DA onthuts dat SAIR hul eie ANC-veldtog kan kelder

Deel op
Die DA se eie ANC-veldtog
Die DA se eie ANC-veldtog

Die DA is onthuts dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge nie die party se oppergesag wil aanvaar nie.

SAIR ondersteun die “Ken jou ANC”-veldtog, in weerwil van die DA se verwoede teenkanting.

Die DA, wat ’n baie lang verhouding met die instituut sowel as die ANC en die swart strugglekultuur het, het Dinsdag vergeefs probeer om die veldtog te stuit.

Met minder as ’n jaar voor ’n nasionale verkiesing, is die DA erg bekommerd dat hul eie ANC-veldtog wat geskoei is op die “DA as ‘n beter ANC” en die Mandela-kultus, kan skade ly.

Die DA-leier Helen Zille het haar spesiale raadgewer Gavin Davis afgevaardig om die uitvoerende hoof van die Instituut dr. Frans Cronjé, te oorreed om af te sien die veldtog.

Gavin Davis
Gavin Davis

“Gavin Davis het my gebel,” het Cronjé aan Beeld gesê.

“Hy het baie direk gesê ons moet dit eerder los omdat dit nie goed is vir ons of die DA nie. Dis vir my ’n eienaardige versoek aangesien ons onafhanklik is,” het Cronjé gesê.

Davis het ontken hy het Cronjé gevra om die veldtog te beëindig. Davis het sonder ironie gesê ‘n onafhanklike dinkskrum kan nie sy geloofwaardigheid openlik op die spel sal plaas vir ’n politieke party nie.

Die instituut, wat die ANC-regering dikwels kritiseer, het Dinsdag sy tweede van tien ANC-suksesfeite op Twitter uitgestuur as deel van ’n veldtog om die “amper verbasend positiewe feite” oor Suid-Afrika onder ANC-bewind te beklemtoon.

Dié omstrede veldtog het mense op Twitter aan die praat gehad en kritiek teen die instituut het ingestroom.

“Daar was baie kritiek van wit regses wat nie die moontlikheid dat ’n swart regering vordering gemaak het, kan aanvaar nie. Daar was ook baie kritiek van die DA,” het Cronjé gesê.

Dit is nie duidelik wie die “wit regses” was nie, aangesien die meeste wit regsgesindes nie die DA of ANC ondersteun nie.

“Dis duidelik vir hulle ’n bekommernis as iemand ernstig begin sê daar is ’n ander storie as net die ANC se mislukkings. Dán is die DA se eie veldtog in die gedrang, want die sukses van hul veldtog hang daarvan af dat niemand die DA se (negatiewe) storie oor die land in twyfel trek nie.”

Cronjé het gesê dit is “baie swak styl” van Davis om te verwag die instituut moet hul veldtog laat vaar.

“Die ANC probeer nooit voorskryf wat ons moet doen nie.”

Die instituut sal volgende week tydens ’n skemergeleentheid in Johannesburg vir Zille die geleentheid gee om 250 gaste toe te spreek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.