George Soros se ‘oop samelewing’

George Soros
George Soros

deur Leon Lemmer

Frederik van Zyl Slabbert (1940-2010) was van 1979 tot 1986 die leier van die opposisie, die PFP (Progressiewe Federale Party), in die Parlement. Daarna was hy in ‘n leidende hoedanigheid by IDASA (Institute for a Democratic Alternative in South Africa, later Institute for Democracy in Africa) betrokke. Hierdie instituut het demokratiese verandering in Suid-Afrika nagestreef. Een van die maniere waarop dit gedoen is, was om gesprekvoering tussen blankes en die ANC te bevorder. Die bekendste “sukses” wat in hierdie opsig behaal is, was toe ‘n aantal oorverligtes, veral Afrikaanssprekendes, en ‘n afvaardiging van die ANC in 1987 in Dakar, Senegal, vergader het.

In 2006 is Slabbert se boek, The Other Side of History, gepubliseer. ‘n Vertaalde weergawe het ook verskyn: Duskant die Geskiedenis: ‘n Persoonlike Terugblik op die Politieke Oorgang in Suid-Afrika (Kaapstad: Tafelberg, 2006, 192p). Daarin vertel die outeur hoe hy dikwels vir George Soros (gebore in 1930), ‘n Hongaarse Jood, om geld genader het vir IDASA-projekte, wat politieke verandering en die einde van apartheid ten doel gehad het. Met Soros-geld is bv die Gorée-instituut, ‘n Afrika-vredesakademie, op Gorée-eiland by Dakar, wat destyds as slawevertrekpunt gedien het, gevestig.

Slabbert:

As mens is Soros ‘n omstrede figuur wat partydige en emosiebelaaide reaksies ontlok. Hy word óf bewonder óf verwerp; óf mense hou van hom óf hulle verafsku hom; hy word óf geloof óf beledig. Ek weet dat baie van die oordele oor hom gegrond is op gebrek aan begrip vir wat hy probeer doen, of op gebrekkige inligting. Soros self sal die eerste wees om te erken dat hy nie ‘n heilige is nie … Ek het Soros ook persoonlik en op baie informele vlak leer ken. Ek dink ek kan my verstout om te sê ons is vriende. Hy is ‘n komplekse mens, maar kan instinktief ‘n veinser uitken; hy haat dit om verneuk te word. Terselfdertyd huiwer hy nie vir ‘n oomblik om ‘n saak mildelik te steun as hy reken dat dit verdienste het nie (p 111-112).

Soros word dikwels gestereotipeer as ‘n ryk man wat ‘goeie dinge wil doen’; dat hy ly aan grootheidswaan wat hom motiveer om state en samelewings te wil verander. Niks is verder van die waarheid nie. Soros glo wel dat samelewings, gemeenskappe en individue kan verbeter, en dat daar hulpbronne beskikbaar is om hulle te help om dit te doen. Maar hulle kan ook hierdie hulpbronne misbruik, en dis belangrik om dit te erken wanneer dit gebeur. Weens my verbintenis met George Soros oor die afgelope 18 jaar het ek geleer dat filantropie opbouend en selfkorrigerend kan wees (p 117).

Die Open Society Foundation of South Africa (OSFSA) is in 1993 met Soros-befondsing gestig. Die kantoor is in Pinelands, naby Kaapstad. Slabbert noem dat Desmond Tutu tydens die amptelike opening gekla het dat die OSFSA-leierskap “te wit” is (p 105). Van 1993 tot 2005 het Soros R3 miljard aan projekte in Suider-Afrika bestee (p 111). Op die webwerf word hoog opgegee oor hoe die OSFSA nie-rassisme bevorder. Terselfdertyd word egter genoem dat Soros sedert 1979 studiebeurse uitsluitlik aan plaaslike swartes toegeken het. Dit lyk dus asof Soros net so nie-rassig soos Tutu is.

Die hoofkantoor van die Open Society Foundations, wat in 1979 tot stand gekom het, is in New York. Hierdie organisasie is in 70 lande bedrywig. ‘n Oorweging by die toekenning van studiebeurse is “onderverteenwoordiging” van ‘n groep. Soros se benadering skakel dus goed in by die ANC-dogma van demografieweerspieëling, oftewel dat swartes plaaslik 80% of meer verswelgende verteenwoordiging op elke terrein moet geniet.

Wat reeds uit hierdie uiteensetting geblyk het, is dat Soros sy rykdom, wat meer as $20 miljard bedra, in baie lande filantropies aanwend om bepaalde ideologiese doelwitte te bereik. Om vas te stel wat Soros nastreef, is dit nodig om na die idees van sy leermeester, Karl Popper (1902-1994), te verwys. Popper was ‘n Oostenrykse Jood wat in 1937 na Nieu-Seeland gevlug en hom in 1946 in Londen gevestig het. Hy was ‘n dosent aan die London School of Economics tot sy aftrede in 1969. Hy het bekendheid veral vanweë sy boek, The Open Society and its Enemies (1945), verwerf.

