Motors: 3 opsies vir kleiner begrotings

Deel op
Die Chevrolet Spark vertoon mooi van die kant af
Die Chevrolet Spark vertoon mooi van die kant af

deur André Olivier

Elkeen van ons begeer een of ander tyd ‘n nuwe motor. Partykeer is dit net ’n begeerte, ander kere ‘n behoefte, maar diegene wat dit onlangs probeer het, sal met my saamstem: motors is duur, peperduur!

Praag het die geleentheid gekry om drie motortjies, wat gerig is op die begrotingskoper, onder hande te neem. Die drie motortjies is wel gerig op drie verskillende kopers, maar prysgewys verkeer hulle in dieselfde kategorie.

Die Chevrolet Spark se binneruim
Die Chevrolet Spark se binneruim

Chevrolet Spark LT

Vroeg in 2013 is die Spark opgekikker. Chevrolet se ikoniese minimotor gee jou dinamiese stilering met funksie en prestasie. Die motortjie is juis ontwerp vir die strate. As jy ‘n jong gesin het, is die Spark superveilig, supergemaklik om te bestuur en vir die prys, boonop heel luuks. Voeg daarby ‘n keuse van kleure, vier afwerkingsvlakke met verskillende kleure bekleedsel vir die sitplekke, en jy het ‘n stedelike ryding wat uitdruk presies wie jy is!

Met hoë wielboë, ‘n enkel-boogdaklyn en ‘n hoë wipstert met remlig, bied die Spark ‘n vorm wat spreek van ratsheid en avontuurgereedheid. Die motor vertoon modern en doelgerig vir stadsverkeer. Daar is nou ‘n herontwerpte dubbele sierrooster en voorste buffer om die effek van lewenslustigheid te versterk. Nuwe stylvolle hoofligte vloei soomloos in die gevormde metaalbakwerk in om ‘n baie vaartbelynde, brandstofdoeltreffende silhoeët te vergestalt. Handvatsels vir die agterste deure is in die D-pilare weggesteek; wat die Spark met die eerste oogopslag ‘n sportiewe driedeur maak. Wat ons die meeste beïndruk het, was die premie-afwerking wat ons toetsmotor, die LT,  bied. Daar is 15-duim-allooiwiele, satyn-silwer dakrelings, misligte voor, en ‘n derde LED-remlig, wat in die agterste drukvlerk geïntegreer is.

Of jy op pad fliek toe is of na ‘n rugbywedstryd of ‘n nagklub, of selfs buite die stad in die platteland, die 5-deur-Spark kan jou en jou vriende in styl en gemak vervoer. Die binneruim is slim en bied bêreplekkies in die hoofkonsole vir items soos selfone, ‘n dubbele bekerhouer  en laaitjies onder die sitplekke. Daar is sakkies agter elke sitplek, bêreplekke in die deure, ‘n ruim paneelkissie en vir die bestuurder ‘n netjiese kaartjiehouer in die sonskerm, waar jy jou petrolkaart kan inskuif vir al die tolhekke. Selfs ek met my sesvoetlyf het baie gemaklik agter die stuur ingeskuif, maar dan sal slegs ‘n klein kindjie agter my kon sit. Agter die voorste passasiersitplek was daar meer as genoeg plek vir selfs my lang lyf. Vir die jong gesin of pasgetroude paartjie sal die Chevy Spark soos ‘n handskoen pas.

'n Hele tromstel kan in die Spark inpas
‘n Hele tromstel kan in die Spark inpas

Buigsame vragruimte is ook een die Spark se eienskappe wat my baie geïmponeer het. Inkopie-uitstappies of naweke weg is pret en maklik. Met die agterste sitplekbank in plek is daar 170-liter-bagasieruim. Vir groter vragte word die agterste sitplekke net eenvoudig plat gevou en die vragkapasiteit word dadelik na 568 liter vergroot. Wat die sitplekke betref, was ek baie beindruk; dit is van duursame en ondersteunende stowwe gemaak en die aantreklike kontrasmateriaal skep ‘n jong moderne gevoel in die motor. Die dramatiese ysblou ligte plaas die aksent op die motorfiets-geïnspireerde snelheidsmeter en toereteller. Daar is hegpunte vir jou iPod of MP3-speler en daar is ook USB of AUX-hegpunte as jy eerder na iets anders wou luister.

