’n Onderwyser wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 11-jarige leerling verkrag het, het Woensdag in die Dutywa-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.
Die saak is tot Vrydag uitgestel.
Kapt. Jackson Manatha, polisiewoordvoerder, het gesê die onderwyser is Maandag in hegtenis geneem en sal in aanhouding bly.
Volgens Manatha het die leerkrag die meisie glo Vrydagaand gebel en gevra dat sy geld terugbring wat hy aan haar gegee het.
Met haar aankoms het hy haar glo gevra om in ’n verhouding met hom te wees. Toe sy hom ignoreer, het hy haar na ’n nabygeleë veld gesleep en haar na bewering verkrag.
Die meisie het haar ouers van die voorval vertel en ’n klag is gelê. – Sapa