Wat het Jaco Mulder op Daspoort gesê?

Deel op
Jaco Mulder (links), afgeneem saam met die nasionale leier, dr. Pieter Mulder
Jaco Mulder (links), afgeneem saam met die nasionale leier, dr. Pieter Mulder

“Ek gun dit nie vir Steve Hofmeyr om in die politiek te wees nie.” Só het mnr. Jaco Mulder, Gautengse leier van die Vryheidsfront Plus op Saterdag 26 Oktober 2013 in die AGS-kerk op Daspoort, Pretoria gesê.

In kommentaar wat gister op PRAAG se kommentaarafdeling geplaas is, skryf Mulder:

Ek stel dit sonder vrees vir teenspraak reguit aan Dan Roodt dat hy ‘n leuen verkondig op Praag, ek het dit nie gese nie. Ek het wel gese dat die volk dikwels van sterk leiersfigure soos Steve Hofmeyr en Louis Luyt verwag om die partypolitiek te betree om ‘n verskil te maak en dat mense soos Steve Hofmeyr en Louis Luyt eintlik ‘n ander nering het omdat deelname aan die Suid Afrikaanse partypolitiekestelsel ook behels dat jy jou dae in vervelige debatte moet deurbring wat nie noodwendig handel oor dit waaroor jy oorspronklik betrokke geraak het nie. Louis Luyt het na die ontnugtering wel na 1999 die parlement verlaat. Hierdie leiers kan ander mediums meer effektief gebruik soos byvoorbeeld Praag, Afriforum en ander.

Tydens Jaco Mulder se toespraak het ons notas bygehou; vandaar bogaande verbatim-aanhaling uit sy rede. Net voor die gedeelte waar Mulder na Steve Hofmeyr en Louis Luyt se deelname aan politiek verwys het, het hy gesê: “Sommige mense betree die politiek terwille van hul ego’s.” Binne die konteks van sy daaropvolgende kommentaar oor Hofmeyr en Luyt, moet dit dus as verdere sydelingse kommentaar op nie-beroepspolitici soos sangers of sakemanne gelees word. Hy het ook beklemtoon dat mnr. Louis Luyt “net drie maande in die parlement gehou het”, waarna sy setel aan iemand anders oorhandig is.

Sodat lesers self ‘n oordeel oor Jaco Mulder se toespraak kan vel, gee ons die res van die toespraak so volledig as moontlik hier weer.

“Afrikaners is plesierig… en dan maak hulle só. Soms stem hulle ook vir die DA. Hulle verkeer gesellig, hou van sport, die natuur, jag en kunstefeeste. Ons ontwikkel tegnologie: die eerste hartoorplanting is deur Chris Barnard, ‘n Afrikaner, gedoen.

“Ons maak geskiedenis, soos die republiek wat in 1961 tot stand gekom het. Sedertdien was daar egter ‘n totale magsoorgawe. Ons situasie is een van Afrikaner-onmag.

“Ons werk hard, maar brand uit.

“Op bladsy drie van Beeld verskyn daar ‘n berig oor ‘n Amerikaner wat oor Pretoria se standbeelde praat. Standbeelde van Paul Kruger moet afgebreek word.

“‘Net so sê prof. Makgoba (van die universiteit van Kwazulu-Natal): “Afrikaans is ‘n kanker.” Ook Jonathan Jansen is anti-Afrikaans. Die Vryheidsfront doen nie net dinge wat ‘n politieke party doen nie, hy moet ook ‘n stryd stry rondom taal en kultuur.

“Ek het nou na Deon Oppperman se reeks Donkerland (op KykNET) gekyk. Ek wil sê: Deon, jy is soos Malema. Dis ‘n skewe beeld van die Afrikaner wat jy oordra.

“Party van ons mense emigreer en doen afstand van hul identiteit. Party van ons verengels en stuur ons kinders na Engelse skole.

“Die DA is besig om te afrikaniseer. Hul party het ons stemme nie meer nodig nie. Ek noem die DA ‘n ‘liberaal-Afrikanistiese party’.

“Die Afrikaner het in 1994 sy politieke vryheid verloor.

“Ek wil ons leiers kritiseer: hulle moet om ‘n ronde tafel sit en vergader, hul verskille uit die weg ruim.

“Dit is noodsaaklik dat daar in elke stadsraad ‘n Vryheidsfrontlid moet wees.

“Ons is Euro-Afrikane. Ons woon in Afrika, maar het ‘n Westerse kultuur. Ons staan vir minderheidsregte, taal en kultuur. Die Vryheidsfront Plus is die laaste bastion van Westerse Christelike waardes in Suid-Afrika. Indien ons nie herkies word nie, sal ons uit die openbare lewe verdwyn. Daarmee saam sal die finansies verlore gaan (wat ons stryd aan die gang hou).

“Daar is mense wat by die politiek betrokke raak vir hulle ego’s.

“Mense kom na my toe en sê: Steve (Hofmeyr) moet parlement toe gaan. (Maar) ek gun hom nie om in die politiek te wees nie. Ek hou van Steve, maar neem nou maar die voobeeld van Louis Luyt. Min mense weet dat hy ‘n stigterslid van die DA was. Toe hy sien waarheen die DA op pad is, het hy en die Federale Alliansie na die Vryheidsfront Plus toe oorgeloop. Om in die politiek te wees, beteken dat jy jou dae in vervelige debatte moet deurbring wat nie noodwendig handel oor dít waaroor jy oorspronklik betrokke geraak het nie.

“Louis Luyt het net drie maande in die parlement gehou, toe sien hy nie meer daarvoor kans nie. Dit is toe aan iemand anders oorgegee wat sy termyn voltooi het.

“Ons beskik oor ‘n vyfpunt-aksieplan wat ons verkiesingsplan uitmaak.

“Mense besef nie watter rol ons agter die skerms speel om Afrikanerbelange te beskerm nie. Sonder ons sou Kleinfontein lankal in die moeilikheid gewees het. Op 30 Oktober gaan die portefeuljekomitee (van die provinsie Gauteng) weer Kleinfontein besoek.

“Mense is onbetrokke. Hulle wil liewer ander dinge doen.

“Die Vryheidsfront moet deel word van die hoofstroomdebat in die land.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.