Enjin

Die Spark word aangedryf deur ‘n hoë-prestasie-petrolenjin met ‘n 5-spoedhandratratkas. Die verplasing is ‘n 1,2 liter-enjin wat  60kW se krag lewer. In die segment is die verrigting van motors nie so belangrik nie, maar jy wil darem weet dat die motor teen 120km/u sal kan toer. Die Sparkie se maksimumspoed word aangegee as 164km/u en versnelling van 0-100km/u geskied binne net 13,3 sekondes. Die gevorderde lugdinamika en ‘n ligter, meer doeltreffende voorwielaandrywinguitleg beteken dat die Spark minder brandstof gebruik. Buite die stad is die verbruik slegs 4.5 liter/100km. In stadsverkeer kon ons so 6,1 l/100km handhaaf. Voeg daarby die CO2-vrystellingsyfer van slegs 129 gram per kilometer en jy het beslis ‘n motortjie wat nie net suinig by die pomp is nie, maar ook vriendelik teenoor die omgewing is!

Alles in ag genome, is die Spark ‘n minimotor wat groot besluite kan neem. Teen slegs 3,6 meter lank en 1,6 meter wyd,  is die Sparkie superhanteerbaar en kan hy maklik ry en parkeer waar sy groter mededingers nie kan nie. Die motortjie is toegerus met agterste ultrasoniese parkeersensors wat help parkeer met ‘n hoorbare alarm. Die draaisirkel is ‘n skamele 9,9 meter. Dus, rondry en soek na ‘n parkeerplekkie by die kampus of die rugby is baie makliker as in enige ander motor. Daar is ook dubbele lugsakke en ABS-remme wat jou gesin veilig by hul bestemming sal kry. Die klein motortjie beskik ook oor ‘n volgrootte noodwiel en daar is ‘n 5 jaar/120 000km-fabriekswaarborg.

Teen R139 300 dink ons die Chevrolet Spark LT is ‘n baie bekostigbare pakket. Ons gee die Chevy 5 uit 5.

Die Honda Brio-sedan
Die Honda Brio-sedan

Honda Brio 1.2 Comfort Sedan

Honda is regoor die wêreld bekend vir gehaltemotors wat altyd betroubaar en veilig is. As jy nou dink die Chevy Spark se karakter is te jonk, of jy soek net so effens minder sportiwiteit in jou ryding dan is Honda se splinternuwe Brio Sedan net die motor vir jou.

Ons toetsmotor in die “Comfort” of soos Honda hom noem; die “Amaze”-gewaad bied ‘n  voorste verchroomde sierrooster wat die motor ’n moderne voorkoms gee. Persoonlik is die motortjie glad nie vir my mooi nie, maar dan moet ek sê dit is persoonlike smaak: vir my is geen Honda mooi nie. Die duurder Hondas lyk of hulle oorontwerp is maar die kleiner Hondas is bloot net vervelig. Die unieke stilering agter weerspieël die behendigheid en dinamiese aard van hierdie minisedanmotortjie. Die opvallende, kenmerkende middellyf word deur die kort, hoë bagasiebak van die motor gedra, terwyl die vloei moeiteloos in die stertkant inloop. Vir my lyk die luikrugweergawe net beter van agter, maar weereens: dit is persoonlike smaak. Binnelangs het die Brio ‘n tweekleurpaneelbord met chroom- en silwer aksente. Die sitplekbekleedsel is van goeie gehalte, maar die kleur, ‘n ligte bruin, is nou nie baie mooi nie. Die instrumentepaneel en deurinsette se plastiek is effens hard, maar vertoon tog stylvol. Die stuurwiel is op en af verstelbaar en daar is ‘n goeie klankstelsel wat MP3’s kan speel met plek vir ‘n geheuestokkie via ‘n USB-koppeling. Die Brio is ‘n sedan met 4 deure en alhoewel die motor groter vertoon van buite is hierdie in werklikheid ‘n piepklein motortjie wat slegs 3,9 meter lank is. Dít gesê, bied die Brio heelwat ruimte vir passasiers binnelangs. Ek kon weereens baie gemaklik agter die stuur inskuif. Agter die bestuurder is daar net-net meer spasie as in die Spark, maar wanneer jy daar sit, voel die motor groter, definitief breër as die Sparkie. Agterlangs sal twee volwassenes of drie kinders baie gemaklik kan saamry. Die agterste sitplekke kan nie plat vou nie en dus is die bagasieruim net wat dit is. Die bagasieruim is ‘n skaflike 405 liter te danke aan die hoë deksel, maar die bek van die bagasieruim is effens te smal vir groter tasse om maklik in te pas.

