
Die voormalige Amerikaanse president Jimmy Carter het oudpres. Thabo Mbeki byna met die vuis toegetakel oor MIV/vigs-behandeling in Suid-Afrika, het die Sunday Times berig.
“Die eerste keer toe ek Kaapstad toe gekom het, het ek byna in ‘n vuisgeveg met die president van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, betrokke geraak weens sy versuim om dié epidemie te takel, het Carter aan die Sondagkoerant gesê.
“Dit is die naaste wat ek gekom het om ‘n staatshoof aan die bors te gryp”.
Carter het gesê die rusie was oor Mbeki en die destydse minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, se weiering om vigs te behandel.
In 1999 het Mbeki beweer dat die antiretrovirale middel AZT giftig is en het hy geweier om behandeling beskikbaar te stel ten spyte dat die Verenigde Nasies sy bystand aangebied het.
Carter het gesê hy en Bill Gates het Mbeki probeer oortuig om die antiretrovirale middel ten minste aan swanger vroue met vigs te gee, “maar Mbeki was daarteen gekant”. – Sapa