Einde van model-C-skole? Grondwethof plaas staat in beheer

Deel op

rivonia_primaryDie onderwysdepartement het die mag om ‘n skool se toelatingsbeleid te bepaal, het die Grondwethof Donderdag bevind.

Dit het gedeeltelik die appèl van die onderwysdepartement gestand gedoen teen die uitspraak van die Appèlhof en bevind dat die onderwysdepartement in Gauteng oor die mag beskik om ‘n leerling tot Rivonia Primary School toe te laat ongeag die skool se toelatingsbeleid.

Die saak het voor die Grondwethof gedien nadat ‘n graadeen-leerling ‘n plek by dié Johannesburgse skool vir die 2011- skooljaar geweier en op ;’n waglys geplaas is.

Die kind se ma het by die owerheid gekla en die hoof van die departement in Gauteng het beveel dat die kind toegelaat word.

Die skool het ‘n aansoek in die Hoë Hof in Johannesburg gebring ten einde ‘n uitspraak te verkry dat die skool oor die magte beskik om toelatingsbeleid te stel en om leerlinge kragtens daardie beleid toe te laat. Die hof het die aansoek van die hand gewys.

Die skool het daarna die Appèlhof genader, wat bevind het dat die departement nie oor die mag beskik om ‘n skool se toelatingsbeleid te bepaal nie. Die saak is daarna na die Grondwethof geneem.

Donderdag het die hof in ‘n meerderheidsbesluit bevind dat die hoof van die onderwysdepartement oor die mag beskik om die leerling toe te laat.

Die Grondwethof het verlof tot appèl toegestaan en het die Appèlhof se bevel tersyde gestel en vervang.

“Dit word verklaar dat die hoof van die onderwysdepartement in die provinsie Gauteng oor die mag beskik om ‘n opdrag aan die hoof van Rivonia Primary School uit te vaardig om ‘n leerling buite die perk van sy toelatingsbeleid toe te laat.”

Die hof het egter bevind dat die departement in die uitoefening van sy mag om ‘n hoof van ‘n openbare skool te beveel om ‘n leerling te aanvaar, van ‘n billike prosedure gebruik moet maak.

“Dit word verklaar dat die hoof van die departement van onderwys in die provinsie Gauteng nie van ‘n billike prosedure gebruik gemaak het toe dit ‘n opdrag aan die hoof van Rivonia Primary School uitgevaardig het om ‘n leerder toe te laat en toe dit die leerder in die skool geplaas het nie.”

In ‘n verduidelikende verklaring ná die uitspraak, het die hof gesê dat ‘n skoolbeheerliggaam se mag om die kapasiteit van die skool as deel van sy toelatingsbeleid te bepaal aan ander bepalings van die Skolewet onderworpe is, waaronder die departement wat “uiteindelike beheer oor die toepassing van toelatingsbesluite behou”.

Verder verskaf provinsiale regulasies die mag aan die hoof van die departement om ‘n skoolhoof se verwerping van ‘n leerling se toelatingsaansoek om te keer. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.