Willie Esterhuyse se wel en wee

Deel op
Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)
Willie Esterhuyse (middel), met Thabo Mbeki (regs)

deur Leon Lemmer

Willie Esterhuyse (gebore in 1936) was tot 1987 lid van die Broederbond en jare lank skynbaar ‘n liefling van die Afrikaner en die NG Kerk. Byvoorbeeld, aan die Universiteit Stellenbosch het die inisiatief van hom uitgegaan om aan PW Botha ‘n eredoktorsgraad toe te ken. Esterhuyse kom uit ‘n Sap-gesin, maar hy het ‘n stoere ondersteuner van apartheid geword. Hy was een van diegene aan wie die Nasionale Party-regering aanvanklik sy onderhandelinge met die ANC toevertrou het. Kort nadat hierdie samesprekings ‘n aanvang geneem het, het Esterhuyse en Thabo Mbeki vriende geword en het Esterhuyse besluit dat hy eerder ANC- as NP-gesind is.

Deesdae kan Esterhuyse blykbaar nie verstaan waarom hy nie meer deur sy mede-Afrikaners op die hande gedra word nie. Naspers nooi hom darem nog soms uit wanneer daar ‘n onthaal of ander funksie aangebied word. Daarna verskyn sy foto in die koerant. Andersins moet hy in die na-Mbeki-era maar briewe aan die koerant skryf of ‘n toespraak vir publikasie aanbied om nie heeltemal in die vergetelheid te verdwyn nie. Die waarheid is dat die spreekwoordelike nuttige idioot ‘n beperkte rakleeftyd het.

Kom ons gaan ‘n bietjie na hoe Esterhuyse self sy openbare beeld getransformeer het. Daarna kan hierdie geykte vraag beantwoord word: Is Esterhuyse ‘n Afrikaner? Sy Sap-wortels en waarheen hy op pad was, het in 1979 die eerste keer duidelik geblyk met die publikasie van sy boek, Afskeid van apartheid. Dit is onder meer op grond van sy afkeer van apartheid en sy “geheime gesprekke” met die verbode ANC dat die ANC-regering tydens die Mbeki-bewind in 2003 aan hom die Orde van Luthuli (silwer) toegeken en hom ‘n leidende Afrikaner genoem het. Ek bepaal my aandag vervolgens by sy drie jongste boeke.

Esterhuyse het sy verset teen sy kweekskoolagtergrond getoon met sy boek, God en die gode van Egipte: In die voetspore van die Onsienlike (Wellington: Lux Verbi, 2009, 256p). Daarin verskyn hierdie neerbuigende opmerking: “Veral sedert 1979 het dit vir my al moeiliker geword om na die ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal (staat, kultuur en kerk) te luister” (p 21). Waaroor “bulk” Afrikanerbulle? Oor beskawing, oor Westerse waardes, oor die handhawing van standaarde, oor wat blankes en veral Afrikaners tot stand gebring het. Dit is wittes wat hierdie land oor meer as drie eeue ontwikkel het, in ‘n era wat deesdae as “donker” voorgestel word. Afrikaans het in daardie duisternis as ‘n volwaardige taal tot stand gekom. Dit gaan vir hierdie “Afrikanerbulle” om kwalitatiewe sake. Moet daar saam met apartheid ook hiervan sonder meer afskeid geneem word?

Die kernboodskap wat Esterhuyse in sy 2009-boek oordra, is dat stories en mites in die Bybel vertel word. Dit beteken nie dat die gebeure wat in die Bybel beskryf word werklik plaasgevind het nie. Dit gaan om ‘n bepaalde boodskap ter singewing oor te dra. Die Bybel word bloot ‘n “openbaring van mense” (p 67). Hy laat hom soos volg uit oor die Bybelboek Eksodus: “Dis eintlik ‘n sameflansing van ‘n verskeidenheid kampvuurstories en godsdienstige praktyke van woestyntrekkers op pad na hulle beloofde land” (p 35).

