‘Polisie sal nie onwettige oproer by myne duld nie’

Deel op
Nathi Mthethwa
Nathi Mthethwa

Die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, sê die regering sal nie anargie en wetteloosheid tydens dienslewerings-en arbeidsverwante betogings in die myngebiede duld nie.

Mthethwa het buite Burgersfort in Limpopo gepraat waar hy die provinsiale Mynmisdaad-bestrydingsforum bekendgestel het.

Verskeie gewelddadige betogings het vanjaar by myne op Burgersfort, Thabazimbi en Phalaborwa uitgebreek. Die minister sê die betogings behoort binne die raamwerk van die wet te geskied.

Hy sê hulle is daarvan bewus dat daar altyd mense sal wees wat gemeenskappe om die verkeerde redes opsweep en deur middel van dié forum sal die polisie seker maak dat hulle saamwerk om sulke wetteloosheid te keer.

Mthethwa sê gewelddadige openbare betogings vermors polisiehulpbronne wat eerder gebruik behoort te word om geweldsmisdade te bekamp.

Lede van die vakbond, AMCU, het weer by Anglo American Platinum vir werk aangemeld. AMCU het Donderdag amptelik aangekondig dat die staking wat op 27 September begin het, verby is.

Die president van AMCU, Joseph Mathunjwa sê hy sal later volledig terugvoer gee oor waarom die arbeidsoptrede opgeskort is.

Die vakbond het geëis dat die aflegging van meer as 3 300 werkers gestaak word. Die bestuur van Amplats het in hul verduideliking gesê hy sal sowat 1 250 werkers vir die volgende ses maande behou om met herwinningsoperasies in Rustenburg te help.

Die res het vrywillige skeidingspakette aanvaar. Amplats het tydens die staking sowat 44 000 onse platinum verloor. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.