Derde babalyk in Diepsloot gevind

Diepsloot
Deel op

Diepsloot‘n Babalyk, die derde een binne ‘n week, is Saterdag in Diepsloot in die noorde van Johannesburg gekry. Die lyk was in plastiek toegedraai.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die baba was vermoedelik tussen twee en drie maande oud.

Die baba se ouers is nog nie opgespoor nie.

’n Anonieme wenk het die polisie na die lyk gelei. “Ons het ’n ondersoekspan na Diepsloot gestuur wat op die babaseuntjie afgekom het waar hy in ’n stroom tussen uitbreidings ses en sewe gedryf het,” het die woordvoerder gesê.

’n Lykskouing sal gehou word om die doodsoorsaak vas te stel. Intussen word ’n saak van moord ondersoek.

Dié vonds kom nadat twee lyke in Diepsloot Dinsdagoggend in ’n buitetoilet gevind is.

Vyf mans is weens die ontvoering, verkragting en moord van die kleuters aangekeer.

Anelisa Mkhondo (5) is verlede maand in soortgelyke omstandighede in Diepsloot vermoor. Haar lyk is by ’n vullishoop naby aan waar die niggies gekry is, gelos.

‘n Woordvoerder van die Krugersdorp-polisie, Ao. Hitler Ngwenya, het gesê hulle het Saterdagoggend in Muldersdrift op tweelingbabas afgekom van wie een reeds dood was.

“Die babaseuns is in ’n stuk veld gekry.

“Hulle is in ’n kombers toegedraai wat in ’n swart plastieksak gesit is.”

Die oorlewende seuntjie is in die Leratong-hospitaal opgeneem.

Ngwenya het gesê die voorval word ook ondersoek.

Intussen sal die 29-jarige Diepsloot-verdagte vandag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Die swart man is Vrydag in Alexandra in hegtenis geneem.

Hy is die vyfde en hoofverdagte in die saak. Die ander vier verdagtes het Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en moord.

Die saak is tot Donderdag uitgestel sodat die verdagtes om regshulp kan aansoek doen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.