Afrikaner moet bou op feite, nie drome

Deel op
10:52:54 In ons huidige politieke bestel, tas die leierlose Afrikaner rond vir oplossings vir die voortbestaan van beide sy taal en sy identiteit.  Talle Afrikanerpolitieke “profete” skaar klein groupies om hulle, elk met sy eie “oplossing” vir die volk, met eie vlag en politieke simbole. Hulle val mekaar en ander Afrikaners vurig aan, meer as wat hulle die Afrikaner se werklike vyande aanval.  Die oorgrote meerderheid Afrikaners steur hulle nie eers meer aan die politiek nie. Wanneer hulle wel by die stembus stem, stem hulle eerder vir politieke partye wat geen program vir Afrikanerbelange het nie, eerder as vir die enigste Afrikanerpolitieke party in die parlement. Die rede? Afrikanerpolitieke “leiers" (sonder meerderheidAfrikanermandaat in elk geval) binne en buite die parlement het nie meer geloofwaardigheid onder die Afrikaners nie.
Deel op
Dit wil voorkom asof die Afrikaner nie die wil het nie, of nie weet hoe om saam te staan nie.  ‘n Mens kan net met bewondering kyk hoe die swartes onder hewige verskille onderling kan saamstaan, selfs tot so ‘n mate dat hulle hulle eie gekose president kan ontslaan, sonder skeuring.  Die kapitilistiese en sentristiese ANC, die Kommunistiese party en die linksgesinde Cosatu=vakbondunie, ideologies onderling hewig verskillend, maar saam om swart belange te bevorder.  Die Xhosas, Zulus, Pedi. Sotho's, ens., elk met eie afsonderlike taal en kultuur, weet hoe om saam te staan. Die Afrikaner weet hoe om mekaar uit te skel.

 

Die enigste tye wanneer Afrikanereenheid onderling vertoon word, is by die kunstefeeste, hul musiek en rugby.  Die Afrikaner gryp graag na strooihalms, soos bv. die “De la Rey”-lied, wat nou al klaar onder hulle uitgedien geraak het. Volksfeeste soos bv. Geloftedag, waar dit in die verlede tienduisendtalle getrek het, trek vandag net ‘n handjievol Afrikaners.  Die politieke afvalligheid sal feller word totdat die Afrikaner ‘n nuwe visie vir homself formuleer en ‘n breuk met die verlede bewerkstellig.  In die Bybel staan dit selfs, “laat die dode die dooies begrawe” en “soek lewe”,  m.a.w. wat verby is, is verby, spits jou op die toekoms toe.  Vergeet die drome en bou op die werklikhede.  En die werklikhede is soos volg:

 

1.       Naamsveranderings van strate, dorpe en stede sal voortgaan, en daar is niks wat die Afrikaner daaromtrent kan doen nie.  Om dit teen te staan is ‘n steriele stryd; geld- en tydmors.  Dit verskaf net plesier aan diegene wat dit bewerkstellig elke keer wanneer hulle sien hoe die Afrikaner sy impotente wrewel toon. Wie weet, dit hou miskien op wanneer hulle sien dat dit nie meer iets aan die Afrikaner doen nie en dat dit nie meer vir hulle plesier verskaf nie.

 

2.       Aparte politieke gebied vir die Afrikaners:  So iets sal nooit gebeur nie.  Die regering sal nie aparte politieke gebiede vir die  Zulus, Xhosas, Pedi's, Vendas, ens. toelaat nie.  Hoekom sal hulle ‘n uitsondering vir die Afrikaner maak?  Die maksimum politieke bestel wat bv. Orania sal bekom, is munisipale status, onderhewig aan ‘n nie-rassige voorkoms.  In elk geval, Afrikaners sal nie trek soos in die verlede nie, behalwe na die buiteland, en sodoende hul identeit daar verloor.  Onder Afrikaners self sal die konsep van ‘n Afrikanertuisland nie werk nie weens gebrek aan ondersteuning van hulle kant.  Klein groepies Afrikaners wat in die verlede na “ghetto's” getrek het, soos Eldoret in Kenia;  Argentinië; dorslandtrekkers na Humpata in Angola, ens. het almal gekwyn weens die feit dat hulle hul in ‘n afgesonderde Afrikaneronvriendelike omgewing bevind het. 

