Bekkersdal, Malamulele in oproer oor munisipaliteite

protest3Die polisie is ontbied na Bekkersdal in Westonaria aan die wesrand van Gauteng, waar inwoners beplan om vandag weer te betoog.

Hulle wil hê dat hulle plaaslike munisipaliteit ontbind word, en sê hulle gaan aanhou betoog totdat dit gebeur. ‘n Woordvoerder van die betogers, Thabang Wesi sê busse gaan die betogers uit Bekkersdal na die Westonaria plaaslike munisipaliteit vervoer.

Hulle beplan om sakeondernemings en skole in die gebied tot ‘n stilstand te dwing.

‘n Munisipale woordvoerder, Kgabane Madiehe sê die munisipaliteit sal nie ontbind word nie. Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die vandalisme wat tot dusver gedoen is.

Hy sê ook die betogers het tot dusver nie werklik hul samewerking gegee om die munisipaliteit toe te laat om die uitdagings rakende hul eise te bespreek nie.

Agt mense is in hegtenis geneem in verband met Maandag se gewelddadige betogings by Malamulele in Limpopo.

Die verdagtes het na bewering die polisie met klippe bestook, en winkels wat aan buitelanders behoort, geplunder en gevandaliseer.

Hulle sal vandag aangekla word van openbare geweld wanneer hulle in die hof verskyn. Die betogers wil nie meer deel van die Thulamela-munisipaliteit wees nie.

Die premier van Limpopo, Stan Mathabatha sê intussen dat die mense van Malamulele ‘n sterk saak het om die versoek vir hulle eie munisipaliteit te regverdig.

Dit volg na ‘n vergadering gister tussen die Munisipale Afbakeningsraad, die premier en die Malamulele munisipale taakspan.

Anders as wat vroeër berig is, is geen besluit tydens die vergadering geneem nie. Betogende inwoners het sake ondernemings en skole in Malamulele tot ‘n stilstand gebring. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.