Die Ou Testament word beskryf as “‘n storie oor hulle [die Jode se] verstaan van God en sy rol in die lewe en geskiedenis van mense, state en gemeenskappe, wat oor tyd heen in skrif beslag gekry het” (p 111). “Dis nie die gode of God wat tekste heilig maak omdat hulle regstreekse goddelike openbarings bevat nie. Heilige tekste, ‘die Skrif’ ingesluit, is niks anders en niks meer nie as die getuienisse van mense se uitsonderlike ontmoetings en ervarings” (p 135). Soos in die geval van apartheid het Esterhuyse afskeid geneem van die God waarin hy in sy ouerhuis, “die klipkerk van Laingsburg” en aan die Kweekskool van Stellenbosch geglo het (p 188).

Godsdienstige opvattings word sodoende diensbaar aan Esterhuyse se neo-verligte politiek. Hy wil (en ons moet) hande vat (p 235) en ‘n verskil maak (p 231, 233, 241). Die modewoorde van die huidige plaaslike politieke retoriek (bevryding, verandering/transformasie, geregtigheid, ens) word kwistig rondgestrooi. Geloof word “‘n verbintenis aan saakmakende en vernuwende geregtigheid” (p 240). “Die profetiese tradisie was … primêr ‘n bevrydingstradisie” (p 240). Esterhuyse gaan selfs sover om te beweer: “Vanaf Jesaja en Miga tot by Jesus. Binne dié tradisie … Jy moes jouself identifiseer as ‘n geroepene, ‘n aktivis vir die droom van geregtigheid, ‘n vryheids- en vredestryder” (p 246).

Jesus word voorgestel as “‘n bepaalde inkarnasie of vleeswording van die geregtigheidsdroom … ‘God’, in Jesus as ‘n rolmodel, is volgens die stories van die Bybel ‘n simbool van die ewige, goddelike soeke na geregtigheid” (p 248). Dit is duidelik dat Esterhuyse (soos) ‘n bevrydingsteoloog geword het. Sy vertolking van die Bybel is sodanig dat dit sy neo-verligte en pro-ANC-politiek ondersteun. Religie word diensbaar aan sy politieke voorkeur gemaak. Sy nie-teïstiese, pragmatiese godsbegrip rugsteun sy politieke (wan)opvattings.
.
Esterhuyse se volgende boek, Die God van Genesis: Drama in die amfiteater van die Oneindige (Durbanville: Christelike Media Publikasies, 2010, 294p) is in dieselfde trant as sy vorige boek geskryf en vul dit aan. Van onder meer die Bybel skryf hy: “Self dink ek nie meer die geskrifte is heilig in die sin dat hulle deur die Goddelike self met ‘heiligheid’ beklee is nie. Dit is mense wat deur hulle vereenselwiging met ‘n bestaande geskrif die geskrif as iets spesiaals, as ‘heilig’, uitsonder” (p 68). Let op die volgende vertolking: God “se fokus is nie op die hemel nie. Ook nie op die skepping as sodanig nie. Dit is op verhoudinge, veral met die mens en die aarde” (p 108). Esterhuyse kan sekerlik nie daarop aanspraak maak dat hy dit wetenskaplik vasgestel het nie. Dit is bloot sy vertolking. Daarmee gee hy ‘n vrypas aan die verderflike politiek van die bevrydingsteoloë.

Hy erken dat dit maklik is om die Bybel te misbruik (p 283): “Dit is nie moeilik om die Bybel volgens eie vooroordeel en voorkeure te interpreteer nie” (p 252). Maar dan kom hy tog met hierdie myns insiens uiters vergesogte stelling: “Terloops, as daar ooit ‘n godsdienstige en morele revolusionêr en aktivis was, dan was dit Jesus van Nasaret. Dit is beslis nie gepas om ongekwalifiseerd ‘liewe’ voor sy Naam te skryf nie” (p 198). Dit lyk asof Esterhuyse die “voerbakke” (p 140) polities korrek rondskuif. Die volgende is sprekend van die outeur se veranderde politieke gesindheid: “Nóg ‘die volk’ nóg ‘die taal’ is ‘n skeppingsordinansie! Dit is veranderlikes” (p 253). Hy versuim om by te voeg: Dit beteken nie dat jy jou eie mense en moedertaal vir ander moet verruil nie.