Aanvanklik het Popper aangetrokke tot die kommunisme gevoel, maar die gewelddadigheid van kommuniste het hom vervreem. Anders as Karl Marx het hy toe tot die gevolgtrekking gekom dat die verloop van die geskiedenis nie voorspel kan word nie. ‘n Oop samelewing vereis volgens Popper ‘n nie-kommunistiese, liberale, demokratiese staatkundige opset waarin kritiek geduld word. In sy geskrifte is daar ongetwyfeld ook ‘n voorkeur vir sosialisme te bespeur.

Slabbert:

Die onderskeidende kenmerk van Popper se filosofie is die feilbaarheid van menslike kennis; dat kennis vooruitgaan deur die erkenning van foute; en ‘n skerp agterdog jeens, selfs ‘n heftige afkeer van, grootskaalse sosiale manipulasie. Popper het beslis meer kritiese studente as onkritiese aanhangers gekweek … Wat Soros onderskei as ‘n filantroop is dat hy dieselfde selfkritiese styl aangeneem het wat Popper … en ander voorstaan (p 117). Maar sosiale manipulasie op kleiner skaal is, volgens Popper, blykbaar wél geoorloof: “All ‘final solutions’ in politics and economics should be replaced by what [Popper] called ‘piecemeal social engineering'” (Elizabeth Devine, Thinkers of the Twentieth Century, London: Firethorn Press, 1985, p 455).

Om vas te stel wat volgens Popper ‘n oop samelewing is, haal ek vervolgens uit drie bronne aan:

Open society: Karl Popper’s conception of a ‘free society’ in which all forms of knowledge and all social policies can be openly criticized … a society in which individuals can aspire to change history and in which the future as a whole is recognized as inherently unpredictable (David Jary, Collins Dictionary of Sociology, London: HarperCollins, 1991, p 411, 482).

The open society is a highly individualistic one, characterized by free critical thinking; it is a society where individuals are confronted with responsibility for their personal decisions (Justin Wintle, Dictionary of Modern Culture, London: ARK Paperbacks, 1984, p 317).

Volgens Popper is ‘n geslote samelewing een “which do not allow individuals to rise according to merit” en waar daar “indoctrination in education” is (Alan Bullock, The Fontana Dictionary of Modern Thought, London: Collins, 1977, p 442).

Die ANC klop homself graag op die skouer deur voor te gee dat Suid-Afrika sedert 1994 ‘n oop en vrye samelewing is. Henry Jeffreys het dit pas beaam asof dit die waarheid is (Die Burger, 23 deser, p 14). In werklikheid voldoen die huidige plaaslike situasie nie naasteby aan Popper se vereistes nie:

(1) In die nuwe Suid-Afrika is daar groot beperkings op wat wittes mag sê, wat nie vir nie-wittes geld nie. Daar is benamings wat glad nie vir lede van nie-wit etniese groepe (swartes, bruines en Asiate) geuiter mag word nie. Die blote gebruik van so ‘n woord word as bewese rassisme beskou. Vir blankes, daarenteen, mag enige benaming onder die son toegesnou word sonder dat ‘n haan daaroor kraai.

(2) Dit bevestig dat, in ons opset, dit nie om indiwidualiteit gaan nie, maar om die heil van daardie drie nie-wit etniese groepe; uiteraard veral om die bevoordeling van die meerderheidsgroep, die swartes. Die wittes is die enigste etniese groep teen wie daar ingevolge die grondwet suiwer rassisties indiwidueel en groepsgewys gediskrimineer mag/moet word. FW de Klerk het pas in Nederland beweer dat Suid-Afrika ‘n “uitstekende” grondwet het (Die Burger, 26 deser, p 4). Dit is dieselfde mens wat volgens Leon Wessels dit sterk oorweeg het om teen daardie einste grondwet te stem, maar nie die moed gehad het om dit deur te voer nie (Praag 20 deser).

(3) In die praktyk word daar nie klem op die aanvaarding van indiwiduele verantwoordelikheid by veral swartes geplaas nie. Sonder teenprestasie en dikwels op grond van wanprestasie (oproer, klipgooiery, vandalisme, brandstigting – dinge wat die UDF/ANC hulle deur voorbeeldstelling geleer het) kan hulle ononderbroke voortgaan om bakhand te staan; die bodemlose-put-sindroom.

