
‘n Multimiljardrandse kontrak is deur Krygkor aan die wapenvervaardiger Denel toegeken vir die bou van 200 gepantserde militêre voertuie.
Dit sal die Ratel vervang wat nou al 30 jaar oud is. Die weermag het nie soos die vloot en lugmag gebaat by die omstrede wapentransaksie nie.
Die Hoefysterprogram is daarop gemik om 8-wiel voertuie in die 25 ton-klas te vervaardig. Die voertuig, is soos sy voorganger, uiters rats en taai en kan 12 man dra.
Die twee partye sê die 8×8 Badger is die beste voertuig in sy soort en sal bydra tot die modernisasie van die Nasionale Weermag.
BAE Systems Land Systems SA het voorgestel dat die Badger laat vaar word ten gunste van die nuwe generasie RG4. Die RG41 voldoen aan mobiliteits-, beskermings- en vuurkragbehoeftes, en die nodige gevegskrag, sê kritici.
Die maatskappy in Benoni het honderde RG31 voertuie vir die Amerikaanse gewapende magte gebou en honderde miljoene dollars daaruit verdien.
Terwyl die RG31 voertuig gewild is by die Amerikaanse departement van verdediging, voldoen die BAE RG41 voertuig nie aan die Suid-Afrikaanse Weermag se spesifikasies nie. Die Suid-Afrikaanse voertuig gebruik ‘n Finse ontwerp wat aangepas is vir plaaslike toestande.
Krygkor en Denel sê Suid-Afrikaanse se troepe-ontplooiing in die Demokratiese Republiek van die Kongo het opnuut die klem geplaas op weerbare slagveldmobiliteit, wat die Badger sal kan verskaf.
Die uitvoerende hoof van Denel, Riaz Saloojee, sê dit is die grootste kontrak met ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy die afgelope tien jaar.