Australië of Orania?

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Blykbaar is daar ‘n beroep soos “toekomskundige”. Vandat ek as kind wetenskapfiksieverhale – onder meer Jan Rabie se Die groen planeet – gelees het, is ek nog altyd deur die toekoms geboei. Meeste mense oor veertig staan verstom oor die tegnologiese ontwikkelings wat ons die afgelope twintig jaar beleef het, van die persoonlike rekenaar tot die selfoon, om van die internet nie eens te praat nie. Hoeveel toekomskundiges kon dit voorspel?

In Parys het ek in ‘n deel van die stad met nou straatjies gewoon wat in die sewentiende eeu gebou is. Trouens, my gunstelingplein in die stad is die Place des Vosges, wat insgelyks vanaf 1605 tot 1612 deur die Franse koning Hendrik die Vierde aangelê is. Die punt is egter dat die strate oorspronklik vir koetse en perde ontwerp is. Omdat die binnebrandenjin eers aan die einde van die negentiende eeu deur Karl Benz en ander ontwikkel is, is die meeste Europese stede nooit vir motors bedoel nie.

In die VSA het die oliebeskawing werklik tot sy reg gekom en is moderne stede met breë strate en uitgebreide voorstede aangelê. Die sentrum van die Amerikaanse motorbedryf en eens waarskynlik die rykste stad in die VSA, Detroit, het egter binne enkele dekades in duie gestort en is vandag bankrot. Dit is grootliks aan die inwaartse migrasie van swartmense en uitwaartse migrasie van blankes te danke. In die proses het Detroit se bevolking insgelyks van net onder 2 miljoen tot 700 000 afgeneem. In 1940 was 91% van Detroit se inwoners blankes en 9% swartes. Tans is die bordjies verhang en ná dekades van sogenaamde “blanke vlug” is slegs 10% nog blankes en 90% swart.

Soos ‘n besoekende Nederlandse parlementariër enkele maande gelede teenoor my opgemerk het, verwysende na ons argitektuur, asook alomteenwoordige McDonalds- en Kentucky Fried Chicken-restaurante: “Suid-Afrika is eintlik ‘n tweede Amerika!”

Nes in Amerika, voer ons ‘n voorstedelike bestaan en lê daagliks etlike kilometers in ons motors af. Voertuie met binnebrandenjins. ‘n Aansienlike deel van middelklas-Afrikaners se besteebare inkomste word aan brandstof en die rente op hul huurkooppaaiemente op hul motors bestee. Op ‘n manier werk ons almal vir die oliesjegs en die banke. Ons dien die gode van die oliebeskawing. Darem het Suid-Afrika steenkool ook wat ons in groot hoeveelhede verbrand sodat ons TV’s en wasmasjiene kan loop.

Die oliebskawing het regoor Afrika beweeglikheid geskep. Die Toyota-minibus, oftewel “swart taxi”, is ‘n bekende en alomteenwoordige gesig dwarsdeur Afrika suid van die Sahara. Vele mense ry van Kenia af per taxi tot in Johannesburg waar hulle hoop om ‘n hoër lewenspeil te geniet. Terwyl dit jou ‘n duisend rand of meer aan ‘n visum kos om óf Brittanje óf die Schengen-lande van die Europese Unie te besoek, het geen buitelander ‘n visum nodig om Suid-Afrika te besoek nie. Trouens, jy kan ons land sommer sonder ‘n paspoort ook binnekom, soos almal weet.

Blykbaar woon daar reeds drie miljoen Zoeloes in Gauteng, wat oorspronklik van Zoeloeland afkomstig is. Oor die afgelope vyftien jaar of wat het die bevolking van dié provinsie meer as verdubbel, van ongeveer ses miljoen tot veertien miljoen. Danksy daardie taxi’s, gaan Gauteng se bevolking oor die volgende vyftien of twintig jaar weereens verdubbel en gaan daar 30 miljoen mense in die PWV woon. Tussen daardie 30 miljoen, gaan daar ongeveer ‘n miljoen Afrikaners ook wees wat poog om te midde van toenemende bevolkingsdruk, korrupsie en bankrot munisipaliteite ‘n bestaan te maak.

Nou die dag wys ‘n vriend vir my die munisipale rekening van sy sakeperseel in Johannesburg. Voorheen het hy R1500 per maand erfbelasting betaal. Drie maande gelede het die munisipaliteit sy erfbelasting tot R96 000 per maand opgestoot, omdat hulle gereken het hy maak genoeg geld om dit te kán betaal. Dit verteenwoordig ‘n verhoging van 6 400 persent!

Soos die ou-Griekse staatsman Perikles gesê het: “Jy mag nie ‘n belang in die politiek hê nie, maar dit verhoed nie die politiek om ‘n belang in jóú te ontwikkel nie.”