Die derde en laaste boek wat hier bespreek word, is Esterhuyse se Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p). Die teks handel oor die verkennende gesprekke wat Esterhuyse en ander “uitgesoekte” lede van die Afrikaanse “binnekring” van 1987 tot 1990 met ANC- lede gevoer het. Esterhuyse praat van die “Afrikaner-ANC-gespreksgroep” (p 115). Heel aan die begin van sy betrekkinge met Mbeki het Esterhuyse aan hom bely dat hy deur die Nasionale Intelligensiediens (NI) gestuur is en dat hy aan die NI rapporteer (p 122). Omdat Esterhuyse hom spoedig eerder by die ANC as die NP geskaar het, kon hy skryf: “Die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing” (p 30).

In die boek word daar uitdrukking aan heelwat volslae naïwiteit gegee. Asof dit wysheid uit die mond van ‘n suigeling is, haal Esterhuyse sy dogter soos volg aan: “Thabo Mbeki kan tog nie ‘n terroris wees nie” (p 170). Elders noem hy egter dat Mbeki militêre opleiding in die Sowjet-unie ondergaan het (p 115), wat sekerlik nie ten doel gehad het om hom mooier in die kerk te laat sing nie. Esterhuyse wou spesifiek in die geval van Mbeki “die konstruk van ‘terroris’ ondermyn” (p 142).

Wat Esterhuyse in sy handel en wandel en ook in hierdie boek doen, is om te ontken dat ons hier met werklike vyande te make gehad het. Vyand is ‘n “mite” (p 182 – soos hierbo in Bybelse verband), ‘n “konstruk”, bedoelende dat dit ‘n misleidende of onvanpaste term en begrip is. So ook “terroris” (p 142). Hierdie vyande moet “vennote” word (p 195). Hy wend hom tot linguistiese higiëne ten einde die ANC goed voor te stel. Dit gaan om die “ontdemonisering van die ANC” (p 36). Hulle is dus nie geweldadige en bloeddorstige terroriste nie. “Bloedorstige vyand” is ‘n “mite” (p 43). Ons is glo almal Suid-Afrikaners met ‘n gemeenskaplike vaderland, dus ‘n enkele tuisland, en ons het almal ‘n “gemeenskaplike toekomsdroom” (p 160).

“Die ANC is in die eerste plek nie ‘n terroriste-organisasie nie, maar ‘n politieke beweging” (p 129). In die boek word moeite gedoen om die ANC, ‘n “civilised and cultured group of people” (p 138), te ontdemoniseer. In dié proses word Afrikaners (minstens dié wat apartheid ondersteun) gedemoniseer. Die apartheidsregering het moordbendes gehad (blykbaar is dit nie bloot ‘n “konstruk” of “metafoor” nie) omdat die NP-regering in die “mite” van ‘n Totale (kommunistiese) Aanslag geglo het (p 56) en dus met ‘n Totale Strategie as teenvoeter vorendag gekom het (p 70). Hierteenoor hang Esterhuyse “totále transformasie” aan (p 156). Hy gebruik graag die term “sekurokrate” (p 81) vir diegene wat die Suid-Afrika van weleer teen geweld probeer beveilig het. Blykbaar is ook hierdie term nie bloot ‘n “konstruk” nie.

Tog konstateer Esterhuyse darem hierdie waarhede: “Die buitelandse vleuel van die ANC het finansieel, militêr en polities hoogs afhanklik van Moskou en sy meelopers geword” (p 62) en “sonder Sowjetsteun sou die ANC nêrens gekom het nie” (p 205), asook dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party die ANC “intellektueel en ideologies gedomineer het” (p 84). Die Botha-regering en sy veiligheidsmagte, wat hulle teen terrorisme en kommunisme verset het, word die “ystervuis” genoem (p 38) en die oorlog ‘n “burgeroorlog” (p 131). In ‘n oorlog word mense gedood, maar Esterhuyse gebruik telkens ANC- en WVK-taal: ANC-aktiviste word “vermoor” (bv p 39). Dalk net ‘n enkele keer erken hy dat die ANC moorde gepleeg het wanneer hy skryf oor “geweld en moordbendes aan albei kante” (p 181).

