Konfederasie: die alternatief vir liberalisme en sosialisme

Dr Christo Landman
Christo Landman

deur Christo Landman

Die Suid-Afrikaanse politiek word tans gekenmerk deur ‘n keuse tussen die sosiaal-demokratiese inmengingstaat en liberaal-demokratiese meerderheidstirannie. ‘n (Kon)federale raamwerk bied vir ons uitkoms.

‘n Sosiaal-demokratiese mag/inmengingstaat ken aan die staat soveel oorkoepelende magte toe dat die regering-van-die-dag  op elke terrein, ook op die terrein van burgerlike instellings, inmeng en voorskryf wat mag en wat nie mag nie.

Die liberaal-demokratiese meerderheidstirannie is die koppetel-benadering waarvolgens individuele regte die bevoegdhede van die staat bepaal, die magte van die staat aan bande lê en burgerlike vryhede tot persoonsvryhede beperk.

In ‘n diep-plurale samelewing soos die RSA, behoort die demokrasie die volgende verreken:

  • Individuale burgerlike vryhede
  • Die vryheid van burgerlike instellinge (soos kerke, opvoedkundige instellinge, ens.)
  • Die interne vryheid en aspirasies van gemeenskappe volgens ‘n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, kulturele etos en religieuse rigting

Die oogmerk van hierdie artikel is om so ‘n alternatiewe bedeling binne die konteks van die grondwet en aan die hand van streeksontwikkelinge te beredeneer. Die towerwoord  vir hierdie alternatiewe model is die reg op selfbeskikking.

Grondwetlike selfbeskikkingsvorme

Die Grondwet van die RSA maak voorsiening vir die volgende selfbeskikkingsvorme/modelle:

  • Die reg van (nie-regerings-) burgerlike instellinge op interne selfbeskikkingsreg.  Artikel 31(1)(b) van die Handves  bepaal dat persone wat aan ‘n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort die reg het om saam met ander mense kultuur-, godsdiens- en taalverenigings te vorm, in stand te hou en om daarby te mag aansluit.
  • Die reg van taal-, godsdiens-, kultuur- en ander rade om te funksioneer ter bevordering en beskerming daarvan en ter versterking van die demokrasie (a. 185).
  • Die reg van ‘n raad om deur die Kommissie vir Gemeenskapsregte  as sodanig erken te word (a.185).
  • ‘n Vorm of vorme van territoriale selfbeskikking vir gemeenskapsrade volgens eiesoortige taal-, godsdiens- en kultuur- en ander-eienskappe en -behoeftes (a.185).
  • ‘n Oorhoofse wet op selfbeskikking (a.235) wat bg. vorme/modelle sistematiseer, asook erkenning gee aan die VN se deklarasie van die regte van inheemse groepe (by name die Koi en San) as eerste mense van die subkontinent.

Kommissie vir Gemeenskapsregte

Die genoemde selfbeskikkingsvorme kan net effektief funksioneer as die werksaamhede van alle rade behoorlik en effektief deur die Kommissie vir Gemeenskapsregte by die regering bevorder en juridies beskerm word.

Die onafhanklikheid van die 185-kommissie kan net verseker word as die lede/kommissarisse  daarvan deur ‘n onafhanklike regskommissie benoem en met magte beklee word. Vir die afgelope tien jaar is die Kommissie as nasie-bou-instrument gebruik en die funksie daarvan tot beskerming en bevordering van gemeenskapsregte onderspeel.

Wat van stamowerhede?

Stamowerhede staan in die post-1994-bedeling as swart gemeenskapsowerhede bekend. Die regte van stamowerhede is gegrond op die interne gewoontereg van sodanige gemeenskappe. Daar word in artikel 211 en 212 van die Grondwet hiervoor voorsiening gemaak. Die tersaaklike wet wat hier geld is die konsepwet op Tradisionele Leierskap. Ook hierdie vorme van selfbeskikking vra om erkenning.

Die gelykheidsklousule

Die gelykheidsklousule van die Grondwet stel die eis aan die organe van die staat en aan die regering en wetgewende, asook regsprekende instellinge dat burgerlike instellinge en rade volgens die Romeins-Hollandse regsposisie nie in ‘n nadelige posisie vis-à-vis die inheemse instellinge geplaas sal word nie.

Funksies van die plurale staat

Van die belangrikste funksies van die plurale staat, wat beide individuele en gemeenskapsregte erken, is:

  • Desentralisasie van magte bo/sentraal na onder/regionaal, sodat die gemeenskap se inspraak op die plaaslike owerheidsvlak gemaksimaliseer kan word.
  • Desentralisasie van taal-, godsdiens- en kultuur-gemeenskappe na regio/gebiede/deelstate waar sodanige gemeenskappe se kollektiewe regte ten beste administratief hanteer kan word.
  •  ‘n Handves van Kultuur- en Gemeenskapsregte (a.30)
  • ‘n Handves van Godsdiensregte (a.15)
  • ‘n Handves van Amptelike Taalregte (a.6 en 31).

Onstuitbare (kon)federale staat in aantog

Dit staan vas dat die subkontinentale ekonomiese samewerking van en tussen Suider-Afrikaanse state onstuitbaar grondwetlike politieke vorme sal aanneem, en wel binne ‘n stelsel wat as ‘n konfederale gemenebes van state bekend sal staan.

In hierdie verband kan aanvaar word dat etniese nasiestate soos Swaziland, Botswana en Lesotho net so ‘n konfederasie sal binnegaan  as hulle interne etniese soewereiniteit gewaarborg is en hulle assosiasie ook deur sesessie verbreek kan word.

Burgerlike reg en politieke alliansievorm as noodsaak

Daar is tans ‘n uitsigloosheid onder kiesers oor die alternatief vir sosialisme en liberalisme. ‘n Politieke alliansie van gelykdenkendes insake bostaande kan die politieke toneel radikaal wysig.  Met ander woorde: die derde alternatief, wat eintlik die eerste keuse moet en behoort te wees, moet as saak van uiterste belang geskep en gevorm word.

Daarom dat ‘n politieke leiersberaad van die allergrootste belang vir Suid-Afrika en vir die subkontinent is. Wie gaan dit vir ons doen?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.