Die Honda Brio van die kant af gesien
Die Honda Brio van die kant af gesien

Enjin

Honda het die Brio met dieselfde 1.2 litereenheid wat in die luikrugweergawe beskikbaar is toegerus. Die enjintjie bied 65Kw en 109 Nm se wringkrag, byna dieselfde as die Spark. Die uitlaatgasse wat die Brio die lug inpomp is 147 gram CO2  per kilometer. Ons kon ‘n maksimumsnelheid van 164Km/u aanteken; om tot 100km/u te versnel neem 13,5 sekondes. Die iVtec-enjin is bietjie raserig, maar weereens in hierdie segment en teen hierdie prys kan ‘n mens nie eintlik daaroor kla nie.

Die Brio is toegerus met ABS-remme, elektroniese remdrukverspreiding, asook lugsakke voor vir beide bestuurder en passasier. Daar is ook ‘n volgrootte noodwiel en sitplekgordeldrukverspreiders vir beide die voorste insittendes.

Die binneruim van die Honda Brio
Die binneruim van die Honda Brio
Agterste beenruimte in die Honda Brio
Agterste beenruimte in die Honda Brio

Wat die rit betref, is die Brio se ritgehalte vir my effens hard. Die Brio word verkoop met ‘n 3 jaar/100 000km-fabriekswaarborg en ‘n bykomende 2 jaar 30 000km-diensplan. Dít alles teen R141 000 vir die handratmodel.

Ons gee die Honda Brio Sedan 4 uit 5.

Die Fiat Panda Lounge
Die Fiat Panda Lounge

Fiat Panda Lounge

Wie het gesê prakties kan nie mooi, kompak met ‘n eko-vriendelike enjin, ruim kajuit en hoë-tegnologie-ekstras wees nie? Ons toetsmotor, die vlagskip in die Panda-reeks – genoem die ”Lounge” – laat my bietjie aan die Mini of die Volkswagen Kewer dink. Die motortjie het charisma en styl soos net die Italianers dit kan doen. Standaardtoerusting sluit in bak-gekleurde buffers, 15-duim-wiele, drive™-kragstuur, voorste elektriese vensters, sentrale sluitstelsel, ABS, 4 lugsakke en ISOFIX-aanhegsels vir kinderstoeltjies. Dit is alles byna dieselfde as in die Chevy en die Brio, maar hier lyk dit soos juwele. Die binneruim van die Panda het blink gekleurde oppervlaktes, met beheerknoppies wat werklik soos ontwerpersjuwele lyk. Daar is tot “Blue Me” wat bloutande het om jou radio en selfoon mee te koppel. Daar is ‘n hegpunt vir ‘n TomTom-navigasiestelsel. Ruimte voor is besonders goed maar agter is dit maar beperk vir groot ouens soos ek; kinders en korter mense sal egter gemaklik agter in die Panda kan rondrits. Die bagasiekapasiteit is 870 liter sou die agterste sitplekke plat gevou word.

Die Fiat Panda van agter af
Die Fiat Panda van agter af
Stylvolle kenmerke in die Fiat Panda
Stylvolle kenmerke in die Fiat Panda
Binneruim van die Fiat Panda
Binneruim van die Fiat Panda

Enjin

Wat die enjin betref, word die Pandatjie deur ‘n 1.2 liter FIRE-enjin aangedryf. Die eenheid ontwikkel 51 KW en 102 NM se wringkrag. Ons kon die vervaardigersyfer van 164 km/u en 14,3 sekondes van rus tot 100km/u maklik haal en die Fiatjie se CO2-uitset is slegs 120 gram per kilometer. Brandstofverbruik het ons aangeteken as 5,5 liter/100km in die gekombineerde siklus wat ooppad- en stadsverkeer insluit.

Die beste eienskap van die klein Fiat Panda is sekerlik die feit dat almal dink die motortjie is oulik, modern en ruim en hoe langer ek hom gery het, hoe mooier het hy ook geword. Fiat ondersteun die Panda met ‘n 3 jaar/ 100 000 km-onderhoudsplan. Die Panda verkoop teen R159 900.

Ons gee die Fiat Panda 5 uit 5.

Terug na my oorspronklike vraag. Watter een van die drie stadsmotortjies sal ek met my eie geld koop?

Ek dink die Chevy Spark bied die meeste waarde vir geld, die Honda Brio die meeste gemoedsrus, juis omdat dit ‘n Honda is en die Fiat Panda beslis die meeste styl en ruimte en toerusting en spasie en charism. Het ek nodig om iets meer te sê?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.