Die Vrystaatse Onderwysdepartement in samewerking met die Vrystaatse Universiteit sê hulle is vasbeslote om die gehalte van die onderwys in die provinsie te verbeter.
Hulle het die Internet Uitsaaiprojek in Bloemfontein bekendgestel ingevolge waarvan verskeie vakke soos Wiskunde en Wetenskap deur ervare onderwysers op ‘n daaglikse grondslag aangebied sal word.
Dit sal van ‘n studio op die suid-kampus van die Vrystaatse Universiteit aangebied word. Die projek van meer as vyf-miljoen rand per jaar, sal meer as 60 skole in die Vrystaat bereik.
Die LUR vir Onderwys, Tate Makgoe, sê leerders, veral in die swart skole, het nou toegang tot goeie onderwysers wat reeds bygedra het tot die selfvertroue van onderwysers én leerders.
Makgoe sê dit is een van die ingrypingsprosesse om die gehalte van die onderwysstelsel te verbeter.
Die Departement van Onderwys in Gauteng het intussen voorsorgmaatreëls getref vir 450 matriekleerders van Bekkersdal aan die Wesrand om te kan voorberei vir hul eksamen wat aanstaande Maandag begin.
Klasse in die gebied word ontwrig weens die afgelope ruk se geweld oor ontevredenheid met munisipale dienslewering.
Inwoners eis dat die Westonaria munisipaliteit ontbind word en onder administrasie geplaas word.
Donderdag is sewe mense in hegtenis geneem nadat ‘n gemeenskapsentrum aan die brand gesteek is.
Vroeër die dag het die polisie die geweld, wat begin oorspoel het na ‘n naburige township, Simunye, gestuit. Die polisie monitor steeds die gebied. – RSG