(4) Rassistiese en seksistiese oorwegings speel ‘n oorheersende rol by bevoordeling. Weens sterk anti-blanke sentiment kom bitter min van meriete-beoordeling tereg. Dit is nie kenmerkend net van die ANC nie. Die provinsie Wes-Kaapland word deur die DA beheer. Studiebeurse word aan kandidate toegeken wat “ideaal van ‘n voorheen benadeelde agtergrond [moet] wees” (Die Burger, Talent, 26 deser, p 3).

(5) Indoktrinasie blyk uit bv die skoolleerplanne en die herskrywing van die geskiedenis. Daar word bv gepoog om die ANC as ‘n nie-geweldadige, nie-misdadige en hoogs morele onderneming voor te stel. Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch, het pas aangekondig dat sy indoktrinasieweek, waarin hy sy weergawe van “diversiteit”, oftewel gedwonge rasse-integrasie, vier (Praag, 29 September), ‘n jaarlikse instelling gaan word.

(6) Die sterk kommunistiese neigings in die ANC diskwalifiseer die nuwe Suid-Afrika grondig van die moontlikheid dat dit werklik ‘n oop samelewing kan wees. Die plaaslike hoofkommunis is sonder protes reeds jare lank die minister van hoër onderwys, wat die afwesigheid van ware akademiese vryheid bevestig.

‘n Opsig waarin die nuwe Suid-Afrika wél aan ‘n Popper-vereiste voldoen, is die pogings om die aard van die samelewing te verander. Dit geskied onder die vaandel van die sambreelterm “transformasie”. Die tragedie is dat sodanige veranderings dikwels nie verbeterings is nie; eerder die teenoorgestelde. Hierdie sosiale ingenieurswese is ook nie beperk in omvang nie, maar grootskaals, bv die vervanging van blankes in openbare (bv staatsdiens-) poste met swartes. Ook die plasing van subekonomiese behuising in eens weeldebuurte; iets wat nie in beskaafde lande voorkom nie. Toegegee, Suid-Afrika is sedert 1990/1994 in toenemende mate nie meer ‘n beskaafde land nie.

Die vraag is in hoeverre Slabbert se oorwegend positiewe beeld van Soros korrek is. Of is Slabbert deur milde Soros-geld mislei omdat albei skynbaar soortgelyke politieke ideale gekoester het? ‘n Antwoord is moontlik te vinde in die volgende publikasie: David Horowitz and John Perazzo, The Shadow Party and the Shadow Government: George Soros and the Effort to Radically Change America (Sherman Oaks: David Horowitz Freedom Center, 2010 – slegs elektronies beskikbaar).

Soros se sosialisme, wat al “anti-capitalist redistributionism” genoem is (Kindle 357), vind in die VSA die beste weerklank deurdat hy eerder die Demokratiese Party as die konserwatiewer Republikeinse Party steun. Hy bevorder die Demokrate se belange deur talle hulporganisasies, insluitende vakbonde, finansieel te ondersteun. In die massamedia word gunstige propaganda gekoop. Die opvallendste sukses het in 2008 gekom met wat die “Colorado Miracle” genoem is, toe die Demokratiese Party onverwags in die verkiesing in daardie staat die meerderheid stemme behaal het.

“The way we get progressive change is to control government” (K 29). Die linkse politieke organisasies wat deur Soros beheer word, word die Shadow Party genoem. Hierdie party is in 2003 amptelik gestig. Die meerderheid wat die Demokratiese Party in die 2006-verkiesing in die Kongres en Barack Obama in die presidentsverkiesing in 2008 behaal het, word onder andere aan Soros toegeskryf. Obama het die Demokratiese Party se presidentskandidaat geword danksy Soros se ondersteuning; dus nadat Soros sy verwagte steun aan die ander kandidaat, Hillary Clinton, onttrek het. Soros was bevriend met sowel Bill as Hillary Clinton. “The Soros agenda, in fact, has become the Obama agenda” (K 36), bv die sosialistiese nasionale gesondheidsorgplan. ‘n Soortgelyke plan is ook in Suid-Afrika in die vooruitsig. Obama se minder simpatieke beleid teenoor Israel kan aan Soros se anti-Sionistiese standpunt toegeskryf word.

Waarna Soros streef, is wêreldeenheid en -regering, ‘n totalitêre staat, dus ‘n globale gemeenskap van wêreldburgers en die gelykmaking van mense op ‘n makroskaal. Dit is gebaseer op sy vertolking van sy leermeester Popper se idees: “One-worldism and the prospect of perfecting humanity through social engineering” (K 36). Een van die maniere om sy ideaal te bereik, is om te velde teen landsgrense te trek. Met die oog op tydelike of permanente vestiging moet alle lande vir almal toeganklik wees.

