Vryheidsfront Plus hou nie van Steve Hofmeyr

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Die Vryheidsfront Plus sorg nie eintlik vir vuurwerke by die stembus nie, want tydens die afgelope munisipale verkiesing het die party se steun van 0,83% tot 0,5% gedaal. Die getal stemme wat die party op hom kon verenig het insgelyks van 146 796 tot 66 588 gedaal, ‘n afname van bykans 55%.

Vir ‘n party wat kennelik in een of ander doodspiraal verkeer, bespeur ‘n mens ‘n verbysterende vermetelheid by die Vryheidsfront Plus wat ná bykans 20 jaar van mislukkings glo dat hy alle wysheid in pag het. Net gister het die Gautengse leier van die party, mnr. Jaco Mulder, smalend na Steve Hofmeyr verwys en gemeen dat Steve maar ‘n politieke groentjie is wat by hom kan kom leer.

As sanger steek Steve sy nek baie ver uit vir die Afrikanersaak en moet hy aanvalle van Naspers en dreigemente van boikotte trotseer, iets wat hom finansieel kan knou. Hoe vergelyk dit met die “veilige politiek” van die Vryheidsfront wat wegkruip telkens as daar ‘n omstrede kwessie in die openbaar gedebatteer word?

Ten minste lees Steve Hofmeyr boeke en skryf ook gereeld een, iets waarvan min mense in die Vryheidsfront Plus ooit verdink kan word. Die versameling beroepspolitici wat tans in die party saamgetrek is, kan ewe min as denkers of visioenêre leiers beskryf word. Maar hoe gewild is Jaco Mulder vergeleke met Steve Hofmeyr? As ‘n mens hul aantal volgelinge op Twitter as maatstaf neem, lyk die prentjie só:

Jaco Mulder: 165 volgelinge

Steve Hofmeyr: 84 639 volgelinge

Met ander woorde, Steve Hofmeyr beskik oor 512 keer die aantal volgelinge van Jaco Mulder! Trouens, Steve het meer volgelinge op Twitter as die 66 588 stemme wat die VF Plus in die 2011- munisipale verkiesing behaal het.

Wie se invloed op die landspolitiek is die grootste? Onlangs het me. Joan Fubbs van die ANC vir Steve in die parlement daarvan beskuldig dat hy “verdeeldheid” in die land saai, waarmee sy waarskynlik bedoel dat hy die dogmas van die regerende party bedreig. Jaco Mulder, is ek bevrees, hou geen bedreiging vir die ANC of sy dogmas in nie.

Logies behoort elke Afrikaner die Vryheidsfront Plus te ondersteun, synde die laaste oorblywende party wat nog aan verkiesings deelneem en wat so min of meer die Afrikanerbelang verteenwoordig. Of altans, dít het ek my die afgelope drie of vier jaar probeer wysmaak terwyl ek as Vryheidsfrontlid gepoog het om die party tot ‘n meer waagmoedige en verbeeldingryke benadering te oorreed.

Net gister het ek weereens in ‘n kort toespraak by die VF Plus se Gauteng-kongres probeer argumenteer dat patriotiese Afrikaners ‘n veel meer aanvallende benadering tot die politiek behoort te volg as tans. Onder andere het ek na die welslae van twee Europese regse partye verwys: die Partij voor de Vrijheid in Nederrland, asook die Front National in Frankryk. Veral die Front National het binne enkele jare van 2% steun onder die leierskap van mnr. Jean-Marie Le Pen tot 25% onder sy dogter, mev. Marine Le Pen, se leiding gevorder. Vandag hou die FN hoop vir die hele Westerse wêreld in, want hulle verwerp die gedagte van witskuld en dat inheemse Europeërs al groter getalle gekleurde immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste in hul lande moet aanvaar. Net soos wat die Franse Sosialistiese Party en ander linkse parrtye in Europa, tesame met die voormalige Oos-Duitsland en Sowjetunie, gehelp het om die ANC-SAKP in Suid-Afrika aan bewind te bring, kan die nuwe patriotiese bewegings dalk help om die huidige politieke skaakmat in ons land te beëindig.

Die Vryheidsfront Plus en sy leierskap is veels te defensief in sy uitsprake en tans verkies die party ook om sy Afrikanerwortels minder te beklemtoon deur hom as ‘n “party vir alle minderhede” aan te bied. Daar vind samesprekings met “Khoisan-groepe” plaas. Die party is bang om as ‘n “wit party” of as “rassisties” geëtiketteer te word. Trouens, die einste Jaco Mulder het my op ‘n keer so byna-byna op die lug oor RSG gerepudieer nadat Piet Croucamp of een van sy geesgenote weer die R-woord in my rigting geslinger het, die enigste “argument” wat daar nog in die verslete linkse arsenaal oorbly. Ook glo die VF Plus dat die gemiddelde kieser meer in “kwessiepolitiek” soos die Gautengse tolstelsel of die Transnet-pensioene belangstel as in groter ideologiese stryde soos selfbeskikking en Afrikanerregte. In die wandelgange word die party reeds as ‘n “meer Christelike DA” beskryf.