Esterhuyse munt nie uit in objektiwiteit nie. PW Botha word die “Groot Krokodil” genoem en Nelson Mandela die “Groot Ikoon” (p 207). Botha was glo “arrogant” (p 108) en het ‘n “obsessie met mag en publisiteit” (p 193) gehad, maar nie “denk-elastisiteit” nie (p 177). Hy word telkens as “halsstarrig” getipeer (bv p 169). Mandela, daarenteen, is ‘n “meesterlike oorrompelaar” (p 94-95), ‘n “passievolle politieke omvormer” (p 208) en “die sjarmante en eg menslike leier” (340). “Hy tree soos ‘n visionêre leier op. ‘n Moses-figuur” (p 175). “Mandela is sy ware self: Vredesoeker; versoener; gematigd; nie-rassig” (p 272). Maar Mandela was in werklikheid die inisieerder, stigter en eerste hoof van Umkhonto weSizwe (MK), die militêre of geweldsafdeling van die ANC. Let op hoe Esterhuyse hierdie feite oor sy vredesikoon verdoesel: Mandela “het wel ‘n hoë posisie in MK gehad” (p 238).

Mbeki het, volgens Esterhuyse, ‘n “skerp analitiese vermoë” (p 125) en “hy praat beredeneerd en baie logies” (p 164). Hy is vir Esterhuyse “die soort mens … wat ek bereid sal wees om met my lewe te vertrou” (p 142). Desmond Tutu en Allan Boesak word voorgehou as “gerespekteerde kerkleiers” (p 39), “charismatiese leiers” (p 107), “uiters bekwaam en leiersikone in eie reg. Nie revolusionêre militantes nie” (p 219). Oliver Tambo was glo ‘n “gematigde” ANC-leier (p 41), terwyl dit in werklikheid hy was wat gelas het dat sagte teikens in blanke woonbuurte deur die UDF/ANC aangeval moet word (p 87). Tambo het die gewelddadige UDF geloof as ‘n “uitstaande voorbeeld van die ‘political maturity of our people'” (p 133).

Esterhuyse het allerhande romantiese en uiters naïewe verwagtinge van die nuwe Suid-Afrika gekoester. Hy skryf “dat ‘n nuwe politieke daeraad besig was om deur die duisternis van apartheid te breek” (p 207-208). Hy beskou dit as: “‘n Dramatiese paradigmaskuif, weg van rasgebaseerde politieke voordele en verskansings, na nie-rassigheid” (p 296). Daar is hierdie mondvol hoop: “Volhoubare vrede, geregtigheid, regverdigheid en stabiliteit” (p 302). Andrew Young, die swart Amerikaanse aktivis, het beweer dat “die ANC eendag kan bewys dat swart mense ‘n gesofistikeerde land kan regeer” (p 271). Het die ANC-regering dit bewys, of juis die teenoorgestelde? Patrick Fairweather, ‘n Britse regeringsamptenaar, het gesê: “The best way to address white fears in South Africa is to make an economic success of Zimbabwe” (p 120). Die oorverligte Esterhuyse het sy hoop gevestig op ‘n “Suid-Afrika waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie” (p 15) en ‘n “ware nie-rassige demokrasie” (p 48).

Die skandaligste aspek van Esterhuyse se naïwiteit is sy teenkanting teen minderheidsregte, insluitende vetoreg, vir blankes. Dít terwyl swartes in die VSA in ruime mate minderheidsregte het. Esterhuyse, die oud-Broederbonder. is “ten gunste van ‘n een-mens-een-stem-verkiesing in ‘n eenheidstaat” (p 27). Oor die grondwetlike onderhandelinge in 1993 skryf hy: “Ek het toe al lankal weggestap van die NP se idee van groepsregte en minderheidsveto’s” (p 299). In die praktyk het dit die gevolg dat alle Suid-Afrikaanse nie-wittes deesdae groepsregte het (bv ingevolge regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging) terwyl al die wittes (en net die wittes) geen groepsregte het nie. Hiervoor kan ons Esterhuyse en andere wat ‘n “onmisbare en deurslaggende rol” in die voorbereidingsfase gespeel het (p 335) mede-verantwoordelik hou. Hy is een van dié wat geen onheil in swart oorheersing gesien het nie. Hy het geen beswaar teen die verswelging van wittes deur swartes met hulle vreemde nie-Westerse waardes geopper nie. Hy het die duisternis van apartheid gekontrasteer met die lig wat die ANC sou bring. Ek is diep dankbaar dat ek dit nie op my gewete het dat ek medepligtig aan verraad teenoor my eie etniese groep is nie.

