Indringende vrae aan Kaapstad oor tenderkonkelary, MyCiti-busprojek

Deel op

mycity‘n Konstruksiemaatskappy wat by die multimiljoenrand gekonkel met tenders voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi betrokke was, het ook die tender vir die ontwikkeling van die peperduur MyCiti-busprojek van die Stad Kaapstad ontvang.

Mnr. André Fourie, raadslid van die Vryheidsfront Plus vir Kaapstad, het sy ernstige kommer hieroor uitgespreek in ‘n lys indringende vrae wat op die volgende Kaapstadse raadsvergdering op 30 Oktober aan die burgemeester voorgelê sal word vir beantwoording.

Volgens mnr. Fourie is die tender vir die ontwikkeling toegeken aan die konstruksiemaatskappy Group Five nog voordat die gekonkel rondom die Wêreldbeker-tenders aan die lig gekom het.

In dié reuse tenderbedrogspul het maatskappye gekonkel oor projekte soos die Bergrivierdam, snelweë, sokkerstadions, ’n deel van die Sishen-spoorlyn en selfs universiteitskoshuise.

Van die grootste konstruksiemaatskappye in die land het aan die Mededingingskommissie erken hoe tenders onder mekaar “uitgeruil” is vir projekte dwarsoor die land, maar veral in die Wes-Kaap en Gauteng.

Grootbase van konstruksiemaatskappye het bymekaargekom om spesifiek self te “besluit” wie kry watter tender. Die wat teruggestaan het, sou ‘n vergoedingsbedrag van R500 000 ontvang.

Mnr. Fourie sê die VF Plus wil daarom nou van die Stad Kaapstad weet wat hy gedoen het om seker te maak daar was geen ongerymdhede en prys-sameswering by die MyCiti-projek nie en dat ‘n eerlike en mededingende tenderproses gevolg is.

“Die burgemeester sal die versekering moet gee dat die proses eerlik was, veral aangesien dit nou duidelik blyk dat die stad sy finansiële verantwoordelikhede gruwelik versuim het deur nie kontrakte wat deel gevorm het van die vorige sameswering, behoorlik na te gaan nie.

“Ons moet nou aanvaar dat die Stad alles wat aan hom opgedis is deur die nasionale regering, Fifa en die kontrakteurs, sonder meer aanvaar het en dat daar op reuse skaal ‘n gekonkel met tenders plaasgevind het sonder dat die Stad daarvan bewus was.

“Nou moet die Stad moontlik regstappe neem wat die belastingbetalers nog miljoene kan kos om vermorste geld te verhaal,” sê mnr. Fourie.

Mnr. Fourie se vrae is as volg:

1. Kan die Burgemeester aan die raad verduidelik of die tenderproses – en of die Group Five-tender in die besonder, behoorlik ondersoek is vir soortgelyke tender-sameswering en prysvasstelling by die toekenning van die MyCiti-infrastruktuurtender?  Indien wel, wanneer kan die verslag van so ‘n ondersoek verwag word? Indien nie, waarom nie? en

2. Kan die burgemeester aan die raad en Kaapstad se belastingbetalers die versekering gee dat daar nie met hierdie tender weer soos in die geval van die stadion-tenders onregverdige, onregmatige, onbillike en onnodige gelaaide kostes ingebou is nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.