Misdade teen die beskawing

Deel op
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.