Afrika ondermyn die geloofwaardigheid van IS, Den Haag

Deel op

iccAU-leiers dreig om uit die Internasionale Strafhof te onttrek, wat pogings om menseregte-vergrype en volksmoorde op die kontinent onder die soeklig te bring, sal striem.

Alhoewel die onderskeie lidlande van die AU ondertekenare van die Roomse Verdrag is teen sulke vergrype, sal ‘n politieke besluit deur die AU die Verdrag erg knou.

Die twee Keniaanse leiers wat aangekla is van misdade teen die mensdom, het egter reeds die skuiwergat gesien. Dit is naamlik dat slegs swart regerings tot dusver amptelik deur die hof ondersoek is, wat die aanklag van rassisme jeens Afrika laat opklink.

Dat die VSA se swart president ook nie die IS ondersteun nie, is waarskynlik vir die AU ‘n verdere onderskraging.

President Uhuru Kenyatta van Kenia, en sy adjunk William Ruto het sterker na vore getree na die Westgate Mall-terreuraanval, deur hulself te posisioneer as belangrike rolspelers in die wêreldwye stryd teen terreur. In Kenyatta se geval lyk sy waarskynlike maande-lange afwesigheid in Den Haag toenemend onhoudbaar.

As die saak in duie stort, sal die Hof magteloos wees om getuies te beskerm, het aktiviste gewaarsku. Vir ‘n prominente menseregtekampvegter in Eldoret, Kenia, is die skrif reeds aan die muur.

Onderhoude met getuies en bronne in Eldoret, ‘n bedrywige dorp vyf ure se ry van Nairobi in Kenia se Skeurvallei, dui daarop dat grootskaalse intimidasie posgevat het.

Die Guardian het met een potensiële getuie gepraat wat erken het dat hy geld aanvaar het om van sy getuienis af te sien. Daar word ook beweer dat Keniaanse menseregtegroepe getuies afrig, en hulle aanmoedig om sekere weergawes van die gebeure te gee wat nie ooreenstem met die werklikheid nie.

In Eldoret, waar sommige van die bloedigste voorvalle soos 30 vroue en kinders wat in ‘n kerk doodgebrand het aangeteken is, is die atmosfeer gespanne. Enige wit persoon wat die dorpie betree word verdink daarvan dat hy of sy in diens van die IS is, op soek na getuies wat onttrek het om hulle te oorreed om te terug te keer.

Die Westerse aandrang op menseregte word, heel ironies, as ‘n bedreiging en nie ‘n uitkoms nie, beskou.

Een inwoner beskryf hoe hy genader is deur kennisse om nie te gaan getuig nie. Hy het ‘n miljoen sjielings [R20 000] in kontant ontvang. Hy sê hy moes onttrek omdat hy ‘n gesin het om te versorg.

Hy het eers na Nairobi in die geselskap van ondersoekbeamptes gereis waar hy gehelp het om die eufemismes te ontsyfer wat na bewering gebruik is deur Ruto se stam om geweld teen die Kikoejoe aan te hits, voor hy onttrek het.

‘n Ander bron het bevestig dat minstens 12 mense in die gebied omkoopgeld ontvang het van tussen 1 miljoen en 3 miljoen sjielings. Baie het nuwe motors ontvang, grond en beloftes van werk.

Sommige getuies het in die openbaar gesê dat hulle onttrek het sodat dit nie versoeningspogings tussen Kenyatta en Ruto in gevaar stel nie. Oproepe na die regeringswoordvoerder het onbeantwoord gebly.

Die Waki-kommissie, wat getaak was om die bloedvergieting te ondersoek, het Ruto en Kenyatta as die meesterbreine agter die geweld uitgewys, en hulle van die mobilisering van hul ondersteuners beskuldig om stamvyande aan te val, selfs voor die verkiesings.

In taal wat mens herinner aan wat gedurende die Rwandavolksmoord in 1994 gebruik is, het Ruto na bewering ondersteuners aangemoedig om “die onkruid uit die veld te roei”, ‘n verwysing na die Kikoejoe.

Buite Eldoret, op ‘n byna onbegaanbare grondpad tussen mielielande en piesangplantasies, staan ‘n blink nuwe motor – ‘n duur Toyota – geparkeer buite ‘n armoedige hut. Soos ‘n seer duim staan die ryding uit tussen die bokke en hoenders wat in die stof dwaal op soek na kos. Die deftige eienaar praat behendig op verskillende selfone.

Twee bronne sê dat hy ‘n motor en kontant ontvang het om sy getuienis te laat vaar oor bewerings dat die geweld teen die Kikoejoe vooraf beplan was, maar dit is ‘n aanklag wat hy ontken. Hy sê hy was aan geen druk onderwerp nie en die motor het hy self gekoop.

Die IS, sê hy, is besig om bewyse in te samel om ‘n vooropgestelde verhaal van georganiseerde geweld te pas. In die besonder, het hy ‘n plaaslike nie-regeringsorganisasie wat gehelp het om die potensiële getuies af te rig, daarvan beskuldig dat hulle ‘n eie agenda najaag. Hy het gesê hy is aangesê om te sê hy “sien” eerder as wat hy “hoor”.

Die NRG, die Centre Against Torture het nie reageer op ‘n versoek vir kommentaar nie.

Intussen verwys die Keniaanse media deur die bank na die “koloniale hof”. Sedert die aanvang van die verhoor teen Ruto en radio-aanbieder Josua Arap Sang, het koerante die identiteite van al die getuies laat uitlek, wat hofverrigtinge daarna noodgedwonge in camera laat voortgaan het.

Die Keniaanse media is die instrument van propaganda teen die IS, die kolonialiste en wit rassiste. Enigiemand wat inligting oor die post-verkiesinggeweld rugbaar maak, het ‘n teiken geword omdat hy saamwerk met die witman.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.