By ‘n ander VF-vergadering het ek die lof van die Rooi Oktober-versetsbeweging met sy geslaagde betogings op 10 Oktober besing. Waarop een van die amspdraers uit die Vrystaat so ewe laat val het: “Ons is die Vryheidsfront. Ons glo nie in sulke goed nie.” Al is dit as ‘n grap bedoel, weerspieël dit die soort knusse, risikovrye benadering van die beroepspolitikus wat van een vergadering na ‘n ander strompel en niks meer regkry as om die huidige onregverdige stelsel te legitimeer nie.

Daarmee gooi die Vryheidsfront Plus ook koue water op die gedagte dat daar ‘n breë Afrikanerbeweging mag ontstaan wat uit verenigings, buiteparlementêre groepe, aktiviste, skrywers en kunstenaars sou bestaan en wat uiteindelik tesame met ‘n politieke groepering vryheid vir die Afrikaner mag verwerf.

My toesprakie oor ‘n meer aanvallende en intellektuele styl van politiek, ‘n bietjie soos praag bedryf, is insgelyks deur die Gauntengse provinsiale kongres verwerp. Ek moet sê, my moed sak in my skoene dat ‘n mens ooit die Vryheidsfront tot ‘n “kultuurverandering” sou kon inspireer. Waarskynlik bestaan daar diep groepsielkundige redes vir dié soort geslotenheid en geloof dat ‘n stereotipe burokratiese benadering tot politiek soos dit in die dae van die Nasionale Party bedryf is, ons uit die huidige moeras gaan help.

Dit begin al hoe meer vir my lyk asof daar geen politieke party meer is wat bereid is om Afrikanerregte en -belange openlik in die openbaar te verdedig nie. Steve doen dit doen, praag doen dit, asook Rooi Oktober. Maar nie die Vryheidsfront Plus nie. Hy is besig om Khoisan-regte te ontdek. En tolhekpolitiek. Nie dat ek gekant is teen die beweging teen tolhekke in Gauteng nie, maar te midde van die felle stryd wat ons elke dag teen die ANC en DA se multikulturele dogma, asook regstellende aksie en SEB, voer, kan sulke “klein politiek” mos nooit ‘n mens se groter vryheidstrewe en ideale vervang nie? Om nie van plaasmoorde en ander vorme van sadistiese geweld te vergeet nie. Dis tyd om teen die tirannie van die meerderheid, asook die argaïese linkse mites in Suid-Afrika, te groepeer. Ek twyfel egter sterk of die Vryheidsfront gaan opdaag. Die party het ‘n broertjie dood aan die neem van risiko’s en enige stryd of geveg – al word dit bloot, soos tans, in die media gevoer – is nie sonder risiko nie.

Dit bring my by waarskynlik die grootste enkele kwaal van Afrikaner-beroepspolitici soos hulle tydens die laaste stuiptrekkinge van die Nasionale Party – en in die Vryheidsfront Plus? – bestaan het: hul gebrek aan intellektuele diepte. Die De Klerk-geslag het uiteindelik misluk, nie vanweë ‘n gebrek aan middele nie, maar vanweë ‘n gebrek aan denke. Hulle was eenvoudig nie opgewasse teen Joe Slovo en Ronnie Kasrils, asook die horde linkse ideoloë, joernaliste en akademici nie.

Die krag van die patriotiese Europese partye soos die Nederlandse PVV en die Franse FN is dat hulle oor tien of twintig jaar ‘n formidabele stel argumente téén hul linkse opponente ontwikkel en geboekstaaf het. Naas sulke partye, bestaan daar dinkskrums, webwerwe, verenigings en versetsgroepe wat oor ‘n brreë front met die vyand slaags raak.

Dis ‘n ope vraag of dit nog enige sin het om aan amptelike partypolitiek in Suid-Afrika deel te neem. Ek is geneig om te dink dat alternatiewe groepe soos die VVK, HNP en ander wat hul doelbewus van die hoofstroompolitiek afwend, op die duur vir ons meer kan beteken as om verder aan ‘n politieke stelsel deel te neem wat al hoe minder legitiem lyk, juis vanweë korrupsie, opportunisme en beroepspolitici wat om elke hoek en draai die stelsel tot hul eie voordeel “benut”.

Vir my was dit ‘n week van lang vergaderings en groot teleurstellings, want die Strategiese Komitee van Afrikaanse organisasies is ná bykans twee jaar van gereelde vergaderings ook besig om voor allerlei keuses te weifel en vas te steek.

Die kern van Afrikanerverset in die vorm van Steve Hofmeyr, praag en Rooi Oktober is omtrent al wat my inspireer. Dalk moet ons van die res vergeet en bloot aanhou om daardie kern te versterk. Ons het reeds alles wat ons nodig het: steun, idees en ‘n duidelike einddoel wat Afrikanervryheid in ‘n konfederale bestel gaan wees. Lees gerus ook my vorige toekomsvisie oor hoe dit sou kon realiseer.

Enige politieke beweging staan of val by die gehalte van die denke wat dit voortdryf.

Dit geld nie net vir politieke partye in die teenswoordige Wes-Europa nie, maar ook vir die vroeë Nasionale Party, Broederbond en verwante bewegings wat tydens die 1930s en 1940s merkwaardig gegroei het om in 1948 die verkiesing te wen.

Ons geslag wat bevoorreg was om in patriotiese Afrikaanse skole te kon grootword en die republiek van 1961 in al sy glorie te ervaar, is dit aan ons kinders en kleinkinders verskuldig om daardie selfde helder denke terug te vind wat eie aan wenners is.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.