Wit Oktober

Deel op
By die Rooi Oktober-betoging voor die Uniegebou
By die Rooi Oktober-betoging voor die Uniegebou

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die Rooi Oktober-veldtog, ‘n protesaksie van blankes teen die verval in Guptatopie en die diskriminasie wat ons ervaar, het heel voorspelbaar, redelik polemiek veroorsaak. Een bron van dié polemiek was te wagte: ‘n anglofiel uit die noordelike voorstede van Johannesburg was erg opgeklits in die linkse virtuele koerant, The Daily Maverick. Hoe durf wittes rassesolidariteit toon, en kla oor riool in riviere of slaggate in die paaie, het ene Nicky Falkof in haar stuk in The Daily Maverick geweeklaag. (My instinktiewe reaksie was om te sê dat Nicky eerder moet Falk Off as om sulke onnosel vrae te vra.)

‘n Ander bron van bykans histeriese verontwaardiging, is Sipho Hlongwane in Business Day. Hlongwane vind dit “bisar” dat blankes durf aandring op beter openbare dienste en veiligheid. Wat wel uiters vreemd is, is die volgende sinnetjies uit die gifpen van Hlongwane: “Their attitude is one of whites first, with blacks getting whatever they can after that. Whites must be protected and should not die.”

Wel, ja. Ek sou graag na my eie mense se belange wou omsien, en ja, ek wil graag hê dat my gesin veilig moet wees. Ek gaan nie eens poog om te probeer bedink waarom ‘n rubriekskrywer laasgenoemde bisar sou vind nie. Persoonlike veiligheid is immers heel onder aan Maslow se hiërargie van menslike behoeftes; een van die mees basiese menslike bekommernisse.

Dit is eweneens opmerklik dat, alhoewel beide Hlongwane en Falkof gróót probleme met blanke rassesolidariteit het, en voorspelbaar verskriklik skree oor apartheid, hulle nog nooit een enkele woord gerep het oor organisasies soos die Black Management Forum of die Black Lawyers’ Association nie. So ook rep hulle geen woord oor rassistiese, swart-op-wit geweld, of die neo-apartheid en rassissme bekend as regstellende aksie en SEB nie.

Swart rassesolidariteit, swart-op-wit rassisme en selfs swart-op-wit rassistiese geweld is dus skynbaar heeltemal aanvaarbaar in jou beter voorstede van Johannesburg, of in die nuuskantore van Engelse publikasies, maar dieselfde voorreg word nie aan blankes gegun nie, en veral nie as hulle toevallig Afrikaners is nie.

Maar goed; ek kan verstaan dat ‘n RA-rubriekskrywer op anti-blanke rassisme moes staatmaak om sy pos te kon bekom. Ek kan ook amper verstaan waarom ‘n identiteitslose en verwarde anglofiel haar bedreig sou voel deur Afrikaners. Dit moet erg wees om te wonder wie en wat jy nou eintlik is, siende hoe daar nie juis in Guptatopie vir blankes plek is nie.

Wat vir my heelwat vreemder is, is dat daar ook blankes is wat beswaar aanteken teen die Rooi Oktober-veldtog. Een van hierdie blanke beswaarmakers is admiraal-generaal Cor Ehlers, die voorsittter, skriba, militêre bevelvoerder, tesourier en teemaker van die OASE-organisasie. Na die tipiese dwarstrekkerige fatsoen wat helaas so kenmerkend van ons ou volkie is, skryf adm-genl Ehlers die volgende oor die Rooi Oktober-veldtog:

“OASE is onlangs deur sommige Afrikaners kwalik geneem toe ons bestuur aangekondig het dat ons nie aan Sunette Bridges se protesoptog, Red October, op 10 Oktober in Pretoria gaan deelneem nie. Ons redes hiervoor is spesifiek omdat die Red October-inisiatief gebaseer is op ras deurdat daar na die “wit” etniese minderheid verwys word. Wit dui op mense se velkleur, terwyl etnies dui op mense se kultuur en waardestelsel. Laasgenoemde het niks met mense se ras of velkleur te make nie. Daar bestaan ook nie iets soos ‘n “wit etniese minderheid” nie, want die twee terme (ras en etnisiteit) is nie versoenbaar nie.”

Ai, tog. Dat Naspers-agtige politieke korrektheid selfs diegene wat hulself vir ‘n Afrikanervolkstaat kan beywer, so kan maak bokspring! Hoe kan iemand wat ‘n volkstaat wil bekom, nog so verward wees oor wie presies die volk is wat die staat moet bewoon? Uit pure moedeloosheid het ek per epos van adm-genl Ehlers probeer verneem of Allan Boesak dan ook welkom sou wees in OASE se volkstaat, siende hoe Boesak ook Afrikaans praat en ‘n lidmaat van die Susterskerke is, maar ek kon helaas ook nie ‘n reguit ja of nee van adm-genl Ehlers kry nie, en sy reaksie was bloot ‘n spoeg-en-plak van skakels na ‘n aantal VN-publikasie toe.

My boodskap aan almal, ook aan adm-genl Ehlers, is die volgende: Die ANC skroom glad nie om jou as ‘n blanke te klassifiseer nie, en om daardie klassifikasie teen jou te gebruik om rassisme soos RA teenoor jou te pleeg nie. Boere se wit velle is hul uniforms en veroorsaak dat plaasaanvallers hulle teiken. Jimmy Manyi en kie beleef geen oomblik se wroeging om swart rassesolidariteit te pleeg in organisasies soos die Black Lawyers’ Association nie.

Hou dus op om om verskoning te vra vir jou wit vel. Ja, Afrikaners is blankes. Ja, ons is trots op ons kultuur, taal en ook ons Europese herkoms. Ja, blankes hoef niemand om verskoning te vra dat ons na ons volk en ook ons ras se belange wil omsien nie. Wyle Tom Clancy kon net sowel ‘n boek oor Afrikaners geskryf het: The Hunt for White October. Basta dus met kruipery en politieke korrektheid! Gaan neem met trots deel aan die Rooi Oktober-aksies.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.