Elders op dié blad berig Leon Lemmer oor die ANC-bewind se nuwe transformasieplanne vir die universiteite. Blykbaar sal 80% van die dosentekorps binnekort swart moet wees soos wat rassekwotas deur Blade Nzimande ingestel gaan word. Ek het min simpatie met die universiteitsdosente want hulle was die eerste om die ANC se Amerikaanse rasse-ideologie te omhels en het sommer vrywillig van Afrikaans ook afstand gedoen om meer “diversiteit” op die kampus te akkommodeer. Regter Faan Hancke, voorsitter van die UOVS se raad, het as’t ware oor sy voete geval om Jonathan Jansen in te voer om sy universiteit te kom verswart en te verengels. Johan van Zyl, die voormalige rektor van Tukkies, het insgelyks die UP aan die Amerikaanse god van diversiteit geoffer. As Blade Nzimande klaar is, gaan daar net Bantoe-universiteite in Suid-Afrika oorbly wat baie soortgelyk aan die voormalige tuislanduniversiteite gaan wees.

Vele praag-lesers en -ondersteuners woon reeds in die buiteland, veral in Australië. Hoewel daar reeds baie Afrikaners in die VSA ook woon, het Australië min of meer simbolies van Afrikaner-emigrasie geraak. Óf hulle het die skrif aan die muur gesien, óf in hul eie beroep is daar nie meer werk vir blankes in Suid-Afrika nie. Ek dink veral aan stadsbeplanners wat nes ingenieurs deur die ANC-munisipaliteite voor die voet afgedank is omdat sulke kundigheid voortaan oorbodig geag is. Solank daar nog hier en daar ‘n McDonalds of ‘n winkelsentrum verrys, is alles mos reg, of hoe?

Dit neem my soggens gemiddeld ‘n uur om by my kinders se Afrikaanse hoërskool te kom, al is dit net 20 kilometer ver. As die tolgeld gehef word, gaan ek nog op die snelweg moet betaal ook. Dit klink al amper soos ‘n Karen Zoid-liedjie, nè?

Stedelike ballade

In verkeer sit jy hoog en droog
Belastings en tolgeld is hoog
Rowers en verkragters laat jou ys
En Eskom verhoog die kragprys
Ons kampus is nou lekker Engels
Ons meng ons met die semels

Refrein:
Maar dit maak nie saak nie
Dit maak nie saak nie…

Of maak dit saak?

Ons voorouers is deur ideale gedryf: vryheid, vooruitgang, geloof, beskawing. As kinders van die Amerikaanse oliebeskawing is ons seker minder idealisties en daarom bereid om onreg en selfs ongerief te verduur solank ons net nog ‘n tenk petrol of ‘n wegneem-pizza kan bekostig.

In die openingstoneel van ‘n roman, Play it as it lays, deur die ferministiese skryfster Joan Didion ry die heldin oënskynlik doelloos in haar motor in Kalifornië rond terwyl sy ‘n hardgekookte eier in die ry afskil en eet. Op die ou einde, as die ANC, Eskom, die stadsraad, die oliesjegs, georganiseerde misdaad, die banke, Naspers, Sanral en al die ander parasiete met ons klaar is, gaan ons seker soos postmoderne nomade in ons motors rondry en van hardgekookte eiers en Coke leef.

Ons beleef die laaste dae van die oliebeskawing in die PWV-gebied, wat deur die ANC tot daardie lelike portmanteau-woord “Gauteng” vernoem is. Mevrou Angela Merkel is besig om die toekoms van Duitsland op alternatiewe energie te verwed. Ná die ramp in Foekoesjima, Japan, het Duitsland al sy kernkragsentrales afgeskakel en reusebedrae in die ontwikkeling van volhoubare energiebronne soos son en wind belê.

Die onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou wat ek saam met my elfjarige seuntjie besoek het, het reeds die spore van die groot verandering in vervoer en energie vertoon in die vorm van volledig elektriese voertuie wat met batterye soos dié van ‘n selfoon werk. Die BMW i3 kan tot 190 km ver op ‘n lading ry, teen ‘n  koste van ongeveer 30 sent per kilometer. Trouens, om hom teen Eskompryse te laai, kos sowat R27, minder as ‘n wegneemete by McDonalds. Maar hoekom ry om ‘n vergadering by te woon as jy per internet kan kommunikeer? In stede van die toekoms sal mense seker soos in Nederland kan fietsry, fiks kan bly en die meeste van hul werk virtueel kan afhandel.

Die toekoms wink vir ons op allerlei maniere: tegnologies, polities, ekonomies. Intussen sit ons vas in die verlede. Johannesburg en Pretoria, tesame met die hele PWV-gebied, gaan vir ons die Detroit-eksperiment oordoen deur ‘n oliebeskawingstad deur middel van regstellende aksie en inwaartse migrasie deur ongeskoolde swartes in sogenaamde “stedelike prêrie” te omskep. Behalwe dat daar nie nog ‘n Michigan-staat gaan wees om in te gryp om dinge so effens weer vlot te maak soos wat in Detroit gebeur het nie. Miskien sal die Wêreldbank en die IMF tot ons redding kom, maar ek twyfel. As Gauteng val, gaan hy soos Harare val en nie weer opstaan nie.

