Jonathan Jansen moet weens sy Afrikaansvyandigheid as rektor bedank

Deel op

deur Dan Roodt

NUUT!

MEDIAVRYSTELLING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 2 OKTOBER 2013

Die lesing wat prof. Jonathan Jansen voor ‘n gehoor van die English Academy of South Africa gelewer het en waarin hy die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal bepleit, verteenwoordig ‘n skandalige miskenning van Afrikaans en universele taalregte. Daar is geen plek vir Jansen aan ‘n Afrikaanse universiteit soos dié van die Vrystaat nie en daarom behoort hy onverwyld sy bedanking as rektor in te dien.

Jansen is ‘n epigoon van Amerikaanse politieke korrektheid en sy vervelige, middelmatige sienings word tot vervelens toe deur die media uitgedra. Hy het nog nie agtergekom dat die Republiek van Suid-Afrika nie die Verenigde State van Amerika is nie; boonop verskil ons land se problematiek grondig van daardie land s’n.

Engels is maar die vierde mees gesproke taal in Suid-Afrika. Minder as 10% van die land se inwoners praat dit tuis, net effens meer as Sepedi. Boonop is die variant van Engels wat in Suid-Afrika gebesig word, gedeeltelik verkreoliseer en armoedig. Dat dié boewetaaltjie wat vir “Engels” moet deurgaan nou tot Suid-Afrika se enigste onderrigmedium verhef moet word, is nie net vergesog nie, maar sou ‘n rampspoedige uitwerking op onderwys hê.

Terwyl opvoedkundiges reeds dekades lank die saak vir moedertaalonderrig bepleit, is Brits-koloniale troglodiete soos Jansen besig om téén alle logika in die saak vir “slegs Engels” en “Engels is beter” te stel.

Dat die Engelse Akademie van Suid-Afrika boonop ‘n platform vir dié tipe chauvinistiese en platvloerse denke bied, spreek insgelyks boekdele. Historici het al die onverkwiklike anti-Afrikaanse rol van dié “akademie” uitgewys wat in die sewentigerjare kinders in Soweto teen Afrikaans opgesweep het, iets wat op die Soweto-onluste uitgeloop het. Kennelik is dié liggaam met sy eie klein Milner-filosofie besig en gebruik die ‘swart” Jansen om sy koloniale vuilwerk vir hom te doen.

Sowel die Engelse Akademie as Jansen se stompsinnige pleidooi vir ‘n Engelse monokultuur in Suid-Afrika moet verwerp word met die minagting wat dit verdien. Sedert die negentigerjare is die idee van taalregte internasionaal gevestig en daarom kan sowel Afrikaans as ander inheemse tale aanspraak maak op gelyke behandeling teenoor die koloniale taal, Engels.

Jansen is kwaadwilliglik besig om die onregmatige opperstatus wat Engels tans in ons land geniet, te misbruik om Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat wesentlik te benadeel. Hy het reeds oor en oor bewys dat hy ‘n Afrikaner- en Afrikaanshater van die eerste water is.

Daarom moet hy onverwyld sy bedanking indien sodat ‘n meer bekwame persoon die leisels as rektor van die Vrystaatse Universiteit kan oorneem. Die Afrikanerverraaiers wat hom daar aangestel het, verdien om gestraf te word.

Terselfdertyd moet die Engelse Akademie van Suid-Afrika verantwoording doen vir sy terugkeer tot koloniale sienings wat tot die Milner-tydvak behoort en wat nie in ‘n moderne Suid-Afrika tuishoort nie.

PRAAG sal in ‘n aparte skrywe antwoorde van die Engelse Akademie verlang sover dit die chauvinistiese en inderdaad xenofobiese menings betref wat Jansen namens dié instelling uitspreek. Vir seker sal ons ook met die Engelse Akademie op Afrikaans kommunikeer en ‘n flink antwoord van die spul Milneriaanse zombies verlang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.