Nuwe ‘haatspraak’-wette kan tot strafregtelike vervolgings lei

Deel op
'n Boonzaier-spotprent uit 1934 wat Jeff Radebe as 'haatspraak' wil kriminaliseer
‘n Boonzaier-spotprent uit 1934 wat Jeff Radebe as ‘haatspraak’ wil kriminaliseer. Die vet man met die sigaar is glo anti-Semities.

Volgens ‘n toespraak wat Jeff Radebe, die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, verlede maand gelewer het, word wetgewing oor “haatmisdaad” en “haatspraak” tans voorberei wat spraakvryheid aan bande kan lê. Radebe het dié toespraak by die jaarvergadering van die Joodse Raad van Afgevaardigdes wat einde Augustus in Sandton plaasgevind het, gelewer.

Tot dusver het geen van die hoofstroommedia in die land van die wetgewing, wat reeds in voorbereiding is, berig nie. Die departement se webwerf bevat egter ‘n kopié van sy toespraak en daar is aan die begin van September deur die Joodse gemeenskapskoerant, SA Jewish Report, daaroor berig.

Dit wil voorkom asof die wetgewing daarop gemik gaan wees om sowel swartmense as Jode teen kritiek van ander groepe te beskerm, te oordeel aan Radebe se deelname aan die Joodse kongres waar hy ook ‘n paneellid was tydens ‘n bespreking met die titel: “Verbeel jou ‘n wêreld sonder haat.”

Volgens die SA Jewish Report, “het Radebe tydens sy aanbieding getoon dat hy goed ingelig is oor die geskiedenis van Jode, sowel in Suid-Afrika as globaal, waar Jode die slagoffers van vooroordeel was”.

Voorbeelde van vooroordeel jeens Jode wat die koerant uitlig, is “die Kwotawet van 1930, asook die Wet op vreemdelinge van 1937 wat gepoog het om Joodse immigrasie na Suid-Afrika te beperk en Jode van bepaalde poste in die staatsdiens uit te sluit”.

.Radebe het in sy toespraak glad nie na plaasmoorde en die verontmenslikende marteling wat daarmee gepaardgaan, verwys nie. Volgens die minister word “haatmisdade gepleeg deur enkeles wat weier om die nuwe grondwetlike orde te aanvaar”.

Voorbeelde hiervan is “geweld teen lesbiese, gay, biseksuele, transgeslag- en intergeslagsmense… xenofobiese geweld teen vreemdelinge, asook die ‘Reitz-vier’-insident aan die Universiteit van die Vrystaat”. Nog ‘n voorbeeld van “haatmisdaad” wat Radebe in sy toespraak noem, is “vandalisme jeens godsdienstige instellings soos die skending van grafstene in die Bloemfonteinse Joodse Begrafplaas met anti-Semitiese graffiti in 2010”.

Radebe het te velde getrek teen spotprente wat in die dertigerjare in Afrikaanse koerante verskyn het en gemeen dat sulke sportprente nie vandag toegelaat sou word nie. Veral die spotprente van Daniël Boonzaier word deur die minister vir kritiek uitgesonder en hy sê:

Die Hoggenheimer-figuur, ‘n Joodse spotprent wat pro-Afrikaner-spotprentkringe in die vroeë 1940s oorheers het, het ‘n vraatsige Jood gekarikaturiseer wat daarop uit was om winste ten alle koste te vergroot. Hy is onmiddellik herkenbaar in ‘n swart aandbaadjie, ‘n streepbroek, ‘n vetsugtige kalant wie se lyf met ‘n goue ketting omgord was. Hy ooreet homself by ‘n tafel vol kos en drink duur wyn en rook ‘n sigaar wat nooit doodgaan nie. Boonzaier, die spotprenttekenaar, het die gevoel dat Jode handels- en nywerheidsmededingers was wat vreemde kapitaal verteenwoordig, uitgebuit.

DIe minister se volledige Engelse toespraak is hier te vinde.

Volgens die ministeriële woordvoerder, adv. Mthunzi Mhaga,. sal die nuwe beleid oor haatspraak en haatmisdaad binnekort in ‘n wetsontwerp voor die parlement dien. Op ‘n navraag van praag oor hoe ver die proses al gevorder is, het hy gesê dat hy nie oor die presiese datum beskik nie, maar by amptenare van die departement navraag sal doen.

Tot dusver het praag nog nie verdere toeligting van mnr. Mhaga ontvang nie.

Tydens sy toespraak, het minister Jeff Radebe egter gesê dat “konsepbeleid oor die Raamwerk vir die bestryding van haatmisdade, haatspraak en onbillike diskriminasie” reeds deur sy departement “gefinaliseer” is. Daar is “intense navorsing” gedoen oor “die ontwikkeling van wetgewing wat:

  • die begrip haatmisdaad binne die Suid-Afrikaanse strafreg sal instel;
  • die begrip haatspraak op so ‘n wyse sal verfyn dat dit Suid-Afrika se verbintenis tot hoë standaarde van spraakvryheid sal weerspieël terwyl haatspraak bestry word;
  • haatspraak tot ‘n misdaad sal verklaar;
  • moontlik ander vorme van onbillike diskriminasie tot misdade sal verklaar; en;
  • die ontwikkeling van maatreëls om haatmisdaad, haatspraak en onbillike diskriminasie te bestry.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.