Maatskappye moet belasting betaal en politieke partye steun

Deel op
Zweli Mkize
Zweli Mkize

Pravin Gordhan, minister van finansies, het maatskappye gewaarsku om nie geld uit Afrika te “smokkel” nie, het die SAUK Maandag berig.

Gordhan het groot korporasies wat baie wins maak, maar min belasting betaal, vir kritiek uitgesonder.

Hy het by die jaarlikse G20-Afrika-konferensie in Johannesburg gesê dit kos die vasteland miljarde en Afrika se ekonomieë sal die bykomende belastinggeld goed kan aanwend.

“Afrika sal merkbaar verbeter, met meer skole, infrastruktuur en ekonomiese bedrywighede.”

“Sonder die belasting wat van maatskappye kom, word regerings gedwing om die belasting op individue te verhoog óf besteding te besnoei.”

Die ANC se tesourier, Zweli Mkize, het gesê maatskappye moet politieke partye finansier en het voorgestel dat ’n trustfonds vir dié doel geskep word, berig die Sowetan.

“Maatskappye moet miljoene betaal, maar dit behoort hulle nie te stop om die partye van hul keuse te ondersteun nie,” het Mkize volgens die koerant gesê.

Hy het gesê dat maatskappye voordeel trek uit vrede en demokrasie.

“As daar onrus is of gemeenskapsprotes is, sal daar geen sakegeleenthede wees nie…”

Volgens die Sowetan is hy bereid om met groot ondernemings te vergader om die voorstel van ’n trustfonds te bespreek.

Die Speaker van die parlement kan die fonds administreer. Geld sal toegewys word volgens die proporsionele verteenwoordiging van partye.

“Ek glo daar is ondernemings wat floreer danksy die stabiliteit en vrede wat deur demokrasie geskep word, maar dat hulle nie wil bydra nie,” het hy aan die Sowetan gesê. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.