Die oorlog is nog lank nie verby nie

Deel op

Dan Roodtdeur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

So pas het ek twee YouTube-video’s gekyk. Die eerste is ‘n musiekvideo van Bok van Blerk wat omtrent ewe patrioties as die De la Rey-video is, Die Kaplyn.

Die titel van die tweede video, veel langer, het by my taamlik verwagting geskep: Betrayed. Ek het gehoop dat dit oplaas vir mense perspektief sou gee oor die grensoorlog en veral dan die verraad wat FW de Klerk en Roelf Meyer teen die soldate gepleeg het. In die laaste paar minute is daar wel sprake van ‘n soort misnoeë met die oorgawe aan… nie net die ANC nie, maar ook SWAPO. Dog werklike ontleding, begrip, bestekopname? Nee, daarvan was daar min sprake. Maar kyk dit gerus, al is dit net om te besef aan watter gevaar ons troepe destyds blootgestel was, ter wille van hartelose politici wat net planloos voortgeploeter het.

Weliswaar het Rusland intussen verander en bedreig ons nie meer soos in die dae van die Angolese oorlog nie, maar al ons ander vyande is nog steeds op hul pos, met sommige sterker en aggressiewer as ooit. ‘n Afgetrede kolonel in die weermag is lief om te sê: “Die oorlog is nog steeds aan die gang. Die kaplyn het net van die grens tussen Angola en Namibië na rondom jou bed verskuif .”

Dis humor, maar wrang. Hoeveel van ons mense word nie deesdae op hul plase, in hul huise en selfs in hul slaapkamers aangeval en doodgemaak nie? Daarom steek daar ‘n groot stuk waarheid in sy stelling. Soos ek al voorheen gesê het, heers daar tans ‘n konflik in Suid-Afrika wat die Pentagon se definisie van lae-intensiteitsoorlog volmaak pas:

… a political-military confrontation between contending states or groups below conventional war and above the routine, peaceful competition among states. It frequently involves protracted struggles of competing principles and ideologies. Low-intensity conflict ranges from subversion to the use of the armed forces. It is waged by a combination of means, employing political, economic, informational, and military instruments. Low-intensity conflicts are often localized, generally in the Third World, but contain regional and global security implications.

Kom ons kyk kortliks hoe hierdie definisie van lae-intensiteitskonflik by die huidige Suid-Afrika pas. Dit druis teen my literêre beginsels in, maar kom ons nommer aspekte van die huidige konflik.

  1. Toegegee, ons word nie letterlik deur ‘n ander staat vanuit die lug met bomme bestook nie, maar vir seker is daar “groepe” in hierdie land wat kwalik hul vyandigheid jeens ons bedek. Luidens bogaande definisie, is hul vyandigheid benede konvensionele oorlog maar bokant roetine-mededinging.
  2. Dit ly geen twyfel dat daar by ons ‘n uitgerekte stryd tussen mededingende beginsels en ideologieë heers nie. Die soort aangepaste kommunisme wat die ANC en SAKP tans aanhang, staan in stryd met die Afrikaner se ekonomiese konserwatisme en Christelikheid.
  3. Ondermyning en die gebruik van gewapende magte. Is plaasmoordenaars wat dikwels in groepe van vier of vyf ons mense aanval, “gewapende magte” of nie? Wie lei hulle op? Wie verskaf aan hulle wapens, waaronder ook outomatiese wapens? Dit is alles tergende vrae wat niemand nog na behore beantwoord het nie. Ondermyning is ‘n wye begrip, maar as ons sien hoe ons deur staats- en privaatagente gedurig gemanipuleer word, hoe daar van buite af konstant onmin en verdeeldheid tussen Afrikaners – selfs op sosiale media – gesaai word, dan is dit tog helder dat ons deur vyandelike groepe ondermyn word?
  4. Kombinasie van gevegsmiddele, waaronder politieke, ekonomiese, inligtings- en militêre instrumente. ‘n Mens sou dink, noudat die ANC en die SA Kommunisteparty totale beheer oor die staat, die SAUK en groot dele van die ekonomie uitoefen, sou hulle “tevrede” wees. Inteendeel, die propaganda- en inligtingsoorlog teen Afrikaners was nog nooit so intens soos tans nie. Daar word ook van politiek en wetgewing gebruikgemaak om ons meedoënloos af te takel. Lyk my die einddoelwit is om die laaste Afrikaner in ‘n plakkerskamp te kry, landuit te verdryf of, les bes, dood te maak.

