‘Merkel moet meeluistering as ‘n kompliment beskou’

Deel op
cellspy
Merkel kry ‘n ‘kompliment’

Woede oor die VSA se spioenasie op bondgenote is fel aan die toeneem. Meksiko en Brasilië het ook reeds beswaar daaroor aangeteken.

Kort op die hakke van Frankryk dié week, het Duitsland het die Amerikaanse ambassadeur, John B Emerson, ontbied oor die meeluisterskandaal wat dreig om verhoudinge tussen die twee lande te versuur.

Merkel se woordvoerder Steffen Seibert het gesê so iets is onaanvaarbaar en dit moet onmiddellik gestaak word. Die Duitse regering beskik glo oor klinkklare bewyse dat die kanselier se selfoon afgeluister word.

Duitse bronne beweer dat slegs Merkel se amptelike foon afegluister word en nie haar privaatfoon nie.

Die VSA het intussen die broeiende skandaal met vleitaal probeer besweer. ‘n Voormalige werknemer van die Amerikaanse geheimediens sê indien dit waar is behoort Duitsland dit as ‘n “kompliment” te sien.

Hy het gesê die tydskrif Forbes het Merkel as die wêreld se magtigste mens, naas Obama, aangewys. Die werknemer voer aan dat Veiligheidsagentskappe om dié rede haar kommunikasie sal wil monitor.

Hy het egter nie uitgebrei oor hoekom vorige slagoffers van meeluistering in sy eie land soos onder die huidige Demokratiese president of voormalige president Nixon, nie gewoonlik dié stap as ‘n kompliment beskou nie.

Onder Nixon was die Watergate-meeluisterskandaal ‘n politieke atoombom in die Verenigde State in die 1970’s as ‘n gevolg van inbraak op 17 Junie 1972 by die Demokratiese Nasionale Komitee se hoofkwartier by die Watergatekantoorkompleks in Washington, DC.

Die Republikeinse Nixon-administrasie se poging om sy betrokkenheid weg te steek, het uiteindelik gelei tot die bedanking van president Richard Nixon op 9 Augustus 1974.

Dit was die enigste bedanking van ‘n Amerikaanse president tot op datum. Die skandaal het ook daartoe gelei dat 43 persone tronkstraf gekry het, en dosyne van hulle was Nixon se top administrasie amptenare.

Die Duitse minister van Buitelandse Sake wil die bewerings oor meeluistering van kanselier Angela Merkel se selfoon met die Amerikaanse hoogste gesant bespreek.

Dit volg net ‘n dag nadat Merkel met die Amerikaanse president Barack Obama geskakel het om ‘n verduideliking oor die meeluistering te eis.

Volgens berigte het sy aan Obama gesê indien die bewerings waar is, sal dit tot ‘n ernstige vertrouensbreuk lei.

Obama het ontken dat Merkel se kommunikasie tans afgeluister word.

Frankryk het ook intussen hul weersin uitgespreek oor die VSA se spioenasie op bondgenootlande.

John Kerry, Amerikaanse sekretaris van Buitelandse Sake, het skaars in Frankryk Maandag geland, toe die koerant Le Monde hom verwelkom het met hoofopskrif oor die spioenasie op Franse burgers sowel as Franse diplomate.

Woedend oor die onthullings het die Franse die Verenigde State se ambassadeur, Charles H. Rivkin, ingeroep en hul “uiterste afkeur” oor die insameling van 70.000.000 digitale kommunikasiestukke vanaf 10 Desember 2012 tot 8 Januarie 2013 uitgespreek.

In ‘n verklaring aanlyn het James Clapper, die direkteur van nasionale intelligensie, Le Monde se verslaggewing in twyfel probeer trek en dit “misleidend en verkeerd” op ongespesifiseerde maniere genoem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.