Twee jong mans is dood toe hul ligte vliegtuig in ’n veld langs ’n aanloopbaan in Klerksdorp in Noordwes neergestort het, het paramedici gesê.
Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, sê paramedici wat besig was om toerusting in ’n helikopter te laai, het gesien hoe die vlieënier van die vliegtuig Sondagoggend glo toertjies gedoen het.
Die paramedici het skielik ’n harde geluid gehoor net na 11:00 en besef dat die vliegtuig sowat 500 m van hulle af neergestort het.
Die twee jong mans, vermoedelik in hul 20’s, het reeds aan hul beserings beswyk voor die paramedici hul kon bereik.
Plaaslike owerhede is na die toneel ontbied om die ongeluk te ondersoek.