Die opset in die nuwe Suid-Afrika is sodanig dat die landsgrense maklik deur groot getalle onwettige immigrante oorgesteek word. Dit moet ‘n riem onder die Soros-hart wees. Suid-Afrika se tradisionele rykdom word voortaan met baie armlastige dese en gene gedeel. Soros onderskryf ongetwyfeld ook die ANC-dogma dat ons eerder Afrikane as Suid-Afrikaners is. Soros beywer hom openlik vir ‘n linksgesinde regbank; iets wat plaaslik uiting in ANC-beheerde regterlike aanstellings vind. Daarby wil Soros die gevangenisbevolking verminder en by implikasie sosiale stabiliteit verwater. Hy doen dit deur hom te beywer vir bv die afskaffing van wette wat die verkoop en gebruik van dagga beperk. Dit is onwaarskynlik dat Soros beswaar sal opper teen die ANC-regering se gewoonte om op ‘n onverantwoordelike manier die gevangenistermyn van misdadigers te verkort; natuurlik mits hulle nie reeds ontsnap het nie.

Die terreurdade wat op 11 September 2001 gepleeg is, is deur Soros toegeskryf aan “American Supremacy” as “the number one problem facing the world” (K 109). “American imperialism was ultimately responsible for the attacks” (K 115). “Soros maintained that the proper long-term response to 9/11 would be for America to launch a global war on poverty by sending massive amounts of aid to impoverished regions around the world where terrorism flourished. Terrorism, Soros maintained, was the result of a ‘growing inequality between rich and poor, both within countries and among countries'” (K 115). Kwaad moet dus met goed vergeld word.

Plaaslik moet ons dikwels aanhoor dat die grootste ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika voorkom. Dit dien as grondslag vir die ANC se beleid van die verdeling van rykdom, bedoelende: Neem van die wittes en gee dit aan die swartes. Die plaaslik bekende aandrang op verhoogde minimum lone “to potentially unlimited levels” (K 252) is ook deel van die Soros-pakket, terwyl die aandrang op verhoogde produktiwiteit agterweë bly.

In die nuustydskrif Time (21 deser) is daar ‘n artikel (p 40-48) oor hoe ryk Amerikaanse filantrope, onder andere Soros, hulle geld aanwend om die samelewing te verander. Dit kom neer op ‘n onderskrywing van plaaslik oorbekende frases soos om “hande te vat”, “‘n verskil te maak” en “te transformeer”. Gewag word ook gemaak van hierdie ewe bekende wanvoorstelling: Wanneer “one’s view is left, one’s view is right” (p 48). Teen 2004 het Soros reeds $20 miljoen bestee om die konserwatiewe Republikein, George W Bush, as president te ontsetel, maar Soros was eers vier jaar later suksesvol. Daar word ook genoem dat Soros $100 miljoen aan Human Rights Watch bewillig het (p 44).

In die konteks van my skrywe is die volgende woorde van die outeur, Michael Scherer, belangrik: “Not since the early 20th century have individuals had so much power to unilaterally shape our lives and shift our ideas. And never in history have they been able to exert their will so easily on such a global scale” (p 42-43). Dit kom neer op die tot standbrenging van die teenoorgestelde van ‘n oop en vrye samelewing en Soros is een van die hoofaanstigters hiervan.

Gestel dit is waar dat Soros daarin geslaag het om met sy geld en strategie ‘n regerings- en presidentsverandering in die VSA te (help) bewerkstellig. Dit is ook bekend dat sy geld deels verantwoordelik is vir die algehele breuk met die verlede wat in 1990/1994 in Suid-Afrika plaasgevind het. Ek het ook aangetoon dat die ANC-regering in baie opsigte Soros-idees omarm. As geld ‘n politieke ommeswaai in ‘n groot land soos Amerika kan veroorsaak, hoeveel makliker kan baie minder geld ‘n baie kleiner land, soos Suid-Afrika, onherroeplik verander? Terselfdertyd word daar dan ‘n einde gemaak aan apartheid, wat erg oordrewe as ‘n misdaad teen die mensdom voorgestel is.

Die vraag wat in die midde gelê moet word, is watter indiwidue moontlik regstreeks groot geld ontvang het om Suid-Afrika nie ewolusionêr staatkundig te laat ontwikkel nie, maar dit rewolusionêr te verander? Daar is veral een hulpbron wat uitnemend geskik is om skouspelagtige manteldraaiery te bewerkstellig, naamlik geld. Sodanige geld kon van bv Soros of die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA) afkomstig gewees het. Aanvanklik kom sulke inligting nie op die lappe nie, maar mettertyd dalk wel. Dit kan moontlik die openbare beeld van vooraanstaande, geëerde indiwidue ingrypend verander.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.