Tifoonslagoffers opstandig

Deel op

typhoonDie oorlewendes van Tifoon Haiyan raak opstandig oor die stadige pas waarteen hulp versprei word. Die amptelike dodetal staan op meer as 2 300, maar noodwerkers sê die syfer kan aansienlik styg.

‘n Massabegrafnis van die slagoffers in Tacloban is afgestel toe geweerskote gehoor is en die stoet geen keuse gelaat is as om om te draai nie.

Agt mense is dood toe ‘n groot skare honegeres ‘n ryswinkel bestorm het. Die muur van die gebou het op die mense ingetuimel.

Daar is byna geen voedsel of water nie, en volgens berigte is oorlewendes desperaat om van die verwoesting te ontvlug.

Skermutselinge het uitgebreek tussen mense wat graag op die skaars beskikbare vlugte wil kom.

Die Filippynse regering het vroeër gesê hy het te kampe met die grootste logistieke uitdaging tot nog toe ná die verwoesting wat die tifoon gesaai het. Meer as 11miljoen mense is geraak deur die ramp.

Die kabinetsekretaris, Rene Almendras sê die regering is oorweldig deur die omvang van Haiyan se impak.

Amerikaanse militêre vliegtuie het begin land op die Tacloban-lughawe, met voorraad van die Wêreldvoedselprogram aan boord.

Amerikaanse soldate sal met die weermag se Osprey-vliegtuie poog om die mees afgeleë gebiede van hulp te voorsien.

Die Britse en Amerikaanse vloot het ook voorraad en bemanning per skip gestuur, wat na verwagting binne die volgende paar dae sal begin aankom.

Die Moslemliefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers sal uit Suid-Afrika na die Filippyne vertrek om hulp aan tifoonslagoffers te verleen.

Die span bestaan uit twintig personeellede wat spesialiste is in reddingsoperasies en ook bestuurders, paramedici, ‘n trauma dokter en ‘n pediater.

Die span sal mediese voorraad, energie aanvullings asook kos en water saam met hulle neem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.