Wat is die alternatief? Emigrasie? Orania toe? Toevallig sien ek dat eiendomspryse op Orania besig is om te styg. Ons het egter nodig om ‘n miljoen Afrikaners wat tans in Gauteng woon, asook daardie tweetalige Engelssprekendes wat dalk hul lot by ons sou wou inwerp, elders te huisves.

Die toekoms van Gauteng lyk vir my soos ‘n wetenskapfiksienagmerrie. Daar sal nie skoon water wees nie, maar jy sal moetie en menslike liggaamsdele en heroïen op jou selfoon kan bestel. Soos die ANC-verbonde “bemagtigdes”, sal jy op die snelweë in jou steeds petrolgedrewe swart S-klas-Mercedes kan rondry en die gepeupel rondom jou kan aanskou. Dit gaan egter ‘n aaklige, immorele bestaan wees waarvoor jy die ingesteldheid van ‘n rampokker nodig sal hê. ‘n Menselewe gaan nog goedkoper raak as wat dit reeds is. Etniese konflik tussen buitelanders en Suid-Afrikaans-gebore swartes is nie uitgesluit nie. Geweervuur rondom Sandton City of Brooklyn Mall mag dalk net so alledaags raak as wat dit reeds in Diepsloot of Soweto is. Dink Mogadisjoe wat deur krygshere met geweld regeer word.

Die ironie is: op die oomblik dat die tegnologie ons bevry van tyd en plek, asook al die kennis in die biblioteke van die wêreld feitlik gratis op ons rekenaarskerms vrystel, verval ons in die mees intense barbarisme, selfs analfabetisme. Bloot omdat ons nie daarvoor “nee” kan sê nie. Want om “nee” te sê, is mos polities inkorrek.

Deur Australië toe te emigreer, ontkom mense aan die onveiligheid en verval van Suid-Afrika. Maar die volgende geslag sterf hul taal en kultuur af. Wat wen ‘n mens daardeur? Steeds moet jy ‘n hoë prys betaal. Vele opgeleide, professionele Afrikaners eindig in Australië op waar hulle rakke pak in die supermarkte of vragmotors oor lang afstande tussen die myne bestuur. Daar is seker niks mee verkeerd nie, maar is dit die voleindiging van die heroïese Afrikanergeskiedenis: om gasarbeiders in ‘n Engelse land te word?

Die enigste ding wat my nog in Johannesburg hou, is ‘n internetverbinding. En as dit soos vandeesweek afgaan en dit kos my oor twee dae R200 om via die mobiele netwerk te verbind, dan verlang ek na die spreekwoordelike “huisie by die see” waar ek direk aan die datakabel na die noordelike halfrond kan verbind, verkieslik sonder ‘n Telkom, ‘n Vodacom, ‘n MTN of enige van die parasitiese instellings wat aanhou om ons uit te buit terwyl ons seker met ‘n twintigste van die Noord-Europese internetspoed tevrede moet wees.

Soos ek al voorheen geargumenteer het, kort ons ‘n nuwe Afrikanerekonomie wat naas die huidige tot stand moet kom. Maar ons sal ons ook stadigaan moet losmaak van die groot stedelike sentra, die hekatombes van die oliebeskawing. Hier gaan mense op ‘n groot skaal krepeer of selfs sterf as hulle weens ‘n gebrek aan energie en water begin inplof. Of stamgevegte op straat beleef.

In dié opsig was oorlede professor Carel Boshoff – en vóór hom, Verwoerd – versiende met die gedagte om na die Oranjerivier toe te trek. Die ylbevolkte, woestynagtige dele van die Noord-Kaap is waarskynlik waar die Afrikaner se toekoms lê, soos wat Gauteng, maar ook die Wes-Kaap, in ‘n stedelike nagmerrie van duur maar gebrekkige dienste, asook misdaad, korrupsie en anti-blanke rassehaat ontaard.

In hul sug na verowering, is Suid-Afrika se linkse blankes met hul krete van rassisme! reeds besig om die haat te saai wat ‘n stedelike guerilla-oorlog ontketen. Tans word dit verkeerdelik “misdaad” genoem. As ons maar ‘n paar slimmer linkses in dié land gehad het, sou hulle verduidelik het dat die klas van misdadigers, die sogenaamde loempenproletariaat, ‘n ewe revolusionêre stand is as Marx se stedelike werkers of Mao se landelike kleinboere.

Die loempenopstand is in volle swang. Die revolusionêre apokalips waarvoor soveel mense “teen apartheid gestry” of selfs gebid het, is hier. Dis monstrueus, gewelddadig en vernietigend.

Ongelukkig word mense nie deur rasionele argumente en voorspellings oortuig nie, maar deur emosie, beelde en reklame. Daarom, het dit nie tyd geword dat ons Afrikaanse skrywers, sangers en filmmakers die tema van ‘n stedelike voleindiging vir die volk dramaties uitbeeld nie? Maar ook: om die alternatief – die utopie van ‘n Afrikaanse saambestaan met genoeg sonkrag, varswater en bandwydte – voor te stel!

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.