Myneed

Deel op

myneedDie waarheid, net die waarheid en niks anders as die waarheid nie

Ek praat onlangs met ’n sittende regter wat my pad kruis oor die aard en wese van reg en die uitvoering daarvan in Suid-Afrika. Om die ys te breek, vra ek hom hoekom ons nog voor God sweer om die waarheid te praat (los nou maar eers die plegtige bevestigingsopsie) as Hy nie meer in die Grondwet bestaan nie.

Sou dit nie meer prakties wees of te sweer by die heilige kleed van die Regter-president van die Grondwethof nie? Ons nuwe bedeling het mos die Grondwethof verhef as die oppergesag in die land oor alles. Aanvanklik was dit net vertikaal tussen die Staat en sy onderdane van toepassing maar nou hoor ek ook tussen landsburgers.

Myneed bestaan nog op die wetboeke maar word selde gebruik, gee hy toe. (Hy het eintlik bedoel nog nooit weer sedert ‘94 nie). Mense word nie meer gestraf en tronk toe gestuur as hulle onder eed in die hof lieg en uitgevang word nie.

Met die koms van ons ander howe soos die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, het ek reeds gesien die ou wat die beste lieg oor ’n saak, wen. Vra maar vir enige werkgewer wat al daar was en tot sy skok moes verneem hy as werkgewer is skuldig aan in onbillike arbeidspraktyk tot hy die teendeel bewys. Terloops, dis tot nou toe SARS en al die arbeidswette wat maak dat jy skuldig geag word en jou onskuld moet bewys.

Dit slaan nou al so mooi deur, dat selfs regeringskommissies wat die waarheid moet najaag, ‘n gelieg van algar verdra wat die beter weergawe voorhou. Self in die Parlement word Ministers wat goed gelieg het en uitgevang word, geloof en ondersteun.

Dus word ons howe en instellings net bloot ’n plek vir lekker lieg.

Die regter sê toe mos ek oordryf. Gelukkig was ek nie onder eed van die heilige kleed nie.

Groete,

Sagmoedige Lukas

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.