitbreek. En kry gerus van daardie koeëlvaste ondergoedjies. Daar is damesmodelle ook te koop en as jy nie van die ding onder jou hemp hou nie, is daar sogenaamde “overte” modelle beskikbaar wat jy bo-oor dra.

Die tragiese is: meeste mense bestee meer op nuwe selfone as aan hul persoonlike veiligheid. Dit sal moet endkry, want ons is terug in die negentiende eeu toe elkeen hoofsaaklik vir sy eie veiligheid moes sorg.

Daar is natuurlik mense wat daarvan hou om gevaarlik te leef, nie ‘n sitplekgordel te dra nie en dit ongewapen buite hul huise waag. Skoppensboer is egter te veel van ‘n moffie hiervoor en daarom is sy leuse: Eerder bang Jan as dooie Jan.

Ten slotte, as geld nie ‘n kwessie is nie, kan jy ietsie oor ‘n R100 000 uitgee vir dié Oostenrykse meneer, die Steyr-HS.50-sluipskuttergeweer. Hy vuur ‘n .50-kaliber- Browning-masjiengeweerpatroon vir langafstandselfverdediging.

Maggie Q as Nikita in die tweede seisoen van dié reeks met 'n Steyr HS.50 wat sy sommer by 'n wapenhandelaar afgeneem het.
Stedelike sjiek: Maggie Q as Nikita in die tweede seisoen van dié reeks met ‘n Steyr HS.50 wat sy sommer by ‘n wapenhandelaar afgeneem het. Foto: Internet Movie Firearms Database

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.