Rooi Oktober gee die olifant ‘n naam

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Rooi Oktober was ‘n dawerende sukses, en net nog ‘n bewys van Gustav Venter se stelling dat Afrikaners se uitnemendheid in ons breinselle, en nie in ons spermselle, gesetel is nie. Alhoewel die opkoms by die Rooi Oktober-optogte nie getalsgewys groot was nie, was die reaksie daarop wel reusagtig. Die maatstaf van ‘n suksesvolle optog is sekerlik hoe dit mense laat praat, en selfs hoeveel omstredenheid dit genereer.

Gemeet hieraan was Rooi Oktober soos ‘n atoombom in die hoenderhok. Al wat ‘n nuusagentskap is, het berigte daaroor gedra. Dit maak steeds vandag opslae. Sekere inbellers na radiostasies is dae ná die aksies steeds woedend. Ek het selfs een op SAFM gehoor wat gemeen het dat Sunette Bridges permanent stilgemaak moet word, en dat die regering “te sag met blankes is”. Sy het nie gesê wat presies sy sou wou sien gebeur nie, maar Zimbabwe is sekerlik nie meer ver nie.

Kontrasteer bogenoemde met jou deursnit-Cosatu-optog: Duisende “wêkkas” wat marsjeer oor een of ander irrelevante grief. Asblikke word omgesmyt. Winkels word geplunder. Niemand gee egter om oor wat Cosatu wil hê nie; die nuusberigte handel eerder oor hoe erg die verkeer ontwrig gaan word. Die aangeleentheid waaroor die mars gehandel het, word bykans nooit verder bespreek nie. Terug na Gustav: Wat 20000 Cosatu-lede nie kan regkry nie, kan wel deur 300 Afrikaners vermag word. Uitnemendheid in aksie.

Rooi Oktober het dit teen ‘n paar probleme gehad. Rassistiese geweld teen blankes was een beswaar. So ook rassistiese regstellende aksie en SEB, wat neo-apartheid is wat ook teen blankes gemik is.

Hierop het Rooi Oktober se kritici die mees belaglike reaksies denkbaar gehad. Van ‘n ernstige poging om Rooi Oktober se griewe aan te spreek, was daar min sprake. En die mees belaglike reaksie van almal? Dit moet sekerlik die breindood stelling wees dat “almal onder misdaad ly.” Ek is baie lus om diegene wat laasgenoemde loutere onsin kwytraak, ‘n dwarsklap toe te dien dat hulle leë koppe daarvan tol, hulle dan te troos met hierdie woorde: “Toemaar, almal ontvang op een of ander stadium ‘n taai klap.” Asof die feit dat ander bevolkingsgroepe mekaar ook teiken met geweldsmisdaad, op enige manier iets doen om die leed aan blanke slagoffers van rassistiese, swart-op-wit geweld ongedaan te maak. Nee, nee, nee! Die feit dat ander groepe rassistiese haatmisdaad as normaal of alledaags beskou en almal daaronder gebuk gaan, is geen verskoning nie. Dit is eerder ‘n bekentenis dat misdaad so buite beheer is dat almal dit maar bloot aanvaar as gewoon.

‘n Ander gunstelingreaksie was om die boodskapper te probeer skiet; om Steve Hofmeyr en Sunette Bridges te probeer stilmaak met die ewe verstandelik-gestremde towerwoordjie van die linkse: “Rassiste!” Ongelukkig vir die linkses beteken die krete van rassisme in hierdie konteks niks buiten dat die linkse se standpunt deur die feite vernietig is nie, en is die term só holrug gery dat dit geen impak meer maak nie.

Nie een van diegene wat hierdie belaglike snert kwytraak, nie één van Rooi Oktober se kritici, het die moed om die ware vraagstukke wat deur Rooi Oktober geopper is, te konfronteer nie.

Hier is die eerste ontbeantwoorde vraag: Wie is dit wat wié op rassistiese wyse aanval?