Vervolgens vestig ek die aandag op die jongste brief (12 Oktober, p 18) en artikel (19 Oktober, p 11) wat Esterhuyse in Die Burger gepubliseer het. In die brief verwys hy na “baie Afrikaners wat hulself as ‘slagoffers’ ervaar.” Dit is glo “die moeder van onverdraagsaamheid.” Met verwysing na Jonathan Jansen se onlangse anti-Afrikaanse uitlatings skryf Esterhuyse: “Ek het groot waardering vir jou Voortrekkersrol in ons land.” Omdat Tim du Plessis kritiek op die loskanon Jansen uitgespreek het, reageer Esterhuyse soos volg: “Ek het besluit om nie meer Rapport te lees nie.” Hy verkwalik Leopold Scholtz omdat laasgenoemde twyfel uitgespreek het oor die mate waarin Russel Botman die heil van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch bevorder. Ten slotte haal hy Brigalia Bam, ‘n ANC-aktivis, goedkeurend aan: “We seem to have unlearned the power of real dialogue which served us so well in the past.” Die dialoog waarna verwys word, is daardie gesprekke wat die land in die skoot van die ANC laat beland het. Die “us” wat so baie daarby gebaat het, is die swartes. Hierdie brief dui op ‘n groot mate van frustrasie by Esterhuyse; dermate dat dit twyfel oor sy geestelike ewewig kan wek.

Esterhuyse se jongste artikel is gebaseer op ‘n toespraak wat hy in Washington, DC, gelewer het. Die bedoeling was seker onder meer dat die koerantlesers kennis moet neem dat sy mening soms nog in aanvraag is. Hy stel hierdie vraag oor Suid-Afrika: “Waarom wás en is ons steeds ‘n geweldsland?” In Eindstryd het Esterhuyse apartheid, en nie die ANC se terrorisme nie, as die oorsaak van geweld voorgehou. Dít wat die verlede betref. Die politieke en ander geweld wat tot in die hede onder die swart massa voorduur, behoort ongetwyfeld aan die voorbeeldstelling van die ANC as “bevrydingsorganisasie” toegeskryf te word, maar Esterhuyse doen dit nie. Hy profeteer: “Gewelddadige betogings op plaaslike vlak is bestem om toe te neem.”

Hy toon deesdae, dus in die na-Mbeki-era, ‘n mate van ongedurigheid met die ANC: “Géén volhoubare vrede sonder ‘n suksesvolle staat nie … Brose en mislukte state, sistemies korrupte state en state wie se leiers die staat intern ‘herkoloniseer’ het, kan beslis nie vrede bevorder nie … Nelson Mandela en Thabo Mbeki se vorme van visioenêre leierskap, gedra deur ‘n ANC-organisasiekultuur en korps toegewyde ‘wyse vroue en manne’ [let op die volgorde], is verruil vir blatante transaksieleierskap waarin politieke lojaliteit (en tenders en poste) koopbaar geword het. Dié soort leierskap verander ons swaar verworwe demokrasie [ANC-taal] stelselmatig en doelbewus in ‘n vorm van ‘n kliëntestaat: kolonialisme en neo-kolonialisme [gedefinieer as: “uitsluiting deur ‘n nuwe elite”] getransformeer in neo-patrionialisme[;] die staat ‘n verlengstuk van die leier, sy familie, sy vriende en geslepe sakemanne.” Esterhuyse het klaarblyklik nog nie vrede gemaak met die feit dat hooggeprese demokratiese prosesse, naamlik sy geliefde gepeupelkrasie, die oorsaak was dat sy vriend Mbeki die trekpas gekry en Jacob Zuma hom vervang het nie. Dat Suid-Afrika beter daaraan toe tydens Mandela en Mbeki se bewind was, dui in werklikheid nie, soos Esterhuyse beweer, op hulle “visionêre leierskap” nie, maar bloot op die feit dat die verval onder swart bewind geleidelik plaasvind en eksponensieel toeneem.

