Jackie Selebi vry en doen inkopies in Pretoria

Deel op
Jackie Selebi in die hof
Jackie Selebi in die hof

Die voormalige polisiehoof en veroordeelde misdadiger Jackie Selebi, wat in 2012 op mediese parool vrygelaat is weens sy ernstige siektetoestand, is afgeneem waar hy in Pretoria inkopies doen, berig Beeld Maandag.

Hy is in sy luukse BMW-6-reeks deur ‘n chauffeur na ‘n winkelsentrum in Monumentpark toe aangery om die Sondagkoerante te gaan koop.

Selebi het met ‘n paar inkopiegangers gepraat alvorens hy sy koerant gekoop het.

Hy het sonder enige hulp geloop en, volgens Beeld, het hy heel gesond gelyk.

Toe verslaggewers hom ‘n paar ure later bel om oor sy gesondheid uit te vra, het hy gesê hy voel bietjie beter en hoop dat sy toestand verder sal verbeter.

Selebi sê dat sy siekte hom tuis laat bly en hom nie toelaat om te bestuur nie.

DIe mediese paroolraad het op 20 Julie 2012 besluit dat Selebi vrygelaat kon word aangesien hy aan onomkeerbare nierversaking, hoë bloeddruk en suikersiekte ly.

Sy skielike verval in swak gesondheid het onafhanklike dokters verbaas, wat gesê het dat nierversaking normaalweg ‘n siekte is wat stadig vererger.

Ten tye van sy vrylating op mediese parool, het die minister van korrektiewe dienste, Sibusiso Ndebele, gesê dat Selebi huis toe gestuur word omdat sy departement oor beperkte middele beskik om na terminaal ongestelde pasiënte om te sien.

Selebi is op 3 Augustus 2010 tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy omkoopgeld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti aanvaar het.

Toe sy laaste appèl in Desember 2011 van die hand gewys word, het hy by sy huis inmekaar gesak.

Die gemaklike manier waarop Selebi mediese parool ontvang het, staan in kontras met die aansoeke van Clive Derby-Lewis om parool. Die voormalige LV van die Konserwatiewe Party, wat reeds 20 jaar gevangenisstraf uitgedien het, is reeds vir sowel mediese as gewone parool deur amptenare van die departement van korrektiewe dienste aanbeveel. Sy vrylating word egter deur dieselfde minister wat Selebi vrygelaat het, teruggehou.

– Sapa en praag

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.