Brittanje se Noordsee-olie

Image Toe Margaret Thatcher as eerste minister in Brittanje oorgeneem het in 1979, was Brittanje bekend as Europa se "Siek Man". Daar was legio redes vir die Britse ekonomie se sklerose wat sedert die Tweede Wêreldoorlog geteister is deur hoë werkloosheid, relatiewe armoede, en selfs sosiale onrus.
Brittanje se rykdom was histories op haar koloniale beleid gebou. Engelsprekende gemeenskappe in die voormalige Noord-Amerikaanse kolonies het geleenthede vir handel in ‘n gemene taal en kultuur gebring, terwyl rykdom elders in suikerplantasies, die ontginning van edelmetale en diamante in Suid-Afrikaanse myne, en in die uitvoer van vervaardige goedere uit Brittanje na haar kolonies, geskep is. Internasionale finansies en investering word steeds op die Londonse Beurs behartig, vanweë London se eertydse posisie as koloniale hoofstad. Voorts het voormalige Engelse kolonies Engeland in twee Wêreldoorloë gered, want ‘n gemene politieke denke, taal en kultuur wat die VSA en Brittanje deel, het tot 'n soort natuurlike bondgenootskap gelei.

Die Eerste Wêreldoorlog het ‘n dramatiese negatiewe effek op die Britse ekonomie gehad, en die Depressie van 1933 het veral groot sosiale en ekonomiese probleme geskep. Die Tweede Wêreldoorlog het ook die nodige ekonomiese en militêre steun vanuit die VSA en ander voormalige kolonies (ook vanuit Suid-Afrika) verseker, en Brittanje is bankrotskap gespaar. Haar ekonomie het egter enorme rykdom in die oorloë afgestaan, en die Gemenebes het gedurende die Tweede Wêreldoorlog hulle ekonomieë (gebaseer op die Pond) oopgegooi vir handel met die VSA om Brittanje se ekonomie te red.

In die na-oorlogse jare het die Britse regering se vooroorlogse flirtasie met sosialisme in ‘n obsessie verander. Sosialistiese instinkte in veral die Arbeiderspartyregering van 1945-51 het uiting gekry in kollektiewe beleidsrigtings en in die nasionalisering van verskeie industrieë. Selfs die Britse Konserwatiewe Party het verskeie van die sosialistiese impulse ondersteun. Maar onderliggend aan Brittanje se sosialisme was die ondergang van Brittanje se eens voortreflike stoom-tegnologiese ekonomie van die 18de eeu. Verouderde arbeidsbeleid, tesame met verouderde tegnologie in beide die ontginnings- and vervaardigingsektore, het Brittanje se kanse geknou, en armoede in die werkersklas het eindelik uitgeloop op stakings en ander arbeidsonrus.

Gedurende the 1950s het Brittanje se ekonomie sodanig verswak dat haar leiers die einde van die Gemenebes voorsien het (dit sien mens byvoorbeeld in Harold MacMillan se “Winds of Change” toespraak in Kaapstand in 1960). Britse leiers het rigting verander, weg van die Gemenebes, om ‘n ekonomiese toekoms in die Europese Unie te soek. Die 1960s was weereens ‘n moeilike dekade, en arbeidsonrus en stakings het toegeneem in ‘n algemene ekonomiese afname in Brittanje tot en met Margaret Thatcher se oorname in 1979.

Thatcher het ‘n Nuwe Brittanje belowe, en het in alle oënskyn haar belofte nagekom. Onder haar en haar ideologiese opvolger, Tony Blair, het Brittanje haar posisie in die wêreld tot ‘n mate herstel. Die oorlog in die Falklande, en Blair se entoesiastiese toetrede tot die oorlog in Irak was ‘n teken van ‘n meer welvarende en self-versekerde Brittanje, en die verval van die na-oorlogse jare was skynbaar omgekeer.

Die belangrikste ekonomiese nuus uit Brittanje in die 1970s, te midde van stakings, onrus, die “Winter of Discontent” en die val van Edward Heath and Jim Callaghan se regerings, is die ontdekking van Noordsee-olie naby Brittanje se kus. Die ekonomiese manifestasie van die ontdekkings het eers gedurende Thatcher se regering gekom, omdat dit baie tyd en baie kapitaal geverg het om die Noordsee-olievelde te ontwikkel.

Uiteindelike sou die inkomste en ekonomiese groei in die olievelde beide Brittanje en Noorweë se ekonomieë baie baat (gedurende die 1980s), tot so ‘n mate dat Brittanje se ekonomiese uitsig van siek tot robuust en gesond onder Thatcher sou verander, wat ook op haar eie manier besig was om die invloed van arbeidersunies in Brittanje te breek.

