Militêre oefening eindig in chaos, sterftes

Deel op
Pelikaanpunt
Pelikaanpunt

Wat veronderstel was om die hoogtepunt van ’n militêre oefening tussen agt lande in Suider-Afrika te wees, het Sondagoggend in ’n tragedie op die kus suid van Pelikaanpunt in Namibië geëindig.

Minstens twee soldate van die spesiale magte van Suid-Afrika en Malawi het gesterf, verskeie word vermis en talle is beseer in ’n fratsongeluk in ‘n stormagtige see aan die Namibiese kus.

Sedert vroeg Sondagoggend is die jongste verwikkelinge in die strategiese militêre oefening van die weermagte van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in die grootste geheimhouding gedompel nadat twee vlootvaartuie van die Suid-Afrikaanse spesiale magte net suid van Paaltjies vergaan het.

Sowat 600 soldate van die weermagte van Namibië, Suid-Afrika, Angola, Malawi, Zambië, Botswana, Zimbabwe en Lesotho is tans op Walvisbaai saamgetrek vir die eerste militêre oefening van sy soort in die substreek.

Die maneuvers en opleiding het van 9 tot 29 September plaasgevind en vanoggend sou die laaste fase van die projek ten einde loop. Dit het ’n taktiese aanval in woestynoorlogvoering behels waarby alle weermagelemente betrokke sou wees vanaf die vloot, die leër en die lugmag tot die geneeskundige dienste.

Presies wat gisteroggend gebeur het, bly steeds ’n geheim van die manne en vroue in uniform, maar dit was beslis die laagtepunt van ’n beplande elite-aanval op ’n denkbeeldige “vyand” suid van Walvisbaai.

Republikein was self op die toneel sowat agt kilometer suid van Paaltjies en die feite is dat die twee Barracuda landingsvaartuie van die Suid-Afrikaanse vloot op onverklaarbare wyse omgeslaan het nog voordat die branders en die kuslyn bereik kon word. Hierdie vaartuie wat spesiaal ontwerp is op die basis van ’n rubberboot om spesiale magte vanaf duikbote en groter vlootvaartuie vir aanvalle op land te ontplooi, word as “onsinkbaar” beskou.

Volgens eerstehandse inligting was die weermagspesialiste veronderstel om ’n eerstelig-aanval op die teikenbasis uit te voer en is verskeie Barracudas as landingsvaartuie ingespan.

Twee van die bote met hul bemanning en die aanvalsmag het egter op see verdwyn. Eers nadat die twee groepe nie by die teiken opgedaag het nie, is onraad vermoed en ’n reusagtige soek- en reddingsveldtog op land en see van stapel gestuur.

Eers ná 11:00 is die wrakke van die twee vaartuie opgespoor omdat vermoed is dat die ongeluk tussen Paaltjies en Pelikaanpunt plaasgevind het.

Die twee vaartuie was egter tien kilometer van die teiken af.

In een weergawe word vertel dat die militêre kontingent van een van Namibië se buurlande per ongeluk een van die bote met vlootgrofgeskut raakgeskiet het en dat die ander boot hulle te hulp gesnel het.

Die ander weergawe is dat die bote op see verdwaal het en nie rekening gehou het met die deinings en golwe van tot drie meter nie. Nadat die eerste boot omgeslaan het, het die ander ’n reddingspoging probeer uitvoer, maar het self in die moeilikheid beland.

NamPort en die waarnemende kaptein van Walvisbaai se hawe kon gister geen lig op die werklike omstandighede en voorval werp nie en die direktoraat van maritieme sake op Walvisbaai het alle navrae na die vloot verwys.

Die vloothoofkwartier op Walvisbaai het op sy beurt alle navrae na die weermaghoofkwartier in Windhoek verwys.

Dit was uiteindelik die polisie in Windhoek wat die voorval bevestig het met ’n kort aankondiging dat twee soldate by Walvisbaai gesterf het.

Geen amptelike verklaring is egter dusver uitgereik oor die presiese aard van die voorval, die vermistes of die beseerdes nie.

Teen 15:00 gister is een van die vaartuie wel uit die water gehaal, maar die tweede boot het nog omgedop agter die branders gelê.

Om 16:00 het ’n helikopter van een van die weermagte die toneel besoek en byna onmiddellik na die Rooikop militêre basis teruggekeer. – Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.