Die blou Malema

zilleberetVolgende jaar se verkiesing kan ‘n geval van wees van wat die jongste politieke bykomstighede is om die massas mee te beïndruk.

Julius Malema en sy Ekonomiese Freedom Fighters (EFF) het bekend geword vir hul rooi barette, maar Saterdag was dit die DA-leier Helen Zille se bloue wat vir opwinding gesorg het.

Duidelik verwar Zille haar rol as politikus met dié van ‘n vermaaklikheidspersoonlikheid soos Lady Gaga wat skares met haar aandagsugtige, leë manewales meevoer.

Die baret is lank reeds die verkose hoofbedekking van revolusionêre, swart ousies, intellektuele, Beatniks, militêre spierpaleise en les bes, die Franse.

Ché Guevara was die beroemde gesig wat ‘n swarte verkies het. Pablo Picasso het by dieselfde kleur as die Latyns-Amerikaanse kommunis gehou.

Die Amerikaanse spesiale magte dra groen. Die VN-vredesmagte dra ligblou. En ons eie plaaslike hanswors Juju, het vir syne rewolusionêre rooi gekies.

Zille, wat verlede week in Mitchellsplein vir die bekendstelling van haar party se veldtog opgedaag het om kiesers aan te moedig om te registreer, het soos ‘n wafferse Malema die verhoog met ‘n blou mus bestyg.

Vol van dieselfde rewolusionêre ywer van ‘n paar weke gelede toe sy vlamme gespuug het oor die “ongelykheid wat apartheid-onderwys geskep het”, het sy vir een vrou in die skare geskree: “Joune is ‘n Halaal-baret!”

“Ons moet almal barette kry,” het sy ernstig gesê.

Haar roerende politieke boodskap het heeltemal met die DA se etos gestrook: “Het jy [die pop -ster] Rihanna in die koerante hierdie week gesien? Sy dra blou lipstick. Sy weet hoe om voor die mode te bly. Ons moet almal blou lipstick kry. Die hele wêreld word blou.”

Dié diepsinnige politieke insigte het sy in Afrikaans oorgedra, in weerwil van haar party se geswore eentaligheid, waarskynlik uit vrees dat dit op Engels vir haar gehoor sou verlore gaan.

Sy het egter moeite gedoen om in Engels te verduidelik dat die DA se promosievideo’s wat by die geleentheid vertoon is, nie “blue movies” is nie.

Zille en partyleiers Ivan Meyer, Lindiwe Mazibuko en Yusuf Cassim het die skare van ongeveer 1 000 mense aangemoedig om te registreer om te stem. Meyer, wat leier van die DA in die Wes-Kaap is, het gesê die party is op soek na 30 persent van die nasionale stem.

Hulle wil volgende jaar die Wes-Kaap, Gauteng en die Noord-Kaap inpalm, ongetwyfeld om Suid-Afrika se modesin te verbeter ten einde mee te ding met dié van Juju, asook die gelykheid van vreemde kleur lipstiffies te bevorder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.