Maak Chinees die enigste onderrigtaal in SA

Deel op

chinese_karaktersdeur Christo Viljoen, Stellenbosch

In die moderne kubernetika word gebruik gemaak van wasige logika-algoritmes (fuzzy logic) in beheerstelsels.

Dit is die term wat onwillekeurig by my opkom wanneer ek luister na prof. Jonathan Jansen se talryke uitsprake, soos pas weer met sy uitsprake oor Engels as voorkeur- (lees: enigste) onderrigtaal op skoolvlak gebeur het.

So beweer hy dat “swart studente aan tweetalige universiteite ’n ander redenasie vir die gebruik van Engels as onderrigtaal aanvoer”. Dit naamlik dat “as hulle die opoffering kan maak om nie in Tswana of Zoeloe onderrig te word nie, kan die Afrikaanse studente ’n soortgelyke opoffering maak betreffende onderrig in Afrikaans”.

Hy vervolg: “Dié standpunt – kom ons leer maar almal in Engels – dui op die verdere diepgewortelde agterdog onder swart studente dat Afrikaanse studente ’n groot voordeel geniet omdat hulle onderrig word in die dosent se moedertaal: Afrikaans.”

Volgens Jansen se wasige logika word Afrikaanssprekendes “onbillik” bevoordeel omdat die dosent in sy (die dosent se) moedertaal (Afrikaans) onderrig gee.

Hulle word dubbeld bevoordeel omdat hulle (die studente) in hul moedertaal onderrig ontvang.

Die onwillekeurige vraag is: Watter “onbillike” voordeel geniet Engelssprekende studente wat onderrig word deur dosente wie se moedertaal Engels is?

As Afrikaanse studente dientengevolge “opofferings” moet maak, soos “Tswana- of Zoeloesprekende” studente deur in Engels onderrig te word, kom laat ons billik wees en vereis dat álle studente en álle dosente opofferings maak, Engelssprekendes ingeslote. Dus, géén onderwyser/dosent mag in sy (die dosent se) moedertaal doseer nie, en alle studente moet in ’n taal anders as hul moedertaal klas loop.

Met dieselfde wasige logika stel ek voor: Kom ons voer Chinees in as enigste onderrigtaal in ons skole (en universiteite?). Chinees is per slot van sake die grootste wêreldtaal met verreweg die meeste huistaalsprekers.

Dan is ons afgestudeerdes voorbereid daarop wanneer China die land klaar gekoloniseer het, en álle onderwysers en dosente én studente maak die opoffering om in ’n ander taal as hul eie onderskeidelik onderrig te gee en te ontvang. Niemand word dus onbillik bevoordeel nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.