Na bewering het die Duitse regering en die Nazi-party in ‘n kasteel buite Berlyn byeengekom om die “eindoplossing” teen die Jode te bespreek en in werking te stel. Daar is ‘n dokument wat as die Wannsee-protokol bekendstaan en wat die notule van dié vergadering bevat. Ek weet nie waar en wanneer die Afrikaner se vyande, sowel in ons land as daarbuite, bymekaargekom het om hul eie Wannsee-vergadering te hou nie. Dalk was dit in ‘n luuksehotel in die buiteland of miskien was dit ‘n geheime kabinetsvergadering waar Pieter Mulder toevallig nie teenwoordig was nie. Maar dat ons vyande planmatig te werk gaan, is helder.

Vandaar dus hierdie lae-intensiteitskonflik wat dag na dag, maand na maand, jaar na jaar, teen ons woed. Elke moontlike vastrapplekkie – ek praat nie eens van magsbasis nie, want dit het ons lank nie meer nie – waaroor die Afrikaner beskik, moet stelselmatig onder hom weggekalwe word. Sy grond, sy universiteite, sy maatskappye, sy skole, sy kerke, selfs sy effens groter kultuurverenigings soos die ATKV. Maar ook: die wese van sy identiteit en sin vir wie hy is.

Verby is die dae van “versoening”, wat in elk geval ‘n slenter was om ons, naïef, vredeliewend en goedgelowig soos ons is, gerus te stel. Terwyl die weermag, polisie en inligtingsdienste stelselmatig “getransformeer” word. En noudat feitlik alle magsinstrumente in die hande van die vyand is, word daar tande gewys…

Die Verenigde Nasies praat van identiteitsoorlog om konflikte soos dié tussen die Israeli’s en die Palestyne of tussen die Toetsi’s en Hoetoes van Rwanda te omskryf. Wat anders is hier by ons aan die gang as ‘n identiteitsoorlog?

Soms wil dit vir my voorkom asof ons al 200 jaar lank in dié oorlog betrokke is, of selfs 400 jaar as ons die vroeë oorloë tussen Engeland en Nederland hierby inreken. Immers is die oudste gebou in ons land, die Kasteel, deur Jan van Riebeeck en daaropvolgende goewerneurs opgerig om ons teen Engelse skepe te beskerm! Die oorloë teen die Xhosas in die laat aqtiende  en negentiende eeue het ‘n honderd jaar geduur, van 1779 tot 1879. Gedurende daardie oorlog het die Fingo-stam aan die kant van die blankes teen die amaXhosa geveg. Hulle het uiteindelik die Ciskei as tuisland ontvang. Die laaste leier van die Ciskei, Oupa Gqozo, het sy matriek in Afrikaans afgelê.

Wat was die eerste ding wat Ronnie Kasrils gedoen het toe hy weer terug in die land is? Hy het na die Ciskei toe opgeruk om van Oupa Gdozo ontslae te raak en sodoende ‘n moontlike swart bondgenoot van die destydse Afrikanerregering te neutraliseer.

Met leiers soos FW de Klerk en Roelf Meyer was dit natuurlik nie nodig om enigiemand te neutraliseer nie. Hulle het sommer vanself besluit dat volslae oorgawe beter as enige verdere bakleiery gaan wees en sodoende ‘n streep deur 400 jaar se geskiedenis getrek. Oor die afgelope tien jaar en meer het elke denkende Afrikaner wat daar nog oor is hom of haar al teen die groteske verraad van 1994 uitgespreek.

Ons vyande sien dit egter glad nie as verraad nie. Hulle sien dit as hul logiese oorwinning oor ons. Trouens, ek hoor elke dag mense op Twitter en elders wat sê dat ons “dankbaar moet wees dat ons nie almal doodgemaak is nie”. Ons moet bly wees ons lewe nog, want die magtige ANC-SAKP-COSATU-alliansie het ons militêr, sielkundig en ideologies verslaan.

Die meeste Afrikaners beskou dit egter as verraad, dat daar onder voorwendsel van “onderhandeling” eintlik oorgawe plaasgevind het. Ons vyande het soveel minagting vir ons vermoëns dat hulle die oorgawe as onvermydelik en vooraf bestem sien. Waarskynlik is die waarheid iewers tussenin: nóg verraad, nóg neerlaag kan die komplekse wyse waarop ons onderwerp is, verklaar.

Want, synde ‘n lae-intensiteitskonflik (LIK), het die oorlog soveel fasette. In weerwil van sy enorme middele, waaronder die ambassades, inligtingsdienste, die SAUK, simpatieke mediagroepe, ens., het die ou regering die propaganda-oorlog loshande verloor. ‘n Mens hoef nie ‘n briljante veggeneraal te wees om dit te weet nie: as jou troepe geestelik, ideologies of met propaganda oorwin word, is hulle verslaan.

Die Chinese wysgeer Soen Tsoe het gesê:

Want om ‘n honderd oowinnings in ‘n honderd veldslae te behaal, is nie die toppunt van vaardigheid nie.  Om die vyand te onderwerp sonder om te veg, is die toppunt van vaardigheid.

Is dit nie wat Joe Slovo, Ronny Kasrils en hul paar swart luitenante soos Mandela of Cyril Ramaphosa reggekry het nie? Om ons te onderwerp sonder om te veg?

Dis nie so sleg om te verloor nie. Duitsland het twee wêreldoorloë verloor en verteenwoordig vandag die grootste ekonomie in Europa. Wat dié land op die slagveld verloor het, het hy deur harde werk in vredestyd weer ingepalm.

Die Afrikaner sal moet besef dat sy stryd nog lank nie verby is nie. De Klerk en die vorige NP-regering het met menselewens gespeel. Hulle het ons Afrikanerseuns gestuur om op die slagveld te sterf sodat hulle “bietjie tyd kon koop voor hulle oorgee”. Waarom dan hoegenaamd weerstand bied? vra ek.

Oor die afgelope twintig jaar het jaarliks veel meer Afrikaners in hierdie oorlog – ons gewelddadige “vrede” – gesterf as wat alstesaam in byna dertig jaar van grensoorlog omgekom het. Om nie te praat van al die ander verliese wat ons aanhou om op soveel gebiede te ly nie.

Iewers sal ons die streep moet trek. Al is dit in die kombuis. Sodat ons en ons geliefdes nie meer in ons beddens hoef te sterf nie.

Die oomblik wat ons besluit het dat ons wel in die land wil oorbly, dat ons wel wil oorleef, is daar ‘n duisend en een dinge wat ons kan begin doen om te hergroepeer en weerstand te bied.

Pallo Jordan van die ANC het ‘n dekade of wat gelede smalend gesê dat die ANC maar kan maak wat hy wil, want “by die vyand is die wil om weerstand te bied eenvoudig nie teenwoordig nie”.

Dit mag waar wees, dat ons ons wil om weerstand te bied, verloor het. Dit maak my trouens mismoedig as ek altyd net argumente hoor oor hoe ons “alles moet aanvaar, want danksy De Klerk se oorgawe is daar niks aan te doen nie”.

Dog plek-plek is daar nog rebelle onder die Afrikaners. Ons is nog in staat om te rebelleer.

En soos ons grootste Afrikanerdigter, N.P. van Wyk Louw, gesê het:

Opstand in ‘n volk is net so noodsaaklik soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie. Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby sal gaan sonder protes.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.