Oor die Afrikaners se verlede en toekoms

ImageIn my vorige twee rubrieke oor die demografiese krisis, asook die positiewe en negatiewe aspekte van ons situasie, is gewys op elemente van die hede. Ten slotte ’n paar opmerkings oor die verlede en toekoms.

As ’n mens die geskiedenis van Europa, Afrika, Asië en Amerika lees, besef jy dat verkeerde dinge wat Afrikaners gedoen het, niks erger is as wat ander volke of nasies begaan het nie. Inteendeel. Baie van ons apartheidspraktyke was niks vreemds aan vredestydse praktyke in Amerika, Europese, Asiatiese en Afrikalande nie.

Uitdrukkings soos “legacy of the past” of “die nalatenskap van apartheid” verwys egter altyd na iets slegs. Dit maak ander mense, en ook onsself blind vir die belangrike bydraes wat die Afrikaners tot Suid-Afrika gelewer het, dikwels in samewerking met ander, maar dikwels ook op ons inisiatief.

Die eerste is die materiële of die stoflike bydrae – alles wat die ANC-bewind geërf het, naamlik ’n hoogs ontwikkelde infrastruktuur, ’n doeltreffend funksionerende staatsapparaat, munisipale dienste wat in stand gehou is ondanks alles wat in die laaste jare van die ou bedeling gedoen is om die land “onregeerbaar te maak”. Daar was ’n gesofistikeerde gesondheidsdiens.

Spesifieke bydraes is onder baie ander die Gariep- en Vanderkloofdam, asook Sasol, wat vir die ANC so ’n belangrike simbool van apartheid was, dat hy dit wou verwoes (in 1980 is aanslae daarop gemaak) maar vandag iets is waarmee die bewind kan spog.

Naas die stede, dorpe en nywerhede is daar duisende plase wat deur kommersiële boere opgebou is en wat vandag van groot waarde is in ’n wêreld waarin voedsel ’n al hoe belangriker bate word. Hierdie plase is vandag ’n begeerlike buit. Oral getuig geboue van ons teenwoordigheid en bydrae – van die Kaaps-Hollandse plaashuise, die Transvaal-Hollandse stasiegeboue en die Vrystaatse sandklipkerke en –plaaswonings tot die moderne geboue in die stede.

Onder die nie-stoflike bydraes is die vestiging van die “Westerse” of “Christelike beskawing” (iets reëels, maar moeilik omskryfbaar), die Romeins-Hollandse reg en demokratiese instellings. Die Boererepublieke was demokrasieë – al was hulle, soos die res van die wêreld in daardie tyd, nog nie ten volle demokraties in dié opsig dat almal stemreg gehad het nie.

Die grondwetmakers van die Unie van Suid-Afrika het op aandrang van twee Afrikaner-afgevaardigdes, pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog, besluit dat Engels en “Hollands” (dus Afrikaans en Nederlands) die amptelike tale sou wees. Brittanje het Engels as die enigste amptelike taal beskou, en die Engelssprekende afgevaardigdes het na die nasionale konvensie gegaan met die mening dat alleen Engels die offisiële taal sou bly.

Dié besluit is een van die belangrikste in Suid-Afrika se geskiedenis, want daarmee is amptelike veeltaligheid ingestel. Mettertyd is die taalbeleid na ander gemeenskappe uitgebrei. Alle taalgroepe het moedertaalonderwys gekry; die Verwoerd-bewind het volwaardige radiodienste vir die Afrikatale ingestel; later het televisie in dié tale gevolg. In die tuislande is die Afrikatale gebruik, soos isiXhosa in die wetboeke van die Transkei.

Een van die nalatenskappe van die ou bewind was taaldiversiteit in die onderwys, die radio en televisie en die landsbestuur

Van Wyk Louw het vyftig jaar gelede gewaarsku: “Laat ons nie roem nie!” ’n Mens sou vandag kon byvoeg: “Maar laat ons ook nie in sak en as gaan sit nie!” Ons verdien daardie beskeie trots waarvan hy praat.

Dis al bietjie ’n cliché om te sê: “Wie die hede beheers, beheers die verlede; wie die verlede beheers, beheers die toekoms.” Ons moet daarteen veg dat ons verlede beheers word deur wat die vyande van die Afrikaner ons wysmaak – want dit sal seer seker ’n negatiewe invloed hê op die toekoms.

Moet die Afrikaners voortbestaan as ’n volk (of “kultuurgemeenskap”) met ’n eie taal en geestelike en kulturele erfgoed? (Die alternatief is om langsamerhand van ons taal en ander aspekte van ons identiteit afstand te doen en as Engelssprekendes in ’n Suid-Afrikaanse nasie op te gaan.) As ons bevestigend antwoord, kan ons inspirasie kry uit die feit dat daar oor die hele wêreld volkere en taalgroepe is wat vir hul identiteit die stryd aanknoop.

Soos Leopold Scholtz onlangs geskryf het, kleef daar opeens nie meer ‘n reukie aan nasionalisme, etniese identiteit en godsdiens nie. Dis nie noodwendig regs of gevaarlik as Afrikaanse mense vir hul taal opkom of as Afrikaners hul etniese identiteit hoog ag nie.

Wat nodig bly, is die voortsetting van aktivisme, veral taalaktivisme Die term taalaktivisme verwys na aktiwiteite waardeur belanghebbendes druk op maghebbers probeer uitoefen om ongewenste taalbeleide en taalpraktyke te verander. Sulke aktiwiteite sluit in ondersoeke, mediadekking, gemeenskapsmobilisering, drukgroepvorming, litigasie, en selfs geweld. Onlangs het Solidariteit ook bedinging genoem: onderhandeling, maar ook druk en protes.
Al hierdie aktiwiteite behalwe geweld het die afgelope paar jaar voorgekom. Daar was Giliomee en Schlemmer se ondersoek na die posisie van Afrikaans aan universiteite, en die mobilisering van die Stellenbosse oudstudente teen die verengelsing van daardie universiteit.

’n Paar suksesvolle hofgedinge is teen onderwysdepartemente gevoer wat Afrikaansmediumskole se taalbeleid verander het.

Ander aktiwiteite was dié van groepe soos Aksie Potchefstroom en ander wat onnodige pleknaamveranderings teenstaan.
Aanvullend daarby kom een van die oudste instrumente van ’n taalbeweging of volksbeweging, eie instellings en organisasies. Die Beweging vir Christelike Volkseie onderwys het ’n klompie skole, maar dit het nog nie ’n groot beweging geword nie. Hulle toon egter wat moontlik is indien al meer Afrikaanse skole sou verdwyn.
Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania-beweging, het in By iets aangehaal wat die FAK-voorsitter Danie Goosen gesê het: “Het dit nie tyd geword dat die Afrikaners op ‘n kollektiewe grondslag ernstige oorweging gee aan die moontlikheid om binne die bestaande grondwetlike bedeling dorp- en stedelike ruimtes te skep waarbinne hulle op ‘n selfstandige wyse inhoud aan ‘n gedeelde lewe kan gee nie? Stede word vandag opnuut ervaar as ruimtes waarbinne gemeenskappe op ‘n demokratiese grondslag kontinuïteit aan hulself kan gee. As dit elders kan gebeur, waarom nie ook onder Afrikaners nie?”
De Klerk noem as goeie voorbeeld van selfstandige handeling die inisiatief wat die vakbond Solidariteit geneem het met die oprigting van sy tegniese kollege, Soltech. Sonder om vir optrede deur die regering te wag het die vakbond die ondernemingsgees aan die dag gelê om ‘n instelling te skep wat jongmense in Afrikaans oplei en bemagtig.”
Ek kan hier nie volledig ingaan op die belangwekkende voorstelle van Heinrich Matthee nie. Matthee is ’n veiligheidsontleder wat onlangs sy doktorsgraad aan die Universiteit van Marburg magna cum laude behaal het.

 In ’n H.F. Verwoerd-gedenklesing in 2006 was sy boodskap dat enige uitkoms begin by die aktiewe besluit van ‘n pres. M.T. Steyn, die besluit wat ook verwoord word in die gedigte van Van Wyk Louw: die besluit dat ons nie gebuig kan word, soos hul geweld beoog nie.

Waar eers so ‘n wil is, verskyn wel ‘n weg. Sy voorstelle behels die vorming van voorlopers, die leiers en potensiële leiers op alle terreine. ‘n Eie inligtingsnetwerk moet opgebou word, dalk in kombinasie met Afrikanerbeheerde bedrywe binne en buite SA. Projekte en geleenthede moet plaasvind rondom denkers, skrywers en ander kunstenaars. Hy sê: “Hulle skep alternatiewe waarderuimtes waarbinne mense lewe. Bevryde gebiede begin in die gees.”

Hy meen Afrikaners en hul kamergeleerdes het nog nie naastenby genoeg oor selfverdediging gedink nie. Dalk kry die moordbendes dit vorentoe reg om Afrikaners uiteindelik te transformeer: tot selfverdedigers. Spesiale magsoldate meen dat die meerderheid deur die regte opleiding omvorm word tot redelike verdedigers. Maar daar sal waarskynlik ‘n eerste linie mobiele veiligheidspesialiste wees, dalk rondom ontbinde kommando’s en privaatveiligheidsfirma’s.

Matthee sê Afrikaners moet hul vryheid van denke en politieke pluralisme koester terwyl hulle hul paraatheid bou. En hy voeg by wat Langenhoven, Sagmoedige Neelsie, gesê het: “Bakleiery is vanself so ‘n slegte ding dat jy dit nie boonop sleg moet doen ook nie.”

Ten slotte moet ons ’n ander gesindheid oor ons verlede aankweek, iets anders as die gees van sak en as oor wat verkeerd gedoen is in die verlede.

Ons moet wegkom van die ongesonde en demoraliserende opvatting van kollektiewe skuld. Ons kan nie medeverantwoordelikheid aanvaar vir wat elke Afrikaner verkeerd doen of wat groepe verkeerd gedoen het nou of in die verlede nie.

Daarteenoor wil ek iets stel uit ’n afsluitingsreferaat wat die digter, essayskrywer en dominee Izak de Villiers in 2004 in Potchefstroom voor die Akademie gelewer het. Die referaat verskyn volledig op Praag se webwerf.

De Villiers sê ons moet die waarheid in die geskiedenis soek, “die grootse én die skande”, maar die skande moet ons nie ten koste van die grootse beklemtoon nie. Ons moet ’n nuwe selfbewussyn en trots ontwikkel, “in die besef dat die wêreld groter is as stelsels, kultusse en abstraksies, en gedagtig aan die woorde van T.S. Eliot uit ‘Burnt Norton’: ‘Time present and time past / Are both perhaps present in time future,/ And time future contained in time past,’ dat die verlede, veral die goeie van die verlede, eintlik nooit afgehandel word nie.

“[…] Jy konfronteer jou eie duiwels uit die verlede en jy probeer hulle so goed as moontlik hokslaan, maar dan soek jy jou engele soos die ou bewarende Engel wat voor die Israeliete uitgetrek het. Dié soektog begin in ons totale verlede, nie slegs die onlangse verlede van ‘n lapsus nie en nie slegs die afdwalings nie. Jy vertrap nie jou eie helde en mites nie, jy bou hulle.”

free slot machines no download

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.