Met Thatcher en Noordsee-olie word Brittanje weer ryk:  Haar oorsese bates en investering neem toe van 12 biljoen pond in 1979 tot 110 biljoen in 1986 – ‘n mate van groei wat histories net deur die Japanese ekonomie ge-ewenaar word. Dit is die effek van ‘n olie-bonus op ‘n Westerse ekonomie – van ‘n siek man tot voortreflike groei en rykdom. Brittanje se ekonomiese opbloei duur steeds in ‘n mate voort, en fantastiese hoeveelhede rykdom is geskep en uitgegee in London, met olie-sjeiks en mynmagnate wat oorsee investeer en rykdom terugbring na London. Die Londonse Beurs is een van die belangrikste beurse ter wêreld, en groot hoeveelhede geld word daagliks daar gewissel in terme van investering, handel en ander transaksies.
Image
In 'n grafiek op BP se statistieke webwerf word olie-produksie uit die Britse deel van die Noordsee teen jaartal voorgestel, tot en met 2006. Brittanje het bykans geen olie tot in 1975 geproduseer nie. In 1976 styg produsie vinnig met die Noordsee-ontwikkeling, om ‘n kruin in 1984 te bereik.  

Thatcher word eerste minister in 1979 en pluk dus die vrugte van investering in die ontwikkeling van die olievelde. Teen dié tyd was Brittanje ook al ‘n netto-uitvoerder van olie en olie-produkte (plastiek, kunsmis, ens). Daar was teen 1988 ‘n afname in die olieproduksie, maar nuwe tegnologie (byvoorbeeld om sywaarts te boor) keer die afname om, en die produksie bereik ‘n nuwe hoogte in 1999. Die velde word egter toenemend uitgeput en dit begin moeiliker word om olie te produseer. ‘n Dramatiese afname in die produksie van olie, tussen 5% en 10% per jaar, word tans ervaar en in 2006 het die produksie reeds met 46% afgeneem gemeet teen die spits in 1999.  

In 2008 is Brittanje weer ‘n netto invoerder van ru-olie, en geen nuwe tegnologie gaan hierdie feit omkeer nie. Die Noordsee-meevaller is uitgeput, en die enkele belangrikste rede vir Brittanje se ekonomiese opbloei in die Thatcher-jare geld nie meer nie.

Dit beteken nie dat Brittanje skielike ekomiese ondergang gaan ervaar nie. Inteendeel, die investering in ander sektore van die ekonomie gedurende 1975-2005 is steeds ‘n belangrike deel van die ekonomie wat rykdom in ander sektore genereer. Daar is egter nie meer goedkoop en maklike energie nie en Brittanje moet nou saam met ander lande ru-olie uit die Midde-Ooste invoer.

Noordsee-olie, tesame met Meksiko se reuse Canterell-veld, het die olieskokke van die 1970s omgekeer, en was onderliggend aan die wêreld se uitstekende ekonomiese toestande gedurende die 1980s en 1990s. Die afname in produksie in hierdie velde veroorsaak tekorte op die oliemark vandag, en veral met toename in aanvraag uit Sjina en die Ooste, stoot dit die prys op, tot oor die $130 per vat, vergeleke met ‘n prys van onder $90 per vat sedert my laaste bydrae oor olie. Die onderliggende rede aan die olie-prys se dramatiese onlangse toename is presies die uitputting van Noordsee en Meksikaanse olie (en Rusland se onvermoë om hulle produksie te verhoog), wat vervang moet word met verhoogde produksie in die Midde-Ooste.  Daar is egter tekens dat selfs Saoedi-Arabië nie meer die kapasiteit het om produksie noemenswaardig te verhoog nie.

Daar is steeds in baie Westerse kringe ‘n ontkenning dat ‘n nuwe energiekrisis dreig wat merkwaardige ekonomiese gevolge kan hê. Die wêreld se produksie staan vandag op ongeveer 86 miljoen vate per dag (taamlik konstant sedert 2005), en daar is huidige tekens dat dit nie volhou kan word nie. ‘n Onvermydelike afname, soortgelyk aan die afname in produksie uit die Noordsee, kan verdere prysstygings veroorsaak, en $200 per vat, of selfs meer, is nie buite die kwessie nie. Dit is so selfs as die huidige prys die gevolg van spekulasie is – in daardie geval sal die prys eers afneem, voor dit weer verhoog onder markdruk weens ‘n tekort. ‘n Jaar gelede was ‘n prys van $100 per vat ondenkbaar, maar vandag lyk dit goedkoop.

Die geopolitieke gevolge van fisiese tekorte in ru-olie sluit hongersnood en oorloë in, soos wat die wêreld sal moet aanpas in ‘n laer-energie ekonomie sonder maklike vervoer in die vorm van motors en internasionale vlugte, asook dan akkute voedseltekorte weens tekorte in kunsmis en duur dieselolie, en dies meer.

In die geval van Brittanje is die verband tussen Noordsee-olie en die rykdom en vooruitstrewendheid van jare tussen1980 en 2005 nie toevallig nie.  Daardie rykdom was dalk meer as gevolg van Noordsee-olie, as gevolg Thatcher. Die onderliggende redes vir Brittanje se ekonomiese agteruitgang na die Tweede Wêreldoorlog tot in 1975 is steeds daar, maar was verdoesel, en dit sal nou weer na vore begin kom. In die volgende dekades gaan Brittanje weer ‘n periode van relatiewe afname met gepaardgaande probleme ervaar, en dit in ‘n wêreld waar olieprysskokke die wêreldekonomie gaan ontwrig en menslike vernuf tot die uiterse gaan toets.

мыльные наборыФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.