‘Afrikaans is ‘n kanker wat vernietig moet word’

Deel op
makgoba
Malegapuru Makgoba

Uitlatings van die rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal, prof. Malegapuru Makgoba, wat luidens ‘n mediaberig gesê het Afrikaans is ‘n ‘kanker wat vernietig moet word’, kan nie geduld word nie en die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag hieroor by die Menseregtekommissie indien, sê adv. Anton Alberts, die VF plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Prof. Makgoba se uitlatings oor Afrikaans het verlede jaar ook opslae gemaak toe hy in die media gesê het dit is ‘n ‘sterwende taal’ by die universiteit en dat hy beplan om die departement vir Afrikaans-Nederlands te sluit.

Adv. Alberts sê prof. Makgoba se beweerde uitlatings is tekenend van die totale aanslag teen Afrikaans op alle vlakke van onderwys in Suid-Afrika. Onlangs het prof Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, in ‘n toespraak voorgestel dat Engels die enigste onderrigtaal op skoolvlak moet wees.

“Ironies genoeg het Afrikaans by die universiteit van Kwazulu-Natal vanaf 2011 tot 2012 gegroei wat bewys dis allermins ‘n sterwende taal soos wat prof. Makgoba sou aandui.

“Dit blyk verder dat Afrikaans inderwaarheid by ander universiteite in die land waar dit gedoseer word, besig is om te groei eerder as om te kwyn.

“Daar word berig hoe daar byvoorbeeld in 2006 by die Noordwes-Universiteit 50 eerstejaarstudente, 22 tweedejaars en 11 derdejaars was. Hierdie jaar is dit onderskeidelik 119, 45 en 27.

“Wat ons dus sien, is dat Afrikaans op hierdie vlak besig is om te groei ten spyte van die groot aanslag teen die taal.

“Indien Afrikaans mettertyd wel uit die hoër onderwys gedwing word om eentaligheid te bewerkstellig, sal ‘n geestelike verarming van die Afrikaanse gemeenskap plaasvind wat tot nadeel van die hele land se wees.

“Pogings om Afrikaans te vertrap is boonop in stryd met die Grondwet wat veeltaligheid en die gelykheid van al die amptelike landstale bepleit,” sê adv. Alberts.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.