Buiten vir uiters skaars voorvalle van wit-op-swart geweld, wat dan op histeriese en sensasionalistiese wyse aan die groot klok gehang word, selfs al is daar geen geweld betrokke nie (die Reitzhuis-voorval), is bykans alle rassistiese geweld in Suid-Afrika van die swart-op-wit verskeidenheid, selfs al kontroleer mens vir relatiewe getalle (nog ‘n gunstelingverskoning van die linkses). Blankes word op ‘n daaglikse grondslag deur ander volke aangeval, verkrag, beroof, vermoor en geterroriseer, teen ‘n tempo buite alle verhouding met die geweldsmisdaadkoers in lande waar blankes ‘n meerderheid is. Bykans sonder uitsondering word hierdie rassistiese haatmisdaad teen blankes gemik egter as sogenaamde gewone misdaad afgemaak, en fluit geen voëltjie daaroor nie.

Dit is aan die ander kant nie blanke bendes wat swart plaashuise binneval en die bejaarde bewoners daarvan doodmartel nie. Geweldsmisdaad is ‘n skaars ding in oorwegend-blanke gemeenskappe, vergeleke met Suid-Afrika se koers. Hoe kry die inwoners van Kopenhagen, ‘n metrogebied met miljoene inwoners, dit byvoorbeeld reg om minder as 10 verkragtings per jaar te pleeg (boonop word bykans al die verkragtings daar deur immigrante gepleeg), maar in die bloederige NSA is daar 55000 vrouens per jaar wat verkragtings aanmeld, met sekerlik honderde duisende meer verkragtings wat nooit aangemeld word nie? Gekoppel hieraan: Waarom teiken swart mans blanke vrouens vir verkragting, maar nie andersom nie? Hoeveel blanke mans verkrag swart vrouens? Ek kan aan geen enkele wit-op-swart verkragtingsvoorval in die nuusblaaie oor die afgelope vyf jaar dink nie, maar ek mag verkeerd wees.

Die tweede vraagstuk, wat ook glad nie aangespreek word deur Rooi Oktober se kritici nie, is: Waarom is daar ‘n gewapende stryd teen die vorige regering se rasgebaseerde wetgewing geloods, maar wanneer blankes swart-op-wit rassisme en rasgebaseerde wetgewing soos RA en SEB moet verduur, is dit skynbaar skielik heeltemal in die haak?

Hierop is die reaksies ewe absurd as die flou verskonings wat aangebied word oor misdaad. Een is dat die onregte van die verlede reggestel moet word en daarom is hierdie rassisme glo “nodig.” My reaksie: Dus word die onregte van die verlede reggestel deur dieselfde onregte te herhaal. Geen blanke het enige iemand se grond “gesteel” nie. Geen blanke wat ná 1978 gebore is, kon ooit stem in die vorige bedeling nie. Waarom moet blankes dus op rassistiese wyse geteiken word?

Rooi Oktober was, kortom, hoogs suksesvol, want skielik praat die hele land oor die vrae wat die linksetjies eerder probeer verswyg. Aan die linkses wat Rooi Oktober desperaat probeer stilmaak: Skiet gerus die boodskapper; wees snedig oor Steve of Sunette se persoonlike lewens. Bied gerus absurde en breindood verskonings aan, wat selfs nie eens julle self ernstig kan opneem nie. Julle gaan egter nie die feite wat deur Rooi Oktober aan die groot klok gehang is, laat verdwyn nie. Julle kan nie blankes verhoed om bloot die nuus te lees, of om met vriende en kennisse te gesels, en om ons eie menings te vorm nie. Geen hoeveelheid rassisme-gillery gaan ons skielik laat dink ons woon in ‘n misdaadvrye paradys nie. Geen mooi naampies vir die onverdedigbare rassisme wat ons teiken (“regstellende aksie”, “bemagtiging” of “transformasie”) gaan ons laat dink dat dit nié blote swart-op-wit rassisme is nie.

Welgedaan, Rooi Oktober, dat julle die moed gehad het om die olifant in die hoek op sy naam te noem.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.