 

Verbeel jou Suid Afrika word wel in kleiner onafhanklike swart state verdeel.  Dit sal ‘n katastrofe vir die Afrikaner wees.  Afrikaners  binne hierdie swart state sal van ander Afrikaners in die ander swart state afgesonder wees, soos tans die geval met Afrikaners in Namibië is.  Elke Afrikanergroepering sal sy eie identiteit nastreef tot die ondergang van die konsep Afrikaner. Al wat dan sal oorbly, is die gemeenskaplike taal.

 

3.       Bondgenote:  Diegene in Suid-Afrika wat die Afrikaners haat, en hulle eie agenda wil uitvoer tot nadeel van die Afrikaner, sal alle pogings voortdurend aanwend om die taal te probeer onderdruk. Anders as bv. die Palestyne, het die Afrikaner geen bondgenote nie.  Nie onder enige Suid-Afrikaanse swart volk nie, nie onder enige blanke staat in Europa, Australië of Amerika nie. Hulle gee nie ‘n duit om vir die voortbestaan van die Afrikaanse volk en taal nie  (hulle het nie ‘n duit omgegee vir die Engelse blankes in Rhodesië nie).  Die Afrikaanse Boererepublieke het ten minste bondgenote onder sekere van die swart stamme gehad, asook sekere state in Europa.  Waar het ons gefaal dat ons vandag niks het nie?  Selfs die magtige VSA kan nie uitvoering aan sy buitelandse beleid gee sonder die ondersteuning van sy bondgenote nie. Die Afrikaner sal hierdie situasie moet regstel vir sy voortbestaan.

 

4.       Ontworteling:   Die Afrikaner is nie meer boer nie.  Baie meer Afrikaners woon in dorpe en stede as op enige plaas.  Die meeste Afrikaners weet nie eers hoe om te boer nie. Dus het die Afrikaner nie meer ‘n behoefte om sy huidige nering te wil verruil vir boerdery nie.  Hy sal eerder in sy Afrikanervestings soortgelyk aan Centurion bly as ontwortel te word om na plekke soos Orania toe te trek.

 

5.      Afrikanergebiedsmeerderheid:  Die begin van die twintigste eeu was die verhouding tussen blank en nie blank een teen vier.  Nou is die blanke verhouding minder as een teen tien.  Twintig jaar van nou af is voorspellings dat dit minder as een in vyftig sal wees, nieteenstaande die Vigsepidemie.  Suid van die Visrivier in die Kaap, en veral in die Kaapse skiereiland was weinig swartes, met ‘n gesamentlike meerderheid van blank en kleurling met die aanbreek van die twintigste eeu.  Nou in die skiereiland is die swartes besig om die meerderheid te word.  Wat sê dit vir ons?  Daar is nie ‘n kat se kans dat die Afrikaner ooit weer politieke mag in enige deel van hierdie land sal verkry nie.

 

6.       Homogeen: Voor en gedurende die Boererepublieketydperk was die Afrikaner redelik homogeen.  Hy was Calvinisties en lid van een van die drie susterskerke.  Omtrent almal was boere.. Sy denke onderling was soortgelyk.  Nie meer so nie.  Die Calvinistiese trek is vinnig besig om te kwyn met die oorloop na tientalle verskillende kerke buite die Calvinistiese leer.  Selfs die plaaslike Calvinistiese kerke het skeuringe ondervind soos, bv. die totstandkoming van die Afrikaanse Protestante Kerk.  Die nerings onder Afrikaners is soveel soos wat daar verskillende beroepe is.  Die denkpatrone van Afrikaners onderling verskil hewig vandag.  Die sosio-ekonomiese verskille is amper onversoenbaar met mekaar (soos bv. die verskille tussen die Afrikaner in Pretoria-Wes teenoor die Afrikaner in Waterkloof binne dieselfde stad).  Dit is net die taalgebruik wat Afrikaners basies van ander blankes in Suid Afrika onderskei.  Neem die taal weg, dan is daar geen  Afrikaner meer nie.  Dis waarom gepoog word om Afrikaans op skool en universiteit te versmoor. Dis waarom alreeds deur opponente gepoog word om die Afrikaanse kunstefeeste en musiek te probeer onderdruk. Kry dit reg dan is Afrikaans byna versmoor.