Maar dan kom die oorverligte Esterhuyse weer in rat: “Vergewe en vergeet … is ‘n vorm van ‘ontkenning’ deur veral wit mense.” Hy verwys na “die onreg van die verlede” en nie na die talle opsigte waarin die land tydens bv die apartheidsera beter daaraan toe was nie. Eintlik kom sy pleidooi daarop neer dat die nuwe Suid-Afrika nou weer “brugbouers” nodig het; mense soos Esterhuyse, die “koerier” (Eindstryd, p 180) of superbode wat boodskappe tussen die NI en die ANC vervoer het.

Ten slotte moet hierdie vraag beantwoord word: Kan ‘n ANC-meeloper soos Esterhuyse en iemand wat ongetwyfeld medepligtig aan die nuwe Suid-Afrika is, ‘n Afrikaner genoem word? Daar is veral drie kenmerke wat in ag geneem moet word: godsdiens, taal en politiek. Afrikaners is tradisioneel met christelik-protestantse godsdiens geassosieer. Die afstand wat daar veral sedert 1990/1994 tussen formele godsdiens en baie Afrikaners ontstaan het, maak van godsdiens die ontbeerlikste kenmerk van die genoemde drie. Sekularisasie in Westerse samelewings speel ook ‘n rol. Met of sonder formele kerkbande gaan die meeste Afrikaners voort om soortgelyke waardes te koester. Esterhuyse het nie net sy rug op die Afrikaner se “klipkerk” gekeer nie, maar hom ook in ruime mate met nie-Westerse Afrika-waardes vereenselwig.

Taallojaliteit, Jaap Steyn se taalgetrouheid, neem myns insiens deesdae toenemend die plek van godsdiens in as ‘n onmisbare bestanddeel van Afrikanerskap. Afrikaanssprekendes wat nuwe-Suid-Afrika-entoesiaste geword het, praat sonder beswaar geradbraakte Afrikaans en/of maak Engels hulle taal van voorkeur. Wat opval is dat Esterhuyse, sover ek weet, nêrens kommer oor die lot van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika uitgespreek het nie; ook nie werklike kommer oor die lot van Afrikaners en ander blankes in ‘n land waar die swart meerderheid in beheer is nie. Hy het hom nooit vereenselwig met die “taalbulle” wat hulle vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch beywer het nie. Kyk bv sy reaksie in die brief waarna hierbo verwys is. Esterhuyse het hom van die bevordering van die heil van Afrikaans en van die “taalbulle” gedistansieer omdat assosiasie met hulle afbreuk sou doen aan die neo-openbare beeld wat hy van homself in sy na-Boederbond-era probeer vestig het. Ook wat Afrikaans betref, slaag Esterhuyse nie die toets vir Afrikanerskap nie.

Lojaliteit teenoor Afrikaans word in groot mate deur politieke gesindheid bepaal. Jan Smuts, Bram Fischer, Beyers Naudé, Nico Smith, Frederik van Zyl Slabbert, Leon Wessels, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse druip veral om politieke redes die lakmoestoets vir Afrikanerskap. Afrikaners voel lotsgebonde aan hulle mede-Afrikaners en ander blankes en verraai en vertrap nie Afrikaner-ideale deur eerder nie-wit etniese groepe se belange na te jaag nie. My beswaar is nie teen die uitreik na ander etniese groepe as sodanig nie, mits dit binne perke geskied. Daardie perke word oorskry as daar ‘n oordrewe sug bestaan om ander etniese groepe ter wille te wees ten koste van Afrikaners en ander blankes se belange. Dit is die kernprobleem wat al die pas genoemdes met hulle potensiële Afrikanerskap behoort te hê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.