Robert McBride, die ware Nuwe Suid-Afrikaanse Man

16:30:50 Een van Lenin en die Bolsjewiste se doelwitte was om 'n Nuwe Kommunistiese Man te skep; iemand wat sou vry Image wees van die klassevooroordele van die verlede. Homo Sovieticus sou 'n altruïs wees, met 'n kommunale uitkyk op die lewe. Hy sou sy arbeid sonder die verwagting van persoonlike rykdom opoffer tot voordeel van die gemeenskap, en sou oneindige energie toon in die stryd vir globale rewolusie.

Almal weet natuurlik dat daar nooit so 'n man was nie. Die menslike geaardheid is juis nié altruïsties nie. Selfs binne die dwangbuis van die Sowjetkommunisme, was dit steeds elke man vir homself. Korrupsie, baantjies vir boeties en magsmisbruik was aan die orde van die dag.

Die ANC-bewind het egter daarin geslaag om Homo Azanicus, die volmaakte Nuwe Suid-Afrikaanse Man, te baar. Sy naam is Robert McBride.

McBride is gebore naby Durban, die kind van skoolonderwysers. Gegewe sy latere deelname aan 'n Marxistiese rewolusie, is dit nie sonder ironie dat sy ouers deel was van die bourgeoisie nie. As die vorige bedeling voorts wel so 'n bose bestel was, wonder mens hoe sy ouers dan desnieteenstaande die sogenaamde onderdrukking daarin geslaag het om hulself as onderwysers te bekwaam. McBride kon kwalik daarop aanspraak maak dat hy arm grootgeword het soos byvoorbeeld die gemiddelde inwoner van, sê maar,  Zambië.

'n MK-aanval op 'n olieraffinadery naby McBride se woning het nietemin 'n groot indruk op hom gemaak, want hy het hom in die tagtigerjare by die ANC aangesluit. Die aanval wat McBride se naam as't ware gemaak het, was 'n lafhartige bomplantery by die Magoos-kroeg in Durban, waarin drie mense dood en 69 beseer is. McBride, immer die dapper krygsman, het vreemd genoeg nie 'n militêre teiken gekies nie. Daar was onder andere 'n verkennersoldaatbasis in Durban wat wel 'n legitieme militêre teiken kon wees, maar McBride het verkies om sy aanval op ongewapende burgerlikes te rig. Daar was ongetwyfeld 'n oortuigende strategiese rede hoekom McBride nie die verkennersbasis wou aanval nie…

Nie net het hierdie "dapper" kryger verkies om sagte teikens af te maai nie, maar sy bom is ook in die verkeerde kroeg geplant. Die oksimoroniese MK-"intelligensie" het gans en al 'n ander kroeg geïdentifiseer wat deur ongewapende lugmaglede buite diensure besoek is, maar McBride het die "militêre" operasie lelik opgefoeter. Hier het hy alreeds die kenmerke van jou tipiese Homo Azanicus begin toon: 'n volslae onvermoë om te beplan asook algemene onbevoegdheid. Laasgenoemde is uiteraard 'n trotse tradisie binne die ANC, wat vandag nog deur Alec Erwin en die getransformeerde topbestuur van Eksdom voortgesit word.

Nes die onbevoegde, getransformeerde bestuur van Eksdom vandag met astronomiese bonusse beloon word vir hulle vernietiging van 'n voorheen werkende organisasie, is McBride in 2006 beloon met 'n merietemedalje deur die getransformeerde SANW. So ook is die lafhartige beplanner van die Kerkstraatbom beloon met 'n senior pos in die Reserwebank.

Soos mens kon verwag van die sikofantiese WVK, is McBride ter dood veroordeel, maar deur die WVK kwytgeskeld van sy misdade, en is hy verkies tot die Gautengse uitvoerende komitee van die ANC. In iets wat reguit uit 'n skets deur Casper de Vries kom, is McBride aangestel by Buitelandse Sake, nogal in 'n intelligensiepos! In 1998 word hy in hegtenis geneem deur die Mosambiekse polisie. Hy was glo besig om wapensmokkelary te ondersoek, maar het weer eens 'n totale gemors daarvan gemaak. Weer eens het hy met sy voorbeeld gelei, en is die trotse tradisie van verdagte wapentransaksies voortgesit deur onder andere Schabir Shaik, Jacob Zuma en selfs, luidens gerugte, president Mbeki. Vir sy aandeel in korrupsie is mnr Zuma, ook 'n Nuwe Suid-Afrikaanse Man, beloon met die presidentskap van die ANC.

McBride se kriminele neigings en onbekwaamheid kon uiteraard nie onbeloon bly in die Nuwe Suid-Afrika nie, en hy is later aangestel as die hoof van die Ekurhuleniese Metropolisie. Sodoende het hy nog 'n presedent geskep, want die ewe korrupte Jackie Selebi is ook later as die hoof van die getransformeerde SAPD aangestel. Dit neem uiteraard een krimineel om 'n ander te kan raaksien en dus is 'n pos in die polisie die aangewese ding vir die Selebi's en McBrides onder ons. Selebi, nes McBride, het hom baie meer tuisgevoel onder diegene met 'n verdagte karakter soos Glenn Agliotti, Suid-Afrika se antwoord op John Gotti.

Na die tipiese fatsoen van die ware Nuwe Suid-Afrikaanse Man, het McBride geen tyd verspil om sy mag te misbruik nie. Hy het onder andere glo 'n kollega gedreig dat hy hom nie net sou laat vermoor nie, maar ook sy vrou sou laat verkrag. Nog vreemder, hy het die arme man gedreig dat hy ook sy troeteldiere sou laat vermoor! In Desember 2006, meer as 'n bottel whisky sterk, het McBride sy motor naby Centurion gerol. Sy medebeamptes is aangesê om die insident te probeer verswyg en het gepoog om ooggetuies te intimideer. Kort na die ongeluk het McBride glo self geprobeer om ooggetuies te intimideer deur hulle by 'n vulstasie aan te rand en te laat arresteer.

Weer eens is hierdie soort gedrag tiperend van die Nuwe Suid-Afrikaanse Man. Meer as die helfte van die ANC se parlementslede het hulself skuldig gemaak aan korrupsie in die sogenaamde Travelgate-skandaal. 'n Getroude paartjie wat tans in die kabinet sit, het glo R300 000 tussen hulle verduister. Die reaksie van die ANC? 'n Grootskeepse toesmeerdery en selfs bevordering vir die skuldiges. In hierdie opsig is McBride 'n pionier. Sy bevordering het die weg gebaan vir die beloning en bevordering van diegene wat wandade pleeg.

In die nuutste, boeiende aflewering van die sepie: McBride, die Azaniese held, het onlangs sy verskyning gemaak tydens sogenaamde xenofobiese oproerigheid. McBride was geklee in sy Metropolisie-uniform, wat herinner aan dié van 'n veldmaarskalk in die voormalige Sowjetunie, ten spyte daarvan dat hy geskors is hangende die ondersoeke teen hom. Reëls geld duidelik nie vir hierdie pragvoorbeeld van Nuwe Suid-Afrikaanse manlikheid nie, nes dit ook nie geld vir die lede van die ANC-bewind wat in hulle blouligkonvooie mindere sterflinge van die pad druk nie. McBride se verskyning by die onluste het volgens Radio 702 se joernaliste op die toneel die situasie laat oorgaan tot geweld. Verwag ons egter enige iets anders as volslae onbevoegdheid van 'n Nuwe Suid-Afrikaanse Man?

Sou McBride wel skuldig bevind word in enige van die verskeie hofsake hangende teen hom, is daar geen perke aan sy toekomsmoontlikhede nie. McBride, die Kommisaris van Polisie, is nie onmoontlik nie. Wie weet – Robert McBride, die Nuwe Suid-Afrikaanse Man, kan selfs die Minister van Wet en Orde in die Zuma-kabinet word.

мебель для новорожденныхДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.