 

Myns insiens word tyd en middele verspil op steriele en negatiewe onhaalbare strategieë vir die Afrikaner, wat net die toorn van ons vyande intensifiseer om ons geheel en al te wil vernietig in situasies waaroor ons geen beheer het nie.

 

Ek stel die volgende voor:

 

a.                   Moenie tyd mors om gedurig die wanpraktyke en die tekortkominge van Afrikaneropponente (hoofsaaklike swartes) uit te lig nie.  Die gedurige houding van “kyk net wat doen hulle, ek het jou moes gesê dit gaan gebeur”.  Ons opponente gaan beslis nie vir die Afrikaner sê, “gesien julle kon dit beter gedoen het, neem dan oor” nie.  Aangesien die Afrikaner niks omtrent die saak kan doen nie, sê ek, laat hulle hulle gang gaan en laat die Afrikaner sy energie eerder toespits om ‘n strategie te bedink om die lot van sy mede-Afrikaner te kan verbeter.

 

b.                   Vergeet van ‘n politieke en geografiese bestel vir die Afrikaner.  Die meerderheid Afrikaners toon alreeds dat hulle nie daarin belangstel nie, dié dat hulle eerder na die buiteland emigreer as na plekke soos Orania toe, ook dat hulle eerder vir politieke partye stem wat nie klem op enige Afrikanertuisland lê nie.

 

c.                   Indonesië het ‘n bevolking van bykans 300 miljoen met omtrent 400 verkskillende nasies en tale.  Die Sjinese maak net 2% (twee uit elke honderd) van daardie volk uit, maar beheer omtrent 70% van die ekonomie.  Hulle behou hulle taal en kultuur.  Ek dink dit is die pad wat die Afrikaner in Suid-Afrika moet volg.  Nie polities nie, maar wel ekonomies.  Die Afrikaner moet die enjin wees wat die ekonomie dryf.  Hy moet die kop en nie die stert wees nie.  Sodoende sal hy sy eie waardes onafhanklik kan uitleef en sal ook kan bekostig om sy eie woongebiede (soos eilande in ‘n swart see, self Orania) aan te koop. Sy politieke styl behoort buiteparlementêr te wees, geskoei op ‘n super-Afrikaanse Sakekamer. Engels, Frans, en Spaans het wêreldtale geword omdat daardie lande ekonomies sterk was. Duits nie, omrede Duitsland sy handel tot Europa beperk het.  In Christus se tyd was Grieks die handelstaal, wat deur omtrent almal in die Midde-Ooste verstaanbaar was, en nie dië van die heersersende Romein se Latyn nie, wat merendeel net in Italië verstaanbaar was. Die les? Die koper leer die taal van die handelaar.  Die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy (V0C) was ‘n maatskappy wat lande onder sy beheer, soos die Kaap, geregeer het, en nie die Nederlandse regering nie.  Die swartes kan maar die politiek beheer, die Afrikaner die ekonomie.  Ongeag swart bemagtiging.  Vir elke wet is daar ‘n skuiwergat.  In elk geval is swart bemagtiging hoofsaaklik gemik op staatsinstansies, en kan ook nie oneindig voortduur nie. Alreeds het die Afrikaner die staatsontslag van die laat negentigerjare oorleef, en dryf nou handel in sy eie reg, vireers versigtig, maar al sterker wordend.  Die Jode met hul internasionale handelsnetwerk (Sionisme), beïnvloed nasies tot hulle voordeel, sonder om by die politiek betrokke te raak.

лосины девочки описаниемданильченко юрій Харків

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.