Niekie van den Berg speel Afrikaners af teen bruines

Deel op
Niekie van den Berg
Niekie van den Berg

deur Danie Langner

Net ʼn kort voetnota oor Niekie van den Berg wat in vandag se Beeld dit nodig gevind het om Afrikaners sleg te sê en af te speel teen bruin Afrikaanssprekendes. Dit is die diepte van kulturele denke en strategiese insig van hulle skadu-minister vir kultuur wat my ernstig laat wonder oor die DA se vermoë om ʼn billiker bedeling vir Afrikaners te bring as hulle miskien eendag sal regeer.

In Augustus was ek saam met ʼn afvaardiging van die ATR by die parlement om juis met die DA gesprek te voer oor hulle moedswillige verwaarlosing van Afrikaans. Dit was ʼn erg flouerige vergadering wat maande later nog niks opgelewer het, anders as ʼn lekker ete. Die humor van die dag was toe daar oor en weer gestry is oor wie het nou “agter die skerms” die grootste bydrae gelewer om die swakkerige talewet met die ANC te beding.

In die vergadering het ek teenoor die voorsitter die opmerking gemaak dat kiesers meer verwag van die DA as blote partypolitiek. ʼn Party wat skadu-ministers aanstel en eendag die land wil regeer behoort in woorde, dade en beleid te kan toon watter alternatiewe regering hulle vir Suid-Afrikaanse burgers bied. Na hierdie tweede Afrikanerblaps in een jaar dink ek die DA gaan nie vir ʼn minderheid soos die Afrikaner ʼn beter bedeling bied nie. Ironies genoeg is dit hierdie mense wat die skadu-minister so lelik vloek oor die foon wat die meeste vir hom stem.

Op ʼn ander plek in vandag se Beeld is daar ʼn mooi artikel waar Tutu in Swellendam gesê het Afrikaners is wonderlike mense. Dit is seker die verskil tussen ʼn staatsman en ʼn politikus.

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.