Warm debat oor ‘Rooi Oktober’ op Al Jazeera- globale TV

Deel op

the_streamGisteraand om 9.30 nm. SA tyd het ‘n vurige debat op Al Jazeera se sosialemediaprogram, The Stream, plaasgevind en is terselfdertyd op dié Katarrese TV-maatskappy se globale netwerk uitgesaai.

Die onderwerp was die Rooi Oktober-veldtog wat deur Sunette Bridges georganiseer is en deur die sanger Steve Hofmeyr en dr. Dan Roodt van praag ondersteun is. Daar was vier deelnemers: Bridges, Roodt, wat die saak teen volksmoord en swart-op-wit geweld gestel het, met aan die ander kant die Naspers-rubriekskryfster Christi van der Westhuizen en die filmmaker Sipho SIngiswa.

Sowel Bridges as Roodt het die standpunt gestel dat die vlakke van geweld in die land, asook aanvalle op blankes, onaanvaarbaar hoog is. Bridges het insgelyks na regstellende aksie verwys wat blankes van hul werksgeleenthede ontneem en veroorsaak het dat daar slegs 1,2 miljoen poste in die land oor is wat deur blankes gevul word.

Christi van der Westhuizen
Christi van der Westhuizen

Beide Van der Westhuizen en Singiswe het die twee ander deelnemers van “rassisme” beskuldig omdat hulle na die ras van die aanvallers verwys. Van der Westhuizen het egter erken dat “daar hoë geweldsvlakke in Suid-Afrika bestaan”, maar dit aan “komplekse rasse- geslags- en sosio-ekonomiese faktore” toegeskryf. Sy het ook voortdurend beklemtoon dat blankes gemiddeld ryker as swartes is en dat geweld deur dié ongelykheid veroorsaak word.

Dr. Dan Roodt het na die gruweldade teen kinders en oumense verwys, asook die geval van Willemientjie Potgieter genoem as ‘n voorbeeld van sadistiese en patologiese geweld wat deur jong swart mans gepleeg word. Christi van der Westhuizen het ook erken dat “meeste misdaad onder jong swart en bruin mans voorkom”, maar dat hulle ook ‘n groter kans staan om vermoor te word.

Sipho Singiswa
Sipho Singiswa

Wat die begrip volksmoord betref, het Van der Westhuizen en Singiswa ontken dat so iets tans in die land plaasvind. Bridges het egter daarop gewys dat ontkenning die finale stadium van volksmoord is. Roodt het gesê dat dit nie oor die getal mense gaan wat vermoord word nie, maar die bedoeling en die aard van die beserings. Die skending van slagoffers se liggame dui op kliniese sadisme. Omdat Afrikaners juis vanweë hul etniese afkoms, ras, taal en kultuur geteiken word, pas die volgehoue plaasmoorde en gruweldade wel die definisie van volksmoord soos dit in die internasionale reg, onder meer in die 1948-konfense teen volksmoord van die Verenigde Nasies, gebruik word.

Van der Westhuizen het die Rooi Oktober-veldtog as ‘n “politieke projek wat op blanke oorheersing (white supremacism) gemik is”, beskryf. Sy meen dat die reg van swart groepe om oor blankes te regeer, daarmee “gedeligitimeer” word, met die implikasie dat blankes hulself sou wou regeer, wat volgens haar op “blanke oorheersing” neerkom.

Ná afloop van die debat op TV, het dit na Twitter en Facebook oorgespoel, met Steve Hofmeyr wat insgelyks aktief deelgeneem het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.