Subaru Forester XT CVT: briljant, dog duur

Deel op

deur André Olivier

Subaru Forester XT van voor
Subaru Forester XT van voor

Subaru is baie meer bekend vir die vuurspuwende raserige Impreza WRXe as vir hulle baie bekwame gesinsmotors. Die Subaru Forester was nog altyd iets buitengewoons, iets links van die res van die mark.

Die nuwe slimmer, veiliger, verder – die beste sportnutsvoertuig, nou nog beter, aldus Subaru Suid Afrika, bied dieselfde legendariese DNS van sy voorgangers met verskeie afrondings, ‘n  innoverende lys van moderne tegnologie, die jongste veiligheidskenmerke en selfs meer weelde en ‘n groot binneruim.

Die Subaru Forester van die kant af gesien
Die Subaru Forester van die kant af gesien

Baie keer wanneer jy begin rondkyk om ‘n sportnutsvoertuig aan te skaf en jy doen ‘n vergelykende analise, kry jy die mees interessante feite oor die Subaru Forester in die hande. Met dié motor kan jy maar al die blokkies afmerk waarna ‘n sportiewe gesinsman soek.

Die motor se netjiese instrumentepaneel
Die motor se netjiese instrumentepaneel

Ons toetsmotor, die Forester-reeks-vlagskip, die XT CVT, bied baie meer as wat ‘n mens sou verwag. Daar is funksies soos 8-rigting-kragsitplekke, leer, navigasie, ‘n Harmon Kardon-klankstelsel met HD-radio, Bluetooth en nog meer. Ons Forester het ook die enigste opsie-pakket wat op die XT beskikbaar is, met sleutellose toegang, HID-hoofligte en Subaru se sigstelsel (aanpasbare tog, laanvertrekwaarskuwing en voor-botsingsremfunksie). En, natuurlik, as gevolg van die XT-kenteken, het ek geweet dat ons een van die mees kragtige kruisvoertuie in hierdie segment onder hande het. Subaru se turbo-aangejaagde, direkte-inspuiting- 2,0-liter-bokser- viersilindereenheid lê onder die enjinkap, gereed om 177 Kw (240 perdekrag) los te laat. Die legendariese Subaru All-Wheel Drive bied uitstekende greep, balans en beheer op enige terrein, beide op die pad en in die veld. Die motor voel geplant, vas op die pad. Ander veiligheidskenmerke sluit sewe lugsakke in wat strategies deur die kajuit geleë is; die ringvormige passasiersel, wat van hoëtreksterktestaal  gebou is en wat die energie van ‘n botsing om die passasierskompartement in teenstelling met daardeur versprei. Dan is daar nog Subaru se elektroniese bestuurdershulpprogram – Vehicle Dynamics Control (VDC).

Ons sal erken dat die Forester teen R529 000 duur is vir die segment, maar hy is soveel anders as enige iets in die segment dat ons die prys sal verskoon. Subaru hoop dat hierdie vlagskipmodel meer opwinding bied as die meeste van hul hoofstroommededingers, met byna net soveel eienskappe as die middel-luuksesegment waar motors soos die Audi Q5, BMW X3 en Volvo XC60 uithang. Wat verrigting betref, is ons egter oortuig dat die Forester met sy bokserturbo-enjin stof in die duurder Duitsers se hoofligte kan skop, veral dié van hul viersilinderweergawes.

Die outomatiese agterdeur
Die outomatiese agterdeur

Die motor voel ruimer as wat hy is en binnelangs is daar baie goed van al die spasie gebruik gemaak. Die druk van ‘n knoppie om die agterste deur oop te maak en te sluit, maak dit maklik om bagasie of inkopies te laai wanneer jou hande  vol is. Die openinghoogte is ten volle verstelbaar vir hoe groot hy moet oopmaak. Daar is ook ‘n 4.3-duim-kleurskerm wat ‘n omvattende reeks inligting soos brandstofverbruik, eko-evaluering, aktiewe veiligheid, X-af-funksionaliteit, horlosie / buitetemperatuur en self-onderhouddiagnose bevat. Voeg daarby ‘n truratkamera wat die bestuurder kan dophou wanneer agteruit gestoot word. Met SI-DRIVE kan jy ‘n bestuurstyl kies om by die  omstandighede aan te pas. Die enjin en ratkas word beide beheer met die hulp van ‘n rekenaar, en ‘n enkele skakelaar kan gebruik word om een van die drie ryprofiele te kies, wat wissel van sagte kraglewering tot ‘n sportiewe superskerpreaksie.

