
Rudolph Viviers, wat ‘n Moslem na ‘n argument oor sy baard doodgeslaan het, is Donderdag tot agt jaar tronkstraf gevonnis, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.
“Viviers is tot 12 jaar tronkstraf, waarvan vier jaar opgeskort is, gevonnis vir strafbare manslag en vier jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer,” het Phindi Louw, woordvoerder vir die NVG, gesê. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Die saak is in die Johannesburgse hooggeregshof se sitting in Palm Ridge aangehoor.
Viviers en Zayne van Tonder het Muhammed Fayaaz Kazi en sy vriend, Anser Mahmood, op 6 Augustus 2012 by ‘n Chicken Licken-tak in Magaliesburg oor hul baarde gespot. Die mans het begin baklei en Kazi is ernstig aangerand. Hy het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Aanklagte teen Van Tonder is laat vaar.
Louw sê die NVG is tevrede met die uitspraak.
Viviers het ná die vonnisoplegging deur sy regsverteenwoordiger versoek om die families persoonlik om vergifnis te vra. – Sapa