Skoolkinders is glo Woensdag uit hul klaskamers gejaag en gedwing om by ’n oproer oor dienslewering in Bekkersdal, naby Westonaria, aan te sluit.
Konst. Thembi Masango, polisiewoordvoerder, het gesê die betogers het die polisiekantoor en die kliniek met klippe bestook.
“Die polisie het rubberkoeëls gebruik om hulle uiteen te jaag.”
Verskeie mense is in hegtenis geneem weens openbare geweld.
Altesaam 35 mense is Dinsdag in hegtenis geneem nadat drie polisievoertuie en ’n voertuig van die rampbestuursentrum in die betoging beskadig is.
Masango het gesê ’n petrolbom is ook na die polisiekantoor geslinger.
’n Sterk polisieteenwoordigheid is Woensdagmiddag in die gebied ontplooi. – Sapa