Die agterdeur-beheer
Die agterdeur-beheer

Die XT het ‘n “sport-gestemde” onderstel wat nie beskikbaar is in die ander Foresters nie, maar moenie geflous word om te dink dat dit die voertuig in ‘n XL WRX verander nie. Terwyl greep uit die AWD-stelsel goed is, is die smaller bande, ryhoogte en sagter vering alles tekens dat die motor nie ‘n draai met dieselfde entoesiasme as sy tydrensuster die WRX sal kan vat nie. Die XT is as gevolg van sy grootte en gewig baie meer geneig om  in skerp draaie te onderstuur. Desnieteenstaande dink ons steeds dat die Forester beter as enige van sy mededingers in die segment hanteer . Alhoewel die Forester baie weelde-items bied en die bougehalte en duursaamheid van die materiale kan kers vashou met die medeingers in die segment, dink ons tog dat die Forester nie heeltemal op dieselfde ontwerpvlak as byvoorbeeld die Hyundai Santa Fe of Kia Sorento is nie. Die nuwe Lineartronic  CVT- (voortdurend veranderlike transmissie) ratkas, is ontwerp om die nuwe bokser-enjin en onderstel te pas, en is toegerus met ‘n aansienlik wyer ratverhouding om hoogs reageerbare versnelling te lewer, asook verbeterde rybaarheid en hoër brandstofdoeltreffendheid te bewerkstellig. Om ratte te verander gebruik jy die trek-lepels aan weerskante van die stuurwiel. Alhoewel baie glad en van die beter outomatiese ratkaste wat ek al gebruik het, was die gevoel dat die ratkas te stadig vir die enjin is baie opvallend.

Pakruimte in die Subaru Forester
Pakruimte in die Subaru Forester

 

Ander standaardtoerusting is die reënsensor en ligsensor om te verseker dat jy  te alle tye onbelemmerde sig geniet. Die ruitveërspoed word aangepas en die hoofligte aktiveer wanneer nodig. Wat veiligheid betref,  bied Subaru legendariese veiligheid op elke model. Dit is geen wonder dat hulle obsessie met veiligheid gelei het tot ‘n lang geskiedenis van vyf-ster-ANCAP, Euro NCAP, JNCAP en Versekeringsinstituut-hoofwegveiligheid (IIHS) veiligheidsgraderings. Kortom, die kombinasie van die Subaru Boxer-enjin en simmetriese All-Wheel Drive bied die hoogste vlakke van stabiliteit, balans en beheer vir ‘n veiliger rit. Daar is sewe SRS-lugsakke, insluitend dubbele voorste lugsakke en ‘n  gordyn- en ‘n bestuurdersknie-lugsak wat met  sensors ontwerp is om gewig  na ‘n botsing te verminder.

Subaru se simmetriese All-Wheel Drive is waarskynlik die beste AWD-stelsel ter wêreld, met 40 jaar van aanhoudende vervolmaking sedert die bekendstelling daarvan, die toevoeging van X-modus wat die bestuurder die vermoë gee om die simmetriese All-Wheel Drive-stelsel te optimaliseer vir makliker bestuur oor nat terrein en om veilig oor slegte paaie, gladde oppervlaktes en steil heuwels te navigeer, en dít met net een skakelaar. X-af sentraliseer die beheer van die enjin, die gebruik van die middelste ewenaar, agterste ewenaar, remme en vastrapbeheer en ‘n beheerde afdraandefunksie. X-af se status word visueel op die multi-funksieskerm aangedui. Daar is ook 220 mm-grondvryhoogte wat baie meer as die meeste voertuie in die segment is.

Sou ek self die Subura Forester XT CVT aankoop? Waarskynlik nie. Nie omdat die motor nie volkome briljant is nie, maar omdat ek net eenvoudig voel dat hy te duur vir die segment is waarin hy meeding. My keuse sal waarskynlik by een van die Koreane lê of dalk die nuwe Toyota Rav4 wat in VX-gewaad steeds R129 000 goedkoper as die Forester is.

Ons gee die Subaru Forester XT CVT 4 uit 5

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.