ANC wil deurdruk met kredietamnestie

Deel op
Rob Davies
Rob Davies

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het Dinsdag gesê uitleners moet strenger bekostigbaarheidstoetse doen as antwoord op besware teen die verwydering van negatiewe kredietinligting.

Die minister sê hy verstaan die vrees dat die kredietinligtingsamnestie die risiko en koste van krediet kan verhoog, maar sê die regering is vasbeslote om daarmee deur te druk.

Dit sal meebring dat 1,6 miljoen verbruikers op die “swartlys” weer ’n “skoon” kredietgeskiedenis kry.

“Ons kan nie op die draad sit nie. Daar is ’n sterk begeerte hierna,” het Davies in Kaapstad aan verslaggewers gesê.

Teenstanders in die bedryf meen die amnestie sal daartoe lei dat mense wat reeds nie hul skuld kan betaal nie, nóg skuld aangaan.

“Ek dink ons het ’n antwoord daarop en ons moet ons antwoord ’n bietjie verfyn,” sê Davies. “Ons moet spesifieke riglyne en raamwerke ontwikkel, maar ons ignoreer niemand nie.” Dis ’n verwysing na bekostigbaarheidskriteria wat na verwagting deur die Nasionale Kredietreguleerder opgestel gaan word.

Die kabinet het die wetgewing oor die kredietinligtingsamnestie in September goedgekeur.

Verbruikers op ’n swartlys wat wél hul skuld afbetaal het, sal ’n skoon kredietstatus kry aangesien hul status hulle verhinder om lenings, behuising en selfs werk te kry.

Davies sê meer as twee-derdes van die voorleggings wat in die maand lange konsultasietydperk ingedien is, was positief.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika en die kredietgraderingsagentskap Moody’s sê egter die feit dat banke minder inligting oor verbruikers se betalingsgeskiedenis tot hul beskikking gaan hê, skep ’n hoër risiko.

Davies sê die departement vergader volgende week met die kredietburovereniging oor bekostigbaarheidskriteria.

Hy sê die aantal loonbeslagorders van mynwerkers by Marikana – waar sommige werkers tot 80% van hul salaris nie eens sien nie – wys op die mate van onverantwoordelike praktyke in die bedryf.

“Wat met ’n loonbeslagorder gebeur, is dat jy (die uitleners) geen risiko neem nie. Jy hoef nie ’n (kredietwaardigheids-)bepaling te doen nie, want hulle werk vir iemand en jou geld is veilig.”

Davies sê voortaan sal werkgewers ook nie werkaansoekers se kredietverslae mag aanvra nie, tensy hulle met geld gaan werk.

Ander stappe wat verbruikers kan help, is dat regsaksie gestaak moet word as hulle skuldbemiddeling aanvra.

In antwoord op ’n vraag het Davies gesê hy verwerp “met minagting” enige suggestie dat die kredietinligtingsamnestie ’n